Bekendstelling: Volkswagen stel die nuwe maatstaf

Die nuwe Volkswagen Polo Comfortline (Foto: Volkswagen)

Volkswagen is al ʼn geruime tyd Suid-Afrika se markleier in die passasiersegment. Twee voertuie wat vir hulle dié spogreg wen, is die Polo en die Polo Vivo. Daar het in 2017 21 958 Polo’s en 27 220 Vivo’s verkoop. Dit is ʼn gemiddeld van 1 829 Polo’s en 2 268 Vivo’s per maand.

Dit is wel nie die hele prentjie nie. Die hele wêreld se regterhandstuur Polo’s word net hier in Suid-Afrika gebou. Ná ʼn belegging van R6.1 miljard en die installasie van nóg 300 robotte in VW se Uitenhage-aanleg, sal die linkerhandstuur Polo GTI in die toekoms ook hier gebou word.

VW Suid-Afrika is ou meesters van ʼn eenvoudige, trots Suid-Afrikaanse resep. Vat ʼn uiteenlopende model en stel dit onder ʼn opgekikkerde naam bekend teen ʼn beter prys as ʼn waardeproposisie. Die eerste voorbeeld hiervan wat ek kan onthou, was die rooi, geel en blou CITI’s van die laat tagtigerjare. Dit was Golf Mk 1’s, en toe die Mk 2 in Suid-Afrika bekendgestel is, het VWSA die Mk 1 onder die CITI-naam vrygestel. Dieselfde het gebeur toe Jetta 2 land, toe word Jetta 1 die Fox.

Spring na 2010 en VWSA stel die Polo Vivo bekend. Dieselfde resep is gevolg. Vereenvoudig, kry plaaslike verskaffers vir van die parte en stel die produk teen ʼn laer prys aan die mark bekend. Spring wéér na 2018, en soos wat VW die nuutste Polo bekendstel, sal ons oor ʼn paar weke ook die nuwe Polo Vivo sien.

Die Polo. Dit bly getrou aan die Polo-resep. Daar is eenvoudige lyne met ʼn nugter benadering. Nee – dit lyk nie soos ʼn konsepmotor uit 2080 nie, maar dit is nie veronderstel om so te wees nie.

Die binneruim is presies dit: lekker ruim, ergonomies uitgelê en van luukse materiale gemaak. Waar Polo wel aanbeweeg van sy ouer self, is dat die nuwe Polo op VW se MQB-platvorm gebou is. Dit beteken dat VW maklik baie luukse funksionaliteit kan oordra van modelle soos Passat, Jetta en Tiguan. Funksies soos kruisverkeerwaarskuwing, parkeerhulp, botsinghulp en dies meer. Dié Polo is ook die eerste VW in Suid-Afrika wat met die nuutste digitale skerm gespesifiseer kan word. Die skerm is heeltemal aanpasbaar om enige inligting in enige kombinasie vir jou te wys, nes jy dit wil hê. Die Golf se vermaakstelsels word ook met MQB oorgedra, so gesture control & app-connect is nou in die Polo beskikbaar.

Die sesde generasie Polo is so te sê presies so groot as wat die Golf 3 was. Dit is destyds as ʼn ruim gesinsluikrug geag. Die ritgehalte in die Polo is indrukwekkend. Ons het op die bekendstellingsroete ʼn growwe stuk teer teëgekom, en die Polo absorbeer dit sonder ʼn probleem. Die padhouvermoë is ewe indrukwekkend tot so ʼn mate dat mens kan sê dit het sportiewe karaktereienskappe.

Die nuwe 1.0 TSI-enjin is ʼn juweel van ʼn een liter, driesilinderturbopetrolenjin. Daar is twee verskillende weergawes, ʼn 70 kW/175 Nm-weergawe en ʼn 85 kW/200 Nm-weergawe. Beide enjins is as ʼn 5-spoed-handrat of 7-spoed-DSG beskikbaar. Die DSG is uiters bekwaam, soos altyd – maar dit is die 5-spoed-handrat wat beïndruk. Lekker lang ratverhoudings beteken as jy jou voet in die mat begrawe en die Polo tot 190 km/h stoot, loop die toereteller net bo 4 000 r/min. Dit is puik, én dit was die 70 kW-weergawe – so moontlik is die 85 kW-weergawe se bene nog ʼn bietjie langer. Ons het nie stadig gery op die toetsroete nie, en die brandstofverbruiksyfer het ʼn billike 6.4 ℓ/100 km gewys ná die 300 km. Daai brandstofverbruik – teen die kus en as mens nêrens stadiger as 120 km/h gery het nie – is voorwaar ʼn prestasie.

Die Polo is beskikbaar in Trendline, Comfortline, Highline, Beats en R-Line. Nie een van die modelle stel teleur nie, so daar is ʼn Polo wat jou sak en persoonlikheid sal pas. Dit is baie maklik om die Polo op te som. Dit is luuks, betroubaar, netjies, lig op brandstof, heeltemal vinnig genoeg en regtig gemaklik. VW gaan dié Polo soos soetkoek verkoop.

Die reeks lyk só:

Polo 1.0 TSI 70 kW TrendlineR235 900
Polo 1.0 TSI 70 kW ComfortlineR264 700
Polo 1.0 TSI 70 kW Comfortline DSGR280 700
Polo 1.0 TSI 85 kW HighlineR286 200
Polo 1.0 TSI 85 kW Highline DSGR302 200

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/45 000 km-diensplan en 3 jaar/120 000 km-waarborg.

Ons sal die Polo met ons deeglike padtoets met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Koos1 ·

Die nuwe Polo Vivo gaan moet uithaal en wys on die nuwe Ford Figo te klop. Het so ‘ n maand met die 1.5 petrol sedan intree vlak gery, en mense dit is ‘n briljante kar. Ek het hom vergelyk die nuwe Fiesta (‘n kolega s’n), die vorige Polo Vivo en die vorige Focus. Die Figo kom elke slag bo uit.

Piet Pompies ·

Baie mooi berig, skrywer ken sy onderwerp en inligting is korrek. Ons is self in die mark vir ‘n nuwe voertuig en het besluit op een van twee modelle
Nuwe Polo Vivo 1. 6 wat binnekort bekend gestel gaan word of die nuwe Polo wat besig is om bekend gestel te word. Tyd sal ons leer.

Danie Swart ·

Ek ry die 1.2 TSI Highline (2016) en het dit nou 16 maande en het reeds amper 52 000 00 km op, sonder eneige probleeme. Uitstekende pad hou vermoe, rats, gerieflik en uitstekende petrol verbruik. Ek kry tussen Port Elizabeth / Uitenhage n gemiddele van 23 km p/litre. en in stad/ dorp verkeer ongeveer 16/17 km p/litre. Neem in ag ek is meeste van tyd haastig. Hou van `n kar wat kan preform wanner nodig. Het al 32 karre gehad vanaf 1979 to hede en vesrskillende produkte, meeste VW produkte en ek is in wolke met gehalte, uit hou vermoe. Kyk maar gerus na die “stock cars” en town ships. Hulle verkies VW produkte omdat dit die uiterse omstandighede kan hanteer. Die engins is `n kannie dood. Parte is volop en goedkoop as jy vergelyk met ander frabikate. Moenie om die neus gely word deur goedkoper fabrikate nie. Doen gerus jou huiswerk en vind pryse uit van bakwerk en magaaniese parte. Dan ook die beskikbaarheid en wag periode. Kyk ook na die kostes van dienste op verskillende km`s. Kontake my gerus sodat ek jou kan vat vir `n avontuur rut. Jy betaal die petrol en ons ry, dan sal jy verstaan hoekom daar nie vergelyke is nie. Vergelyk appels met appels. Kyk ook na die bak werk waarborg en die herverkoop waarde. Dit beteken as jy VW koop doen jy `n belegging as jy dit goed instand hou en oppas.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.