Slaggate is nie noodwendig iets wat jy met ’n plat kar wil trotseer nie. Daar was dus huiwering om die pad na Dullstroom met BMW se sportiewe 330is aan te durf.
Die bekoorlike dorpie Dullstroom is bekend vir sy asemrowende landskap met foreldamme, groen heuwels en al vier seisoene in een dag. Wanneer ’n digte miskombers die dorp toevou, gee dit ’n sprokiesagtige gevoel aan dié klein dorpie in Mpumalanga. Die spesialiswinkeltjies en talle aktiwiteite maak Dullstroom ’n gewilde naweekbestemming vir diegene wat uit die stad wil vlug.
Paaie na dié dorp en die omgewing is egter die ene slaggate. Ons val egter in die pad van Pretoria af met BMW se nuwe 3-reeksvariant, die 330is Edition. Met sy lae-profiel-bande was die rit verbasend sag en glad en by tye vergeet jy dat jy besig is om ’n motor te bestuur en voel dit of jy net heerlik agteroor sit.
Die sportiewe binneruim, wat unieke deurdrempels met 330is-kentekens en swart leersitplekke met dekoratiewe stiksel insluit, is ook pure luuksheid. Die leerstuurwiel, binne-beligting, grys antrasiet-kleurige dakvoering, glassondak en Harman Kardon-klankstelsel voltooi die pakket. Daar is baie plek in die kattebak en hope beenspasie vir die passasiers.
Dit is ’n uiters gemaklike rit en dit was heel maklik om vir die slaggate uit te swaai met die 330is se vinnige stuurreaksie. Die M Sport-remme met sy blou 4-suier-remknypers voor verseker ook dat jy betyds kan rem aanslaan as nog ’n slaggat onverwags opduik.
Van 0-100 km/h in 5,8 sekondes en ’n kraglewering van 190 kW is dit maklik om sonder dat jy dit besef baie vinnig te ry. Die nuwe generasie BMW 2.0-viersilinder- TwinPower turbo-petrolenjin gaan met ’n agtspoed- outomatiese ratkas gepaard.
Volgens BMW bring die 330is Edition hulde aan sy ikoniese E30 325is. Dit was te danke aan BMW Suid-Afrika wat ʼn homologasie-weergawe van hul renmotors moes vervaardig. Ons het nie die E30 M3 gekry nie, maar dit het nie die bekwame kundiges in Rosslyn gestuit nie. Net 230 van die 330is Edition is in Suid-Afrika beskikbaar gemaak. Elke motor het ’n unieke kattebakkenteken. Hy is beskikbaar in vier kleure: Glacier Silver, Melbourne Red, Alpine White en Black Sapphire.
Die reeks lyk só:
BMW 318i | 115 kW/250 Nm | 6,3 ℓ/100 km | R697 524 |
BMW 320i | 135 kW/300 Nm | 6,3 ℓ/100 km | R731 762 |
BMW 320d | 140 kW/400 Nm | 4,6 ℓ/100 km | R774 816 |
BMW 330i | 190 kW/400 Nm | 6,4 ℓ/100 km | R776 876 |
BMW 330d | 195 kW/580 Nm | 5,5 ℓ/100 km | R873 400 |
BMW 330iS Edition | 190 kW/400 Nm | 6,4 ℓ/100 km | R899 000 |
BMW M340i xDrive | 285 kW/500 Nm | 7,7 ℓ/100 km | R1 139 216 |
Die kompetisie lyk só:
Mercedes-Benz C300 AMG Line | 190 kW/370 Nm | 6,9 ℓ/100 km | 2 jaar onbeperkte km-waarborg 5 jaar/- 100 000 km- omvattende instandhoudingsplan | R892 200 |
Die BMW het slegs een direkte mededinger in die segment. Die BMW se padhouvermoë is wel baie skerper as die van die C-klas.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
2 Kommentare
Die opskrif kort twee woorde “en duur”. Maar hy sal verkoop, dis net dat ek nie ‘n koper kan wees nie. Die kar en my huisverband is omtrent gelykstaande.
Is iets mooi vir die oog.!