Beste motor op aarde

Elke persoon het ʼn gunstelinghandelsmerk en myne is Porsche. ʼn Porsche 911 om spesifiek te wees. My droom het verlede jaar waar geword toe ek ʼn Porsche 991.2 GT3 RS en GT2 RS gery het. Die GT2 RS is beslis die vinnigste motor wat ek nog ooit gery het, en die GT3 RS die beste… tot nou.

Porsche het pas sy splinternuwe 992-generasie 911 GT3 aan die media bekendgestel. Porsche se benadering as dit by sy GT3-reeks kom, is evolusie eerder as rewolusie. Elke klein dingetjie is ietwat verfyn of opgeknap – ’n nanometer op ʼn slag.

Die GT3 is op Porsche se 911 geskoei. Hy word vir die motorsportafdeling in Stuttgart gegee en Andreas Preuninger en sy ingenieurs toor met die goed. Daar word ʼn atmosferiese 4.0‑boksersessilinderenjin agterin vasgebout en vir die eerste keer in ʼn lang ruk is daar ʼn opsie van twee ratkaste – ’n 6-spoed‑handrat of ’n 7-spoed‑PDK‑dubbelkoppelaarouto.

Die resultate is verstommend. Die 4.0 se toere-rooilyn is op ʼn stratosferiese 9 000 r/min. Die individuele versnellerkleppe, gesmede suiers en titanium suierstange is almal bestanddele wat dié enjin se reaksies só vlymskerp maak dat dit voel asof die kar begin reageer nog voor jy die instruksie gegee het. Telepaties.

Dié GT3 het nuwe dubbel-mikvering voor en dit het tot gevolg dat dié GT3 hom heelwat beter as enige van sy voorgangers gedra met die stuur, al is dit elektronies, wat presies akkuraat is. Ons het die handrat- en PDK-modelle tydens die bekendstelling op die proef gestel. Albei is met die Clubsportpakket toegerus, wat koolstofvesel‑rensitplekke, ʼn rolstaaf en brandblusser insluit. Die twee modelle was ook met die opsionele koolstofkeramiekremme toegerus.

Wanneer die teer mooi was, was daar niks fout te vind nie. Op ʼn slegte teeroppervlak sou ek graag ʼn knoppie wou hê wat die stuur se sensitiwiteit minder maak want dié mannetjie kan besig raak!

As ek tussen die twee moet kies, is dit die handrat vir my. Dit is die betowerendste motor wat ek al ooit in my lewe gery het. Wanneer jy die versneller in die mat begrawe en die toere tot die 9 000 r/min‑rooilyn stoot en die perfekte ratwisseling handhaaf voordat die toere weer hul reistog na die rooilyn aanpak, slaan jou lyf in hoendervleis uit. Vir iemand wat brandstof in hul are het, is daar niks op hierdie aarde wat naby dit kom nie. Absoluut niks nie.

Die 911 GT3 bied 375 kW en 470 Nm. Van 0 – 100 km/h neem ʼn blitsige 3,4 sekondes, en hy sal aanhou draf tot ʼn fantastiese 320 km/h. Die GT3 is joune teen R3 109 000. Dit sluit ʼn drie jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
andre

Puik motor.Goed dat hulle n handrat keuse het .Die naaste wat n gewone man aan die tipe pret en presisie kan kom is seker die Civic Type R teen R800k , maar dis ook buite meeste se bereik . Halveer dit en jy kom by die Swift Sport handrat uit …so moet man jou drome afskaal

Red Pill

n Pragtige motor, motorfiets, vliegtuig en geweer is die mooiste mensgemaakte dinge op aarde.

Chris

Red Pill ek stem heelhartig met jou saam. Ek kan aan ‘n paar ander ietse anders ook dink wat mooi is. ‘n Mooi perd, bees en boot is ook items waaroor mens kan gesels. Ek het Audi se “lektriek karre” gesien. Dit is ook regtig mooi voertuie. Ek is natuurlik gaande oor die tegnologie wat in die motormark begin posvat het. Sal eendag wanneer ek groot is vir my ‘n lektriek karretjie wil koop. My oorlé broer het altyd gesê, “daar is net een triek en dis elektriek”