Bestelboeke oop vir Ineos se Grenadier

Die Ineos Grenadier-stasiewa

Ineos het pas die bestelboek vir sy veelbesproke Grenadier oopgemaak met die nuus dat aflewering reeds in Oktober verwag kan word.

Maroela Media het al deeglik oor die splinternuwe Ineos Grenadier berig en nou het bestellings uiteindelik begin. Die model wat vir bestelling beskikbaar is, is ʼn vyfsitplek-stasiewa en die prys begin by R1 416 985.

Die Ineos Grenadier-stasiewa

Die intreemodel is die Grenadier. Dit is ʼn skoon doek waarop jy jou perfekte Grenadier self kan saamstel. Die volgende model is die Trialmaster Edition. Dit is die mees geharde weergawe vir ernstige 4×4-vernuf. Dan is daar ook ʼn Fieldmaster Edition beskikbaar. Hy, soos die Trialmaster, kos ook R1 528 940. Hy is meer geskik vir oorlandreis as geharde 4×4-hindernisse.

Daar is twee enjins, albei BMW-eenhede, beskikbaar – een is ʼn sessilinderturbopetrol, die ander ʼn sessilinderturbodiesel. Die petrol bied 210 kW en 450 Nm, terwyl die diesel 183 kW en 550 Nm bied. Albei enjins maak gebruik van ʼn 8-spoed-ZF- outomatiese ratkas.

Die Trialmaster Edition het staalwiele en die opsie van twee pakkette. Die Rough Pack bied ewenaarslotte voor en agter, en BF Goodrich KO2-alleterreinbande. Die Smooth Pack bied funksies soos parkeerkameras en dies meer.

Die Fieldmaster Edition het sierwiele in plaas van staalwiele, en die Rough Pack is nie beskikbaar op dié model nie, maar die Smooth Pack is wel.

Om jou Ineos Grenadier saam te stel, klik hier. Jy kan by dieselfde skakel jou belangstelling in ʼn dubbelkajuit- Ineos Grenadier registreer. Die Ineos Grenadier is dié week in aksie by Nampo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

VaalDonkie ·

Ek wil net graag weet waarom hy R900 000 in die VK en Australie kos, maar ons moet R1.5m vir hom betaal.

Brendon Staniforth ·

Dagsê VaalDonkie

Baie dankie vir jou kommentaar. Dié een plaas ek absoluut voor ons regering se deur. Ongeveer 43% van alle ingevoerde voertuie se prys in Suid-Afrika is belasting. Of dit nou BTW, invoer óf ad valorem belasting. As ons 43% van die R1.5m afhaal – is dit R855 000. Omtrent reg.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

VaalDonkie ·

Dis jammer want dit is ‘n fantastiese kar. Ek sal graag eendag ‘n tweedehandse een wou he wat effe meer in my “budget” pas. Anders moet mens seker maar ‘n ouerige Landcruiser koop en hoop die oom het hom goed opgepas.

JohanR ·

Hier in SA mag jy as ‘n individu geen geluk he nie eers met ‘n lekker ruek NUWE motor nie, maar selfs die issie wat vir regerings amptenare koffie maak kry ‘n R700000 motor. Kan ons R30L petrol verwag by December? Die regering moet kan eet, od is dit vreet!

VaalDonkie ·

My kar is swaar op petrol. Op die lang pad kry ek so 10km/l en in die dorp so 7km/l. Maar dit help ook nie ek loop kry ‘n R3000 paaiment om R500 se petrol ‘n maand te spaar nie.

VaalDonkie ·

Nee, die ding is heel anders. Lyk net dieselfde. Ou Andrew St Pierre White is mal oor die ding en hy is vol fiemies.

JohanR ·

Lekker. Dis hoe Land Rover die ou Defender moes gemaak het voordat hulle hom net soe stop gesit het. Daar kom nog ‘n kort wielbasis Ineos en hy behoort lekker te wees,

Bernhard ·

Wat .n teleurstelling, ons het gehoop die nuwe vervaardiger se pryse gaan beter wees as die kompetisie, maar nee. Wie gaan nog die buitelewe kan bekostig ?

Manie ·

Ek wens daar is ‘n vervaardiger wat ‘n geen fieterjasie, eenvoudige en betroubare lae koste 4×4 met genoeg pakplek wil bou. Om in die bos rond te ry soek ek nie ‘n duur “fancy” ryding waaroor ek my oë sal uithuil as dit skrape optel nie.

VaalDonkie ·

Jy moet maar tweedehands gaan en ‘n Hilux koop. Dis die enigste manier. Of ‘n Isuzu Frontier of Nissan Sani en ‘n sleepwa as dit rerig moet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.