Betroubaarheid belangriker as net lekker

Die Land Rover Discovery. (Foto: Verskaf)

Elke motorjoernalis het ʼn skuldige plesiertjie. Daai motor waarna hulle smag, maar om een of ander rede net nie kan besit nie weens verskeie redes. Myne is ʼn Land Rover Discovery. Ek droom van ʼn Discovery 4 SDV6 HSE.

Kom ek verduidelik hoekom ek nie een kan besit nie. ʼn Kennis sê nou die dag: “My pa het altyd gesê as jy nie ʼn luukse motor nuut kan bekostig nie, kan jy nie bekostig om hom tweedehands te onderhou nie!” Dit is die reine waarheid.

ʼn Discovery 4 pas my leefstyl perfek, dis pragtig, het sewe sitplekke en kan ʼn karavaan sleep… wat meer wil mens hê? Die probleem? Sy lugvering se skokbrekers is nie die betroubaarste op aarde nie, en hulle kos R10 000 elk om te vervang. ʼn Vriendin se man het nie lank terug nie een gekoop – en toe kort hy ʼn nuwe turbo. Die hele oefening was op die ou end baie naby aan R100 000. So, ek kan self nie ʼn R1,3 m se Discovery Landmark nuut bekostig nie en ek sou versigtig wees vir hom buite waarborg.

Die Land Rover Discovery. (Foto: Verskaf)

Die ontwerp self is netjies. Pragtig van voor, en effe vreemd van agter, maar algeheel is dit ʼn netjiese ontwerp. Die binneruim is pure Discovery. Luuks, ergonomies en groot. Die eerste Landmark wat ek onder hande gehad het, was ʼn SE-model, toe het hy ʼn elektroniese gogga en word met ʼn HSE vervang.

Die SE het gewone meganiese metertjies, en die HSE het die digitale skerm wat al die inligting vir jou uitbeeld. Die SE-weergawe het ʼn sterk spesifikasievlak, maar die HSE is uit die boonste rakke met sitplekgeheue, parkeerkameras en ʼn magdom truuks. Aan die veiligheidskant is daar ­­ses lugsakke, ABS met EBD, vastrap- en stabiliteitsbeheer sowel as Land Rover se puik “terrain response” – veldrystelsel.

Die Discovery se 3.0 V6-turbodieselenjin is fantasties. Dit bied 190 kW en 600 Nm. Die enjin is gepaard aan Land Rover se 8-spoed‑ outomatiese ratkas. As ʼn mens rustig toer met die Discovery bied hy selfs goeie brandstofverbruik teen 7,5 ℓ/100 km. Die Discovery kan 3 500 kg sleep.

Op die pad voel die Discovery super luuks. Hy toer stil en sag en het oorgenoeg krag. Die lugvering maak sagte werk van slegte paaie en spoedhobbels. Die Discovery se padhouvermoë is indrukwekkend vir ʼn voertuig van dié grootte en wat só hoog is.

Dit is maklik om die Discovery op te som. Dit is ʼn lieflike voertuig, maar die meganiese goggas pla my. Ek en ʼn pel vra gereeld: “Maar sou jy in Namibië infoeter met hom?”… sonder ander mense in ʼn konvooi? Nee.

Die reeks lyk só:

Land Rover Discovery S Sd4177 kW/430 Nm6,5 ℓ/100 kmR1 090 074
Land Rover Discovery S Si4221 kW/400 Nm9,4 ℓ/100 kmR1 097 112
Land Rover Discovery S Td6190 kW/600 Nm7,8 ℓ/100 kmR1 171 856
Land Rover Discovery S Si6250 kW/450 Nm11,5 ℓ/100 kmR1 223 484
Land Rover Discovery SE Sd4177 kW/430 Nm6,5 ℓ/100 kmR1 257 374
Land Rover Discovery SE Si4221 kW/400 Nm9,4 ℓ/100 kmR1 258 912
Land Rover Discovery SE Td6190 kW/600 Nm7,8 ℓ/100 kmR1 332 456
Land Rover Discovery SE Si6250 kW/450 Nm11,5 ℓ/100 kmR1 360 184
Land Rover Discovery Landmark Td6190 kW/600 Nm7,8 ℓ/100 kmR1 388 456
Land Rover Discovery HSE Sd4177 kW/430 Nm6,5 ℓ/100 kmR1 405 374
Land Rover Discovery HSE Si4221 kW/400 Nm9,4 ℓ/100 kmR1 406 012
Land Rover Discovery HSE Td6190 kW/600 Nm7,8 ℓ/100 kmR1 482 156
Land Rover Discovery HSE Luxury Sd4177 kW/430 Nm6,5 ℓ/100 kmR1 509 474
Land Rover Discovery HSE Si6250 kW/450 Nm11,5 ℓ/100 kmR1 507 984
Land Rover Discovery HSE Luxury Si4221 kW/400 Nm9,4 ℓ/100 kmR1 510 012
Land Rover Discovery HSE Luxury Td6190 kW/600 Nm7,8 ℓ/100 kmR1 589 256
Land Rover Discovery HSE Luxury Si6250 kW/450 Nm11,5 ℓ/100 kmR1 617 084

Die kompetisie lyk só:

Toyota Land Cruiser Prado 3.0DT VX-L120 kW/400 Nm8,5 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

9-dienste-diensplan

R1 073 100
Lexus RX350 L EX216 kW/358 Nm10,2 ℓ/100 km7 jaar/105 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplanR1 130 900
Audi Q7 45TDI Quattro183 kW/600 Nm6,3 ℓ/100 km1 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan

R1 136 500
Volvo XC90 D5 AWD Inscription173 kW/480 Nm5,7 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplanR1 241 000
BMW X5 xDrive30d xLine195 kW/620 Nm7 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan

R1 341 482
Mercedes-Benz GLE400d 4Matic243 kW/700 Nm7,5 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan

R1 535 240

Indien jy ʼn Discovery nuut kan bekostig en hom ry tot sy waarborg en instandhoudingsplan verstryk, en dan verkoop en ʼn ander een koop, koop dit gerus, dis ʼn lieflike ryding. Vir my is die Prado die enigste ware 7-sitplek 4×4-mededinger vir die Discovery – sy betroubaarheid is wat die skaal vir my in sy guns laat swaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.