Bielie bult sy spiere

Die Amerikaners het in die 1950’s die sogenaamde spiermotor (muscle car) bekend gestel. Dit was gewoonlik ʼn mediumgrootte gesinsmotor, met twee deure en ʼn massiewe V8-petrolenjin. Dink aan voertuie soos Pontiac se GTO, Mustangs, Comaro’s en dies meer. Mettertyd het hierdie spiertiere gewild geraak vir hul enorme krag, maar hul padhouvermoë was onder die standaard.

Die Jaguar F-Type R Coupé P575 AWD het een van die eienskappe van ’n spiermotor – ʼn behoorlike V8. Die asemrowende gebrul van die vier uitlaatpype laat ʼn mens aan daai era dink, maar die vierwielaandrywing en puik vering bied ritgehalte en padhouvermoë wat in die 50’s nie moontlik sou wees nie.

Die F-Type-koepee is ʼn pragtige tweesitplek-sportmotor. Die nuwe ontwerp van die voorkant is voorwaar bitter mooi. Die agterkant is onveranderd gelaat. Sodra jy inklim, is jy vinnig gemaklik, maar die binneruim begin sy ouderdom wys. Al begin die binneruim ouer voel, is elke luuksheid wat ʼn mens wil hê daar. Die binneruim is ruim vir ʼn tweesitplekmotor, en lekker ergonomies uitgelê.

Onder die kap skuil ʼn juweel. Dit is die Jaguar Land Rover-groep se superaangejaagde 5.0 V8. Die enjin bied 423 kW en ʼn enorme 700 Nm.

Van 0-100 km/h neem ʼn blitsige 3,7 sekondes en die Jag sal aanhou hol tot 300 km/h. Indien daai syfers nie beïndruk nie, gaan toetsbestuur een. Druk die knoppie wat die uitlaatpypkleppe oopmaak, en die simfonie wat agter jou ore brul sal beslis vir jou hoendervleis gee.

Op die pad is waar die F-Type sy eie rigting inslaan, en daarvoor salueer ek Jaguar. Die F-Type kan waarskynlik ʼn paar sekondes vinniger óm die Nürburgring loop as hulle die vering vervang met treinspore, soos die Duitsers met die meeste van hulle karre doen – maar die oomblik wat jy op ʼn Britse B-pad kom, val alles uitmekaar. Soos Engeland se B-paaie het ons ook paaie wat nie so gelyk is nie en die F-Type se soepel vering is dus ʼn openbaring. Die F-Type plak lekker aan die teer, en hy’s gemaklik.

Dit is lekker maklik om die F-Type op te som. Ja, dit is ʼn klomp geld, en daar is waarskynlik ander voertuie wat tegnies net só goed is soos die F-Type. Maar as jy agter die stuur van die Jag inskuif, en jy skakel hom aan en daai vier uitlaatpype brul, dan maak geen ander voertuig saak nie.

Die reeks lyk só:

F-Type P300-afslaandak221 kW/400 Nm0-100 km/h 5,7 sek.

Topspoed 250 km/h

7,3 l/100 kmR1 290 600
F-Type P300-koepee221 kW/400 Nm0-100 km/h 5,7 sek.

Topspoed 250 km/h

 R1 292 700
F-Type P380-afslaandak280 kW/460 Nm0-100 km/h 4,9 sek.

Topspoed 275 km/h

8,6 l/100 kmR1 572 300
F-Type P380-koepee280 kW/460 Nm0-100 km/h 4,9 sek.

Topspoed 275 km/h

 R1 574 200
F-Type P380-afslaandak280 kW/460 Nm0-100 km/h 5,1 sek.

Topspoed 275 km/h

8,9 l/100 kmR1 718 900
F-Type P380 AWD-koepee280 kW/460 Nm0-100 km/h 5,1 sek.

Topspoed 275 km/h

 R1 725 700
F-Type P575 AWD-afslaandak423 kW/700 Nm0-100 km/h 3,7 sek.

Topspoed 300 km/h

11,3 l/100 kmR2 517 800
F-Type P575 AWD-koepee423 kW/700 Nm0-100 km/h 3,7 sek.

Topspoed 300 km/h

 R2 518 600

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Ford Mustang 5.0 GT Fastback331 kW/529 Nm0-100 km/h 4,3 sek.

Topspoed 250 km/h

12,1 l/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

6 jaar/90 000 km-diensplan

R1 044 200
BMW M2 Competition outo302 kW/550 Nm0-100 km/h 4,2 sek.

Topspoed 250 km/h

9,1 l/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 199 456
Lexus RC-F351 kW/530 Nm0-100 km/h 4,3 sek.

Topspoed 270 km/h

11,2 l/100 km7 jaar/105 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplanR1 441 300
Porsche 718 Cayman GT4 outo309 kW/420 Nm0-100 km/h 4,4 sek.

Topspoed 304 km/h

10,9 l/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

3 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 800 400

Die Jaguar F-Type het nie ʼn direkte mededinger tans in die mark nie. Ek’t verskeie ander koepees hier gelys. Die naaste mededinger is waarskynlik die Porsche Cayman GT4 – maar hulle verskil drasties.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eclectus ·

Ek het nie op skool geleer nie met die gevolg dat ek geen van hierdie vuurwaens kan bekostig nie. Niks keer my egter om te kwyl nie, so ek kan maar net sowel groot kwyl. In lig hiervan en met die binnebrand enjin skynbaar in die dodesel, gaan ek sê dat absoluut niks tans kers vashou by Ferrari se 812 Superfast nie, en dit het geen vorm van aanjaging nie, net suiwer brute krag sonder steroïede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.