Blitsige BMW, sedan of koepee?

Die BMW M3 Competition.

Die Duitse vervaardigers is die voorvaders van die blitsige sedanmotor. Voertuie soos die E500 AMG, en BMW M5 was die eerstes. Die M535i was ook nie te versmaai nie. Die M3 was my droommotor as ʼn tiener. ʼn E36 M3… ʼn bloue, asseblief. ʼn Mens het die M3 eers slegs in koepeevorm met twee deure gekry, en tóé die vierdeursedan.

Ná die E90-reeks het die benamingstrategie verander. 2-Reeks is die koepee van 1, 4 die koepee van 3 en só gaan dit aan. Ons sit dan met ʼn M3 en ʼn M4. Albei is Competition-weergawes in Suid-Afrika. Albei voertuie het identiese dryfstelsels en word aangedryf deur ʼn turboaangejaagde 3.0 inlyn-sessilinder wat 375 kW en 650 Nm bied. 0 – 100 km/h neem ʼn blitsige 3,9 sekondes in albei, en albei sal 290 km/h voluit hol. Indrukwekkend.

Die ontwerp van die M3 is vir my tog mooier. Ek kan vir jou geen rede gee hoekom nie. Die nuwe sierrooster van die 3 en 4 is al tot vervelens toe gedebatteer… maar ek staan vas, in die lewende lywe lyk dit nie só sleg soos op foto’s nie.

Die BMW M4 Competition.

Die binneruim van my M4-toetseenheid het die M-Sport-sitplekke gehad. Dit is koolstofvesel hardedop-sitplekke met verskriklike groot versterkings aan die kant, en dit maak in- en uitklim ietwat van ʼn toertjie. ʼn Toertjie wat my lyf nie so mooi wil doen nie. Die M3 was voorwaar baie gemakliker met die gewone sitplekke in. Verder is die binneruim van albei voertuie pure BMW. Die ergonomie werk mooi, en as mens eers met BMW se inligtingstelsels gekonfyt is, is dit so maklik soos val in die bad.

Die BMW M4 Competition.

Op die pad verbaas albei voertuie. Ek sal hier byvoeg dat ek dink die M3 té bekwaam geword het. Teen die tyd wat die kar ʼn mens se hartklop begin opjaag, ry jy teen meer as dubbel die spoedgrens. Die M3 steek sy spoed té goed weg. Wat die spesifieke M4 betref was hy amper onmoontlik om te beheer. Ek onthou dit nie só van die bekendstelling af nie – en die M4 het my werklik bang gehad… al het hy splinternuwe bande op gehad wou hy net heeltyd boude uitswaai. Ek vra toe vir die vlootbestuurder wat ʼn kenner is en al vir dekades renmotors bou en BMW’s ken soos die palm van sy hand – toe is die wielsporing uit. ʼn Publikasie wat die M4 voor ons gehad het moes tydens hul drift-video die baan verlaat het en die agterste sporing seergemaak het.

Albei voertuie bevind hulle nou in onbekende waters. Ons is nou op die punt waar ʼn sportsedanmotor werklik supermotorverrigting het. 290 km/h is so te sê 300. Én 100 km/h in onder vier sekondes is barbaars vinnig. Vir ʼn M3 – té vinnig? Dis verstommend – maar vir die eerste keer in my lewe is ek nie oortuig deur die M3 nie… en dit bly my keuse bó die M4. Die M4 is nóg skerper… soos ʼn kat op ʼn warm plaat. Die M3 is vriendeliker en effens sagter in sy benadering. Dit maak die M3 minder van ʼn swaargewigbokser om mee te veg. Dalk sal die xDrive weergawes met vierwielaandrywing beter wees?

Ek sal dit só opsom. Die M3 kos nét minder as R1,9 miljoen. Die M4 is nét minder as R2 miljoen. Vir baie minder geld koop ek beslis die M2 Competition. Daardie kar betower my steeds. Indien ʼn mens die R2 miljoen móét bestee, sal ek waarskynlik ʼn Porsche 911 Carrera S koop.

Die twee lyk só:

BMW M3 Competition375 kW/ 650 Nm9,6 ℓ/ 100 km0 – 100 km/h 3,9 sek

290 km/h topspoed

R1 877 388
BMW M3 Competition xDrive375 kW/ 650 Nm10,2 ℓ/ 100 km0 – 100 km/h 3,5 sek

290 km/h topspoed

R1 918 906
BMW M4 Competition375 kW/ 650 Nm9,6 ℓ/ 100 km0 – 100 km/h 3,9 sek

290 km/h topspoed

R1 957 388
BMW M4 Competition xDrive375 kW/ 650 Nm10,2 ℓ/ 100 km0 – 100 km/h 3,5 sek

290 km/h topspoed

R1 998 906
BMW M4 Competition convertible xDrive375 kW/ 650 Nm10,4 ℓ/ 100 km0 – 100 km/h 3,7 sek

280 km/h topspoed

R2 119 596

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/ onbeperkte km waarborg en 5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Audi RS4 Avant quattro331 kW/ 600 Nm9,2 ℓ/ 100 km0 – 100 km/h 4,1 sek

250 km/h topspoed (beperk)

1 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 325 500
Alfa Romeo Giulia Quadrifoglio375 kW/ 600 Nm8,2 ℓ/ 100 km0 – 100 km/h 3,9 sek

307 km/h topspoed

5 jaar/ 100 000 km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 599 900
Mercedes-AMG C63 S Coupé375 kW/ 700 Nm10,1 ℓ/ 100 km0 – 100 km/h 3,9 sek

290 km/h topspoed

2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 922 960

Tussen dié mededingers is die RS4 ʼn ware winskoop. Die Alfa is ʼn asemrowende produk, maar die C63 S sedan het my hart gesteel. Dit blyk hy is nie meer beskikbaar nie – maar enige van dié produkte is fantasties. Gaan toetsbestuur almal!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kokerboom ·

Vir daai prys skaf mens eerder ‘n vaste bate aan! Maar nouja daar is mense wat dit kan bekostig!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.