BMW G 310-reeks nou beter en meer bekostigbaar

(Foto: Brian Cheyne)

Die BMW G 310-reeks is nou al ’n geruime tyd op die mark, maar die Suid-Afrikaanse mark het nog nie juis oor sy voete geval om een aan te skaf nie. Ons mark beskou steeds motorfietse as luukse ontspanningsmiddels eerder as praktiese vervoermiddels, en dit is jammer. Motorfietse bied soveel meer en jy hoef nie altyd die heel grootste en duurste soort te koop om dit te geniet nie.

Die G 310-reeks bestaan uit twee modelle: die R-padfiets en die dubbeldoel-GS. Hoewel die GS nie bemark is as ’n hardebaardvrotpadfiets nie, is hierdie fiets verbasend bekwaam. Die Pakistanse fotograaf Abrar Hassan het met sy 310 GS van Duitsland tot in Pakistan gery. Oor betroubaarheid hoef jy jou dus nie te bekommer nie.

(Foto: Brian Cheyne)

Net soos enige motorfiets, is die 310 ook nie perfek nie. Ek besit self een, en ek kan beaam dat dit my lank geneem het om aan die koppelaar gewoond te raak. Die fiets stol maklik. Die voorlig is ook nie goed gemonteer nie en vibreer baie. Tog het my G 310 GS diep in my hart gekruip.

BMW het verlede jaar die G 310-reeks opgeknap en hierdie probleme aangepak. Die enjin was nooit ’n probleem nie, so dit het onveranderd gebly. Dit lewer steeds 25 kW teen 9 500 rpm met 28 Nm wringkrag. BMW het nou die versnellerkabel vervang met ’n elektroniese versneller. Hierdie verandering het ook gehelp dat die 310 nou aan die jongste Euro 5-uitlaatregulasies voldoen. Tesame met ’n splinternuwe koppelaar was BMW oortuig dat hy die grootste klag teen die ou fiets aangepak het. Ek het by BMW gaan aanklop om te hoor of ek die nuwe een vir ’n week kan ry sodat ek self my eie gevolgtrekkings kan maak.

(Foto: Brian Cheyne)

Die toetseenheid was die Rallye-model, met ’n rooi raam en afgewerk in blou en swart. BMW het ook ’n “40 Years of GS”-model wat heeltemal swart met geel aksente is. Die hele reeks se enjins is nou swart waar die vorige model liggrys enjins gehad het. Die fietsie vertoon baie mooi.

Die hooflig is nou ’n LED-eenheid met dagryligte en die flikkers is ook BMW se nuwe LED-eenhede. Omdat BMW die hoofligomhulsel moes herontwerp om die nuwe ligte te monteer, het hulle sommer die vibrasies ook getakel. Daar is klein kosmetiese veranderinge aangebring aan die skakelaars en ek het dadelik agtergekom dat die ABS-knoppie nie meer op die nuwe model is nie. Op my fiets kan die sluitwering afgeskakel word op die agterwiel. Op die nuwe een nie. Die koppelaar en voorrem se hefbome kan nou verstel vir reik. Verder het die fiets onveranderd gebly.

Die koppelaar op die nuwe fiets is myle beter as op die ou model. Dit is ligter om te trek en het foutloos gewerk in die kort tydjie dat ek die fiets gehad het. Selfs in ’n redelik tegniese stukkie was ek baie minder op my senuwees. Dít, tesame met die nuwe elektroniese versneller, maak die G 310 nou ’n aangename fiets om te ry.

(Foto: Brian Cheyne)

Die BMW G 310 GS verdien baie meer aandag as wat dit tans geniet. Dit is ’n baie bekwame fiets wat vir jou baie betroubare kilometers sal besorg. Hoewel die meeste mense hom as ’n beginnerfiets beskou, is dit baie meer. Omdat dit ’n BMW is, is daar ook baie derdeparty-bybehore waarmee jy jou fiets kan verpersoonlik.

BMW het tans ’n baie aanloklike promosie op die 310-reeks. Vir slegs R999 per maand kan jy die trotse eienaar wees van jou eie G 310-fiets. Besoek gerus jou naaste BMW Motorrad-handelaar en gaan kyk ten minste na die nuwe fiets. Hy verras jou dalk net!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.