BMW iX50 – uit ʼn ander wêreld

ʼn Ervaring uit ʼn ander wêreld. Sommer met die intrapslag was dit duidelik dat BMW se iX50 gaan verras.

Die iX50 se unieke stilering gaan menings verdeel – jy gaan óf mal wees daaroor óf dit haat. Dat hy die koppe laat draai is egter ʼn feit. Of dit nou die nuwe massiewe niertjierooster is of die futuristiese lyne, die iX lyk nie soos enige iets anders op die pad nie.

Reikafstandangs was nog altyd ’n ding met elektriese voertuie – en mense vra al jare lank wanneer gaan elektriese voertuie se reikafstand dié van binnebrandmotors ewenaar. Die tyd is nou – en die voertuig is die BMW iX50.

Wanneer jy inklim voel dit of jy ʼn tree die toekoms in gee, of die ster van ʼn wetenskapfiksie fliek is wat in die buitenste ruimte afspeel. Die iX lyk soos ʼn konsepmotor wat nooit vervaardig sou word nie en bied dus ʼn uiters unieke ervaring.

Die eerste ding wat jou opval is die middelste konsole wat nie heeltemal van tussen die voorste sitplekke tot teen die paneelbord strek nie. Dit laat die binneruim enorm voel en dit is amper asof jy in ʼn moderne byderwetse sitkamer sit eerder as in ʼn luukse motor. Die kristaldraaiknop en ander knoppies op die houtpaneel op die middelste konsole pas mooi in by die gevoel van die iX en daaronder is ʼn laaimat, USB-poorte en koeldrankhouers.

Jy sink behoorlik weg in die sitplekke van buigsame leer en met ʼn druk van ʼn knoppie begin ʼn rugmassering wat die laaste van jou probleme sal laat verdwyn en jou amper laat vergeet van die R2,175 miljoen-prysetiket. Daar is volop beenruimte vir die bestuurder en al sy passasiers en die deure maak met die druk van ʼn knoppie oop. Die agterste passasiers het ook hul eie klimaatbeheerkontolepaneel

Op die leerbedekte paneelbord sweef daar ’n reuse- geboë raakskerm wat die digitale instrumentpaneel en die inligtingvermaakstelsel bevat. Hier kan jy enige inligting oor die motor kry, jou foon koppel met Bluetooth, Apple CarPlay of Android Auto of tussen drie rymodusse kies wat elkeen met verskillende beligting in die kajuit en ʼn unieke klankbaan kom (meer daaroor later). Die panoramiese glasdak laat die binneruim nog groter voel en met die druk van ʼn knoppie gaan die glasdak van deurskynend na ondeursigtig.

Dit is op die pad waar die BMW iX50 finaal jou asem wegslaan. Sy krag is verstommend – 385 kW en 765 Nm wringkrag. As jy hom die eerste keer te hard trap ruk hy jou behoorlik terug in die sitplek en dit sonder om ʼn geluid te maak. Dit voel kompleet of jy in ʼn vreemde vlieënde voorwerp net bo die pad sweef. 0-100 km/h vat net 4,6 sekondes en om die topspoed van 200 km/h te haal verg byna geen inspanning nie.

Dit voel aanvanklik uiters vreemd om geluidloos teen ʼn verstommende tempo in uiterste luuksheid en weelde te ry. As die onheilspellende stilte egter vir jou een te veel is, kan jy net IconicSounds, ʼn sintetiese klankbaan wat enjingeluide namaak, aanskakel. BMW het ʼn ooreenkoms met die Oscar-bekroonde klankbaankomponis Hans Zimmer aangegaan om klankbane te ontwikkel vir al BMW se elektriese motors.

Die BMW iX50 het ʼn battery van meer as 100 kWh met ʼn reikafstand van meer as 600 km. Die gemiddelde elektriese kragverbruik is minder as 21 kWh per 100 km. Diegene wat die BMW iX50 aanskaf hoef egter nie te bekommer om rond te ry op soek na ʼn laaistasie nie aangesien die prys ʼn komplimentêre Wallbox-laaier en installasie by jou huis insluit. Eienaars kan ook gratis hul motor by BMW-laaistasies laai. Daar is gratis versekering vir die eerste jaar en ʼn jaar se intekening op die Charge Point Operator se netwerkportaal.

Die BMW iX50 bied werklik ʼn unieke ryervaring wat amper te moeilik is om oor te vertel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jakez ·

As mens die beskikbare krag gereeld gebruik, sal die reikafstand beslis nie naby aan 600km wees nie!

FrikkievV ·

Perfekte ryding vir die statusbewuste kaders wat rol in die belasting geld.
Steeds ‘n fantastiese voertuig wat BMW se tegnologie goed ten toon stel.

JohanR ·

Kom ons stop maar by 500km op ‘n vol tenk. As ek Kaap Johannesburg toe sal ek ten minste twee keer iewers moet inprop. Sal daai inprop 1uur neem, 5uur of een dag? Maar ek moet se pratige motor. Ek kan myself sien agter die stuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.