BMW R 1250 RT –’n moeitelose toerfiets

Val is die kleinste dorpie in Suid-Afrika met ’n poskode. Net na Heidelberg, op die N3 Suid, draai jy links af op die R23. Jy ry verby Balfour en Greylingstad en dan draai jy af na Val op die R547. Van my huis in Pretoria is dit so 190 km. ’n Paar van my vriende het besluit om ’n aand te gaan oorslaap in die Val-hotel en omdat ek geweet het dat daar nie grondpaaie of sand gaan wees nie, het ek besluit om die nuwe BMW R 1250 RT nader te trek vir hierdie rit.

Die BMW R 1250 RT het onlangs ’n opknapping gehad en ek was in George vir die bekendstelling. Hoewel ons kort rit genoeg was vir ’n positiewe eerste indruk, is dit altyd beter om tyd met ’n fiets deur te bring, veral in die rol waarvoor hy gebou is.

Die RT beskik oor twee 35 ℓ kanttasse wat betreklik ruim is, so om gou iets in te gooi vir ’n naweek weg is geen moeite nie. Hoewel die deksels na buite oopmaak, het BMW twee elastiese bande om jou bagasie vas te hou sodat jou onderbroeke nie uitval as jy gou ’n tas moet oopmaak nie. Die kanttasse kan ook heeltemal afhaal as jy dit by jou hotel wil indra. Verder is daar twee nuwe paneelkissies voor die ryer om los goedjies in te bêre. Die een aan die regterkant het ’n USB-sok om jou foon te laai. Die foon kan konnekteer met die nuwe skerm, so dit is handig dat die foon kan laai terwyl jy ry.

Die naweek se weerberig het reën voorspel en toe ons die Vrydag wakker word, het dit baie hard gereën. Snaaks genoeg het dit my nie veel gepla nie. Mense wat die RT ken sal weet dat die groot windskerm baie effektief werk om jou teen die elemente te beskerm. Ons ontmoetingspunt was op die R21 en soos ons gewag het, kon ons sien hoe die verkeersvolumes toeneem.

Gelukkig was my RT toegerus met BMW se nuwe aanpasbare spoedbeheer. Jy stel die spoedbeheer op ’n gemaklike spoed en ry net. Sou ’n voertuig voor jou in jou baan inbeweeg, sal die motorfiets aanpas by die spoed van die voertuig. Die fiets sal dan weer versnel na die gekose spoed as die voertuig voor jou wegbeweeg. Ek is altyd dankbaar vir tegnologie wat die ryer kan help in ’n noodgeval.

Vir die 190 km-rit was die RT waarlik ’n fees om mee te ry. Die fiets is toegerus met verhitte grepe en saal, en oor die sitposisie kon ek nie kla nie. Die spieëls is steeds in die bakpanele ingebou soos met vorige modelle, en is nie baie effektief nie. Jy moet maar gewoond raak daaraan om oor jou skouer te loer om van bane te verwissel, want jy kan nie die inligting in daardie spieëls vertrou nie.

Die Val-hotel word al sedert 1994 besit en bestuur deur Rita Britz. Sy is ’n bron van inligting. Nie net oor die dorpie Val nie, maar ook oor die geskiedenis van die omliggende plase en dorpe.

Sy het die hotel op ’n veiling gekoop vir ’n volle R18 000! Die kamers is mooi ruim en jy hoor kort-kort die gedreun van ’n trein wat verby kom. Gaan maak gerus ’n draai in hierdie pragtige dorpie. Jy sal nie spyt wees nie! Besoek hulle webwerf hier.

Saterdagoggend het ons vroeg opgestaan en gestap tot by die ou laerskooltjie en verlang na die dae wat ons net in die strate kon rondloop sonder om agter lemmetjiedraad weg te kruip. Na ontbyt het ons weer in die pad geval. Ek het vir ’n kort rukkie vooruitgery en die RT geniet vir die moeitelose toerfiets wat hy is. Die kraglewering is egalig en die fiets is op sy gelukkigste op die spoedgrens plus BTW en het kilometers soos meters laat voel. So, as jy net ’n teerpad mens is, dan maak die BMW R 1250 RT perfek sin.

Spesifikasies:

Enjin1254 cc bokser enjin
Kraglewering100 kW teen 7 750 rpm
Wringkrag143 Nm teen 6 250 rpm
Gewig ( Nat )226 kg
SaalhoogteVerstelbaar: 805 mm/ 825 mm
Tenkkapasiteit25 ℓ
PrysVanaf R341 600

Klik hier vir die produkblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.