BMW se 8-reeks: Duur maar pure vuur

Verskillende mense hou van verskillende motors om verskeie redes – en dit is geensins ʼn slegte ding nie. Kan jy jou ʼn wêreld indink waar daar net bakkies is, of net luikrûe? Daar was tot dusver nie ʼn beter voorbeeld vir my oor hoe ʼn klein verandering ʼn voertuig geheel en al kan verander nie.

Ek het onlangs tyd met ʼn reeks voertuie deurgebring – spesifiek die reeks BMW M8 Competitions. Die koepee was eerste aan die beurt: ʼn vuurvretende monster met 2+2-sitplekke en ʼn asemrowende 0–100 km/h-tyd van 3,2 sekondes.

Toe kom die afslaandak- M8 Competition. Ek kon my nie indink hoekom ʼn mens ooit só ʼn ryding sou wou hê nie. En toe ry ek laastens met die pragtige BMW M8 Competition Gran Coupé: ʼn vierdeur- en viersitplekweergawe van die M8.

Hier sit ons met drie van dieselfde voertuie, elkeen met ʼn ander soort koper en ʼn uiteenlopende karakter. Die koepee is die gefokusde teervreter. Die afslaandak is vir diegene wat dit geniet om ʼn bergpas aan te durf asof hul broek aan die brand is, tot by die kus – dan rustig die uitsig in te neem met miljoene myle kopruimte. Die Gran Coupé is vir my, die man met drie kinders.

Al drie voertuie is werklik mooi. Al drie word deur BMW se fantastiese 4.4-turboaangejaagde V8 aangedryf wat 460 kW en 750 Nm bied. Die vierdeur snel soos die koepee in 3,2 sekondes van 0 tot 100 km/h en die afslaandak in 3,3 sekondes. Almal is elektronies beperk tot 250 km/h – maar sal by die 300 km/h draai indien die elektroniese goggas verwyder word.

Op die pad is waar die M8 tot sy eie reg kom. Al drie weergawes vreet die myle op. Die Gran Coupé is vir my die gemaklikste een, en sal my keuse wees. Die vierdeurmodel was met Pirelli-bande toegerus wat baie beter vastrap gebied het as sy twee boeties wat op Michelins geloop het. Wanneer die M8 Competition met koolstofkeramiekremme toegerus is, bly dit voorwaar ʼn wapen in pylvakrenne, óf óm ʼn renbaan.

Die M8-reeks sit boaan die BMW-troon. Dit is baie geld, maar vir diegene wat dit kan bekostig, is daar geen rede hoekom hulle nié na die M8 moet kyk nie.

Die reeks lyk só:

BMW M8 Competition CoupéR3 480 672
BMW M8 Competition Gran CoupéR3 423 862
BMW M8 Competiton ConvertibleR3 630 862

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.