BMW se elektriese visie

Die BMW Motorrad Vision DC Roadster. (Foto: Verskaf)

Met al meer vervaardigers wat nou op elektriese motorfietse begin fokus, het BMW pas sy toetrede aangekondig met ’n ontwerp wat die vorm van die ikoniese bokser-enjin naboots en aan die BMW Motorrad Vision DC Roadster ’n identiteit eie aan BMW gee.

Elektriese motorfietse is tans behoorlik in die kollig. In MotoGP is daar selfs ’n hele nuwe klas geskep vir elektriese motorfietse. Ontwerpers moet steeds die basiese reëls volg met vering, maar hulle kan items soos brandstoftenks en uitlaatpype uitlaat en hulle verbeelding vrye teuels gee.

Die enjin is die hart van enige motorfiets en die fisieke afmetings van die enjin word beïnvloed deur die kapasiteit en silinderuitleg van die enjin. In ’n elektriese motorfiets is die een element wat die meeste spasie opneem die battery. Die elektriese motor self is relatief kompak.

Die BMW Motorrad Vision DC Roadster. (Foto: Verskaf)

BMW is van mening dat motorfietsry ook opwindend kan wees selfs as die enjin elektries is. Met ’n elektriese motor is al die wringkrag onmiddellik beskikbaar en dit beloof om die ryervaring nog meer opwindend te maak.

Hoewel die aandrywing nou elektries is, moet die komponente steeds verkoel word. In die Vision het BMW twee kant-elemente geskep met verkoelingsvinne en ingeboude ventilators. Net soos met die BMW R 32 van 1923 is die verkoelingseenhede in die lugstroom buite om die fiets geplaas. Hierdie ontwerp verseker dat die Vision onmiskenbaar BMW is.

Die ontwerp van die Vision is uiters sportief. Die kort agterent is hoog gelig en loop afdraand vorentoe verby die yslike battery. Die battery is omhul deur ’n soliede aluminiumraam. As jy die fiets aanskakel, beweeg die verkoelingseenhede verder na buite om aan te dui dat die fiets gereed is om te beweeg.

Die BMW Motorrad Vision DC Roadster. (Foto: Verskaf)

Aandrywing is deur middel van ’n as. Die as én die voorste skokbreker is ontbloot. Hierdie is nog twee BMW-elemente wat netjies geïntegreerd is in die ontwerp.

As deel van die konsep is die bande ook eksklusief vir die Vision ontwikkel deur Metzeler. Elke band bevat vyf LED-liggies aan die wand van die band. Dit maak die fiets baie meer sigbaar van die kant af en behoort nogal iets te wees om te aanskou in die aand.

Die Vision DC Roadster gee ons ’n eerste blik na wat BMW vir ons kan opdis in die toekoms. Harley-Davidson se LiveWire fiets gaan binnekort in produksie. Die toekoms van elektriese motorfietse is nie meer so ver as wat ons dink nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Attie. ·

Wanneer ek ‘n Harley Davidson koop is dit eerstens om die dreun van die engin te hoor. Die vervaardiger van HD het selfs patenteregte uitgeneem om enige nabootsers te verbied om hul klank na te maak. HD is nie die gemaklikste fiets vir die langpad nie en indien die gestotter van die masiewe engin weggeneem word sal daar geen rede wees om so ‘n motorfiets te koop nie. BMW se eienaars koop hul fietse as ‘n vervoermiddel en ‘n elektriese BMW maak sin. Die toekoms van die balspel gaan gaan reuse vervaardigers beslis laat vou.

Wielspore ·

Ek sal graag vir my so ‘n elektriese aangedrewe motorfiets koop, as gebruiker sal jy nou meer van die natuur kan in neem ten opsigte van klanke en geluide. Die effektiewteit van ‘n elektriese motor gee top wringkrag van die laagste rpm tot die hoogste rpm. Met elektriese tegnologie kan jy enkel toestel spoedbeheer toe te pas deur net die versneller te gebruik. Die versneller kan versnel en rem (back emf), rem pedale is net nodig in uitsonderlike gevalle.
Nuwe tegnologie, nuwe era.

ChrisE ·

Merkwaardige tegnologie. Waar gaan dit alles eindig. Die ontwerp sal mens seker aan gewoond moet raak. Die fiets lyk op die foto asof dit iets kort. Soos ‘n draadkar. Altyd plek vir nog ‘n aanhangsel.

anton ·

Hulle sal vinnig n gemakliker fiets moet maak want nie almal wil/kan met hulle agterwêreld hoër sit was wat hulle hande is nie!
Lyk ook maar kaal vir my sonder truspieëls en n voorstel moderskerm.
Die huidige motorfiets batterytjies is reeds mal duur, wonder wat gaan so n fiets se battery kos as jy hom eendag moet vervang? Dalk selfde as n nuwe motorfiets.

Phil ·

Ek sien al in my geestesoog hoe die ouens tydens die Dakar-tydren in die middel van ‘n trajek ‘n kragprop soek om die nuwe elektriese GS te laai…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.