BMW se luukse toerfietse staan as die K-reeks bekend. Dit word deur BMW se 1600 cc‑sessilinderenjin aangedryf. Dit is seker een van die gladste enjins van enige toerfiets en die meegaande klankbaan is onmiskenbaar. Ek dink BMW kan met reg trots wees op hulle skepping, maar met Europese emissiewette wat al hoe strenger word, moes BMW die enjin opskerp om aan die nuutste klomp reëls te voldoen. BMW het ook van die geleentheid gebruik gemaak om die K-reeks op te knap.
Die K-reeks bestaan uit vier modelle wat almal dieselfde platform deel. Die K 1600 GT verteenwoordig die meer sportiewe sy van die reeks. Voeg ’n standaard agterste bagasietas by en maak die ergonomie meer ontspanne, dan het jy die K 1600 GTL. BMW het onlangs die reeks uitgebrei met die K 1600 B wat ’n meer vaartbelynde agterent het. Die B staan vir “Bagger”.
Voeg nou ’n bagasietas by die B, en dan het jy die Grand America. Die hele reeks is in splinternuwe kleurskemas beskikbaar. Soos reeds genoem, is klein veranderinge aan die enjin aangebring om dit in lyn te bring met die Euro 5-wette. Dit het ’n baie klein verskil aan die enjin se lewering gemaak. Die enjin lewer steeds 160 pk., maar die kragpiek word nou bereik teen 6 750 r.p.m. Dit is 1 000 r.p.m. vroeër as die vorige weergawe. Die wringkrag is op met 5 Nm. Net hierdie twee veranderinge laat die fiets vinniger versnel en behoort beter rygenot te bied.
BMW het nou die hele reeks toegerus met BMW se dinamiese ESA (Electronic Suspension Adjustment). Dit pas die vering aan vir enige situasie en lading op die fiets. Die hoofligte is nou ten volle LED-ligte en beskik oor ’n aanpasbare hooflig wat die draaie verlig soos die fiets oorleun.
Die grootste byvoeging tot die nuwe reeks is egter die nuwe 10,25 duim‑TFT-skerm wat nou op BMW se toerfietse begin verskyn. Die groot voordeel wat hierdie skerm bied, is dat BMW‑ryers nou nie meer ’n aparte GPS-eenheid hoef te installeer nie. Die nuwe skerm kan nou die navigasie‑ en die rit se inligting op een skerm vertoon.
Die BMW K-reeks is en bly aan die bopunt van luukse toerfietse en hierdie opknapping behoort daardie posisie net verder te versterk. Volgens BMW behoort hierdie nuwe modelle vroeg in die nuwe jaar beskikbaar te wees.