BMW se nuwe X1 beïndruk

Maroela Media se eerste toetsmotor in 2016 was ʼn BMW X1. ʼn Donkerblou X1 xDrive20i. Dit was werklik ʼn lieflike ryding, en ná ons grootbaas ook ʼn beurt met hom gehad het, het sy gesê: “Ek het altyd gewonder hoekom BMW-bestuurders só is – nou verstaan ek hoekom.”

Ons was onlangs by die bekendstelling van die nuwe BMW X1. Die eerste generasie se X1 was vir my ʼn lelike eendjie, maar die tweede een is werklik mooi. Die derde generasie met die kodenaam U11 begin ʼn prentjie skets van die rigting wat BMW se ontwerpe die volgende jare gaan inslaan – en dis opwindend, want die jongste X1 is regtig mooi.

Die ontwerp is skoon met skerp lyne hier en daar. Die perfekte balans tussen ʼn manlike en vroulike ontwerp. Selfs die binneruim slaag daarin om nie té sag óf te hard gestileer te wees nie. Die kajuit is meer ruim as wat mens verwag, en die sitplekke lekker gemaklik. Die kattebak sal ook ʼn billike klomp bagasie insluk.

Die kajuit is gepeper met ʼn magdom luukshede, en dit is die eerste keer dat ons nie meer ʼn iDrive-knoppie vind in ʼn BMW nie. In die X1 maak mens eerder gebruik van al die raakskerms of stembeheer om verstellings te maak, radiostasies te kies en dies meer.

Daar was twee modelle by die bekendstelling gewees, 18i en 18d. Een petrol, een diesel. Die petrolweergawe word aangedryf deur ʼn 1,5 ℓ-driesilinderturbopetrolenjin. Dié enjin bied 115 kW en 230 Nm en maak gebruik van ʼn 7-spoed-dubbelkoppelaar- outomatiese ratkas. Die 18d kry sy aandrywing van ʼn 2,0 ℓ-viersilinderturbodieselenjin wat 110 kW en 360 Nm bied. Terwyl die 18i se brandstofverbruik nie sleg is teen 6,5 ℓ/100 km nie, is die 18d verstommend teen 5 ℓ/100 km.

Op die pad verkies ek beslis die 18d. Dit sou die een wees waarop ek my geld spandeer. Die ritgehalte in albei modelle is in die kol, maar die diesel voel sagter en meer verfynd – dalk weens die swaarder enjin voor. Padhouvermoë is heelwat beter as wat enige X1-koper sal benodig, dit is egter ʼn BMW.

Aan die veiligheidskant staan die X1 vir geen mededinger terug nie met verskeie aktiewe én passiewe veiligheidstelsels: van standaardtoerusting waaraan ons nou al gewoond geraak het soos sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding en lugsakke tot aktiewe stelsels soos baanbeheer, blindekolwaarskuwing en botsingwaarskuwing met noodremhulp.

Dit is uiters maklik om die X1 op te som. Die X1 sal perfek by die meeste gesinne inpas. Dit bied die veelsydigheid om pappa se toermaat te wees, óf mamma se buksie om die kinders mee skool toe te ry. Ek het tydens die bekendstelling Alfa Romeo se Tonale op toets gehad – en dit het beslis bewys hoe om dit nié te doen nie, teen presies dieselfde prys. Ek kan egter nie wag vir die volle elektriese BMW iX1 wat later vanjaar bekend gestel word nie, veral as die fantastiese iX3 ʼn aanwyser is van wat om te verwag.

Die X1-reeks lyk só:

BMW X1 sDrive18i xLine115 kW/230 Nm6,5 ℓ/100 kmR753 045
BMW X1 sDrive18d xLine110 kW/360 Nm5 ℓ/100 kmR790 617
BMW X1 sDrive18i M Sport115 kW/230 Nm6,5 ℓ/100 kmR793 045
BMW X1 sDrive18d M Sport110 kW/360 Nm5 ℓ/100 kmR830 617

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Ons sal binnekort weer tyd met die X1 deurbring en hom dán teen sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.