BMW se nuweling vir die jonger mark

Die BMW 2-reeks Gran Coupé. (Foto: Verskaf)

My eerste kar was ʼn E30 316 BMW wat ek by ʼn pel gekoop het. Dit is elke jong mens se droom om ʼn cool eerste kar te hê. BMW het ʼn magdom produkte vir ouer, meer finansieel gevestigde mense … maar wat van die jonger mark?

BMW het sy nuwe 2-reeks- Gran Coupé met ontwerp as die hoofdoel vervaardig. Eerstens moes die BeeEm mooi wees. Ek dink hulle het hul puik van hul taak gekwyt. Ek is nie gaande oor die hele verliefdheid met koepee-alles nie. ʼn Sportnuts moet wat my betref presies dít wees – ʼn sportnuts, nie ʼn platgedrukte koepee met vier deure nie. In die sedanwêreld is dit meer aanvaarbaar, want dit beïnvloed nie noodwendig die veelsydigheid van die voertuig nie.

Die BMW 2-reeks Gran Coupé. (Foto: Verskaf)

Daar is drie modelle in die Gran Coupé-reeks: ʼn 218i, 220d en M235i. Ons het reeds met die 218i gery. Jy kan die berig hier lees.

Dié bekendstelling was ʼn puik geleentheid om die drie modelle agtereenvolgens onder hande te kry.

Die drie lyk só:

218i220dM235i xDrive
Enjin3-silinder 1.5 turbopetrol4-silinder 2.0 turbodiesel4-silinder 2.0 turbopetrol
Krag103 kW/220 Nm140 kW/400 Nm225 kW/450 Nm
Ratkas7-spoed- dubbelkoppelaar8-spoed- wringkragomsitter8-spoed- wringkragomsitter
0–100 km/h8.7 sek7.5 sek4.9 sek
Topspoed213 km/h233 km/h250 km/h
Brandstofverbruik5.9 ℓ/100 km4.8 ℓ/100 km7.6 ℓ/100 km
PrysR562 320R649 016R795 864

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Ek staan by my indruk met die 218i. Vir die kliënt waarop hy gemik is, dink ek hy is piekfyn. Sy enjintjie loop puik, en hy bied BMW-bougehalte teen ʼn laer prys.

Die 220d is my keuse tussen die drie. Dit bied werklik sterk verrigting met onweerlegbare brandstofverbruik. Mens kan met ʼn 20d BMW werklik die beweerde brandstofverbruiksyfers haal. Op die oop pad toer die 20d lieflik stil met hope wringkrag om enige bult te klim. Die ratkas is puik gekalibreer, so mens voel nie eens die ratwisselings nie.

Die baas van die reeks, die M235i, is ʼn lieflike klein bomklapper en bied veilige hantering met sy vierwielaandrywing. Hy is geensins stadig nie, én sy ontwerp is mooi – maar … ek is oortuig die persoon wat na die hoëverrigtingmodel kyk, sal baie meer in sy noppies wees met ʼn gewone BMW M240i Coupé. Ja, jy verloor twee deure en aandrywing na twee wiele toe, maar jy kry twee silinders, 25 kW en 50 Nm by vir ʼn R50 000-verskil in prys. Die M240i is beslis ʼn juweel.

Ek sien presies waar BMW sy Gran Coupé mik. Dit is mooi. Dit skep ʼn tweede baan vir BMW met hul nuwe voor- en vierwielaandrywing-aanbiedings. Daar is twee voordele met voorwielaandrywing. Een is brandstofverbruik, die ander is koste. Dit is goedkoper om ʼn voorwielaangedrewe motor te vervaardig.

BMW se Gran Coupé sal direk op Mercedes-Benz se CLA gemik wees. Kom ek vergelyk my gunsteling in die 2-reeks met die CLA:

BMW 220d Gran CoupéMercedes-Benz CLA220d
Enjin4-silinder 2.0 turbodiesel4-silinder 2.0 turbodiesel
Krag140 kW/400 Nm140 kW/400 Nm
Ratkas8-spoed-wringkragomsitter8-spoed-dubbelkoppelaar
0–100 km/h7.5 sek7.1 sek
Topspoed233 km/h244 km/h
Brandstofverbruik4.8 ℓ/100 km4.4 ℓ/100 km
Waarborg2 jaar/onbeperkte km- waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

2 jaar/onbeperkte km- waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

PrysR649 016R687 240

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

kolonel ·

“lieflike klein bomklapper” – meesterlike woordgebruik. 10/10.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.