BMW se R 1250 GS effe opgeknap

(Foto: Verskaf)

By die onlangse bekendstelling van BMW se splinternuwe R 1250 RT, het BMW ook sy opgeknapte GS aan die media gewys. Ná die bekendstelling het BMW vir my ’n R 1250 GS Adventure gebring om vir ’n week mee te ry. Aanvanklik kon ek nie dink wat ek nou nóg kon sê oor een van die gewildste avontuurfietse in die land nie. Daar is egter tog ’n paar noemenswaardige veranderinge wat ’n vermelding regverdig.

Die R 1250 GS, in sy huidige spesifikasie, is in 2019 bekendgestel. Die groot verandering toe was ’n vergrote enjin met BMW se nuwe Shiftcam-tegnologie. Die 1 254 cc-enjin het twee unieke nokasprofiele wat verander na gelang van die lading op die enjin. As jy rustig ry, is die profiel van so ’n aard dat dit die brandstofverbruik verbeter. Sou jy egter verby ’n sekere lading op die enjin gaan, skop die tweede profiel in om kraglewering te verbeter.

(Foto: Verskaf)

Vir 2021 het BMW die elektronika heelwat verbeter. Die nuwe fiets het sewe ryprogramme om van te kies. Wat BMW egter gedoen het, was om die ryer die keuse te gee van watter programme hy wil gebruik. Jy kan enige kombinasie van programme kies, tot ’n maksimum van vier. Elke ryer sal die fiets kan opstel soos hy dit verkies. Daar is selfs nou ’n ECO-program. Alhoewel ek nie kan sien dat enige avontuurryer dit sal kies nie, bied dit tog ’n mate van sinlikheid aan die groot GS. In ECO is daar ’n groen grafiek op die instrumentepaneel wat vir jou aandui hoe ekonomies jy ry. Die fiets probeer egter eintlik sy bes om jou in die eerste klepprofiel te hou.

Daar is ook nuwe kleuropsies beskikbaar, onder meer die “40 years of GS”-weergawe. Hierdie fiets is afgewerk in swart met heldergeel aksente.

’n Verdere elektroniese bywerking is ABS Pro. Die voorrem aktiveer voor- én agterremme, waar die voetrem net die agterrem aktiveer. ABS Pro is ook verantwoordelik vir Hill Start Control. Dit rem die fiets as hy agterkom jy stop teen ’n helling.

(Foto: Verskaf)

Die R 1250 GS is gemaak vir langafstandtoer, so BMW het nou ook aandag gegee aan die beligting. Al die ligte is LED-eenhede, maar die grootste verskil is die nuwe voorlig. As jy die fiets aansit, sal jy sien die hele lig beweeg af en dan weer terug na die middelposisie. Dit is BMW se weergawe van aanpasbare beligting. Die voorlig is in twee dele opgedeel. Aan die linkerkant (as jy die fiets van voor bekyk) is ’n sirkelvormige lig en aan die regterkant sit twee LED-lampe. Hierdie twee lampe is verantwoordelik vir die kopligte. Die hele eenheid kan op en af beweeg met 2 grade na gelang van die lading op die fiets. Dit is egter die ronde een wat die grootste rol speel. Sou jy in ’n draai gaan, bly daardie eenheid horisontaal wat dan vir jou beter beligting gee in ’n draai. Dié lig bied beweging van 70 grade, 35 grade in elke rigting.

BMW se R 1250 GS bly ’n formidabele fiets, en in die Adventure-spesifikasie seker die mees stabiele fiets op grond wat ek nog gery het.

Daar is reeds sprake van ’n 1300-weergawe wat in wording is, maar daarvoor sal ons seker nog so twee jaar moet wag. Tot dan, geniet die 1250 met al sy nuwe elektroniese tierlantyntjies!

Spesifikasies:

Enjin1 254 cc-bokserenjin
Gewig (Nat)268 kg
SaalhoogteVerstelbaar: 890 mm/910 mm
Tenkkapasiteit30 L
PrysVanaf R343 700

Klik hier vir die produkblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

VaalDonkie ·

Ek hoop net Shift-cam is meer betroubaar as VANOS. Want ek wil nie in Zambia moet gaan soek vir ‘n BMW werkswinkel nie.

Francois Le Cochon ·

Het mens n 1250 nodig. Noraly Schoenmaker het al meer as 15000km deur SA, Namibie en tans Botswana gery op n Honda CFR250. Kyk gerus Itchy Boots se seisoen 5 op Youtube.

Fritz ·

n Fiets is n speelding. Jy koop hom omdat jy hom wil hê, nie omdat jy hom nodig het nie. Die ideale getal fietse is N+1, waar N die getal is wat jy tans besit. :):)

Karel Kobus Kruger ·

Daar is darem maar min dinge so mooi soos n mooi geweer en n mooi motorfiets.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.