BMW se R 1250 RT, GS en GS Adventure  

(Foto: Rob Till/BMW)

BMW se R 1250 RT was nou al lank reg vir ’n opkikkering. Die fiets se analoog instrumente het uitgestaan soos ’n seer duim in die R-reeks fietse. Nie net het BMW die instrumentasie vervang nie, hulle het ook ’n hele rits ander opdaterings gedoen. BMW het tydens die bekendstelling ook van die geleentheid gebruik gemaak om ons te vertel van opdaterings aan die GS-reeks.

BMW R 1250 RT

BMW se RT-fietse is alombekend as uiters goeie toerfietse. Ongelukkig bestaan Suid-Afrika se padnetwerk grotendeels uit grondpaaie, so mense wat vir hulle ’n toerfiets koop, loop gewoonlik reg by die RT verby na die GS toe. Hier droom hulle van avonture die boendoes in, maar die realiteit is dat ’n baie groot persentasie van hierdie fietse nooit ’n grondpad sien nie. Verder is die persepsie ook dat die RT ’n fiets vir ouer ryers is. Die RT begin dus op die agtervoet nog voor hy sy staal kan wys. BMW het egter heelwat veranderinge aangebring wat kopers dalk net sal oortuig om die RT op hulle kortlys te sit.

Eerstens, die 1250 cc-enjin is steeds die 100 kW eenheid met ShiftCamtegnologie wat ook in die GS gebruik word. BMW het nou ekstra ryprogramme bygesit – onder meer ’n Eco-program vir mense wat ’n lae brandstofverbruik verkies bo maksimum verrigting.

(Foto: Rob Till/BMW)

Die hele voorkant is herontwerp om die fiets ’n baie meer sportiewe voorkoms te gee. Die ligte is kleiner en meer elegant en beskik ook oor die vermoë om die binnekant van ’n draai te verlig as die fiets leun. Maar dit is die klein swart vierkantjie onder die ligte wat my aandag getrek het. Dit is BMW se aanpasbare spoedbeheer sensor. Jy kan op die snelweg die spoedbeheer stel om die voertuig voor jou te volg. Sou die voertuig spoed verminder of vinniger ry, sal die RT die afstand handhaaf. Dit was die vreemdste gevoel om beheer oor te gee aan die fiets en hom toe te laat om sulke besluite te neem.

Die ander welkome toevoeging is die 10,25” TFT- skerm. Die skerm is lank en laat jou toe om ’n deel van die skerm toe te wy aan iets soos navigasie. Die RT beskik ook oor verhitte sitplekke en handvatsels. Om dit te verstel is egter nie so maklik nie. Voor jou linkerknie is vier knoppies. Druk nommer 2 en die verhittings opsies verskyn op die skerm. Dan moet jy die BMW-wiel op die handvatsel draai tot die verlangde posisie en dan ’n ander knop druk om die keuse te bevestig. Probeer dit bietjie teen 120 km/h!

Op die pad is die RT ’n ongelooflike fiets. Die saal is uiters gemaklik en die verstelbare windskerm maak dat jy feitlik geen wind op jou kry nie. Dit maak van enige rit ’n ontspanne een. Ons was deur Robinsonpas en die RT het nie een voet verkeerd gesit nie.

BMW R 1250 GS en GS Adventure

(Foto: Rob Till/BMW)

Ons het in 2019 die eerste keer kennis gemaak met die nuwe 1250 cc-enjin in ’n GS. Vir 2021 is daar vier nuwe kleure om uit te kies, ’n paar nuwe ry-programme en ’n USB-sok op die instrumentepaneel. En dit is omtrent dit. Net soos met die RT is daar ook die aanpasbare ligte en verhitte sitplekke bygevoeg. Ons het oor Montagupas gery en op die Paardepoortpad was ek uiters beïndruk met die vering op die Adventure. Ek was nou al met verskeie fietse hier deur en ek moet sê die Adventure het moeiteloos oor die klippertjies gery.

Die BMW R 1250 GS het homself deur en deur bewys hier in Suid-Afrika en die nuwe RT het alles wat jy nodig het vir die langpad.

Pryse is soos volg:

BMW R 1250 RT

Full Spec Alpine WhiteR 341 600
Style Elegance Manhattan MetallicR 350 100
Style Sport Racing BlueR 353 100

(Foto: Rob Till/BMW)

BMW R 1250 GS

Light WhiteR 322 900
Triple BlackR 333 400
Style Rallye Package (HP)R 336 400
Special Edition 40 Years of GSR 350 400

BMW R 1250 GS Adventure

Ice GreyR 343 700
Triple BlackR 352 200
Style Rallye Package (HP)R 354 300
Special Edition 40 Years of GSR 368 700

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Boerkind ·

Sjoe, dit is ‘n groot klomp geld vir ouer tegnologie enjins… KTM se avontuurfietse en Ducati se nuwe Multistrada raak meer aantreklik…

Karel Kobus Kruger ·

Die USB sok is n goeie idee.
Nog n goeie ding is dat jy kan kies of jy al die onnodige dinge soos quick shift en cruise control wil hê of nie (vir die 850GS in elk geval, het nou die aand bietjie op BMW Motorrad se webwerf gespeel).

Maar dit maak nie juis saak watter fabrikaat jy vat nie. KTM, Honda, Triumph, Kawasaki ens. maak ook fantastiese fietse. Solank jy net lekker laaaang toere doen en mooi foto’s kry. Probeer om meer as net breakfast runs of kort naweek trippies te doen.

Four wheels move the body, two wheels move the soul.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.