BMW se R 18-motorfiets beïndruk met gehalte, klassieke lyne

(Foto: Verskaf.)

Harley-Davidson kry swaar in die VSA. Nie net omdat hulle getroue kliënte al hoe ouer word nie, maar omdat al hoe meer ander vervaardigers op Harley se voorstoep kom amok maak. Indian het in ’n baie kort tydjie heelparty uitstekende modelle uitgebring, en meer moderne fietse soos die Honda Goldwing en die BMW K1600-reeks krap ook in Harley se slaai.

Nou het BMW die aanslag verskerp met die bekendstelling van die BMW R 18. Hierdie fiets is sonder twyfel direk gemik op die Amerikaanse mark. BMW het sy bewese bokserenjin ’n stewige hupstoot gegee en die kapasiteit opgestoot na 1802 cc vir die R 18. BMW het onlangs net die enjin alleen bekendgestel en dit is werklik ’n stukkie kuns. Die bokserenjin kom al ’n lang pad sedert BMW se produksie begin het in 1923 en hierdie eenheid is steeds lugverkoel. Met 91 pk beskikbaar teen 4 750 rpm klink dit nie na veel nie, maar ’n allemintige 150 Nm wringkrag is beskikbaar tussen 2000 en 4000 rpm.

Natuurlik is die afwerking op die nuweling uitmuntend. Die raam is van staalpyp gemaak en die hele ontwerp van die R 18 trek op die legendariese BMW R 5. Die agterste dryfas is ontbloot en alles is uitstekend afgewerk. Daar is geen onooglike kabels sigbaar nie en ek kan vir ure staar na al die detail op die fiets.

Uit die staanspoor het BMW nie elektroniese verstelling van die vering ingebou nie. Die voorste vering is tradisionele teleskopiese vurke wat netjies omhul is met metaalbuise, net soos die BMW’s van ouds. Die agterste vering is só ontwerp dat dit lyk of die raam van die tenk tot by die agteras aaneen loop, maar dit bevat wel ’n sentrale skokbreker en bied 90 mm beweging. Die speekwiele rond die prentjie mooi af.

Hoewel die R 18 deurgaan as ’n “cruiser” twyfel ek of die fiets so gemaklik gaan wees op ’n lang rit. Tradisioneel sit fietse in hierdie klas se voetkontroles voor op die fiets wat jou bene feitlik reguit maak. Die R 18 het egter twee yslike silinderkoppe daar, so die voetruste sit in die middel van die fiets. Die saal is maar 690 mm van die grond af, dus sal ek eers self op die fiets moet sit om te oordeel of hierdie wel ’n optimale sitposisie is. Die uitlaatpype se kurwes is vir my oordoen, maar ek is seker dat BMW aan die streng Europese standaarde vir uitlaatgasse moes voldoen en nie veel van ’n keuse gehad het nie.

BMW het darem nie heeltemal hulle elektronika laat vaar op die R18 nie en die fiets bied steeds verstelbare ryprogramme en selfs ’n trurat. Die fiets help ook die ryer om teen ’n helling weg te trek deur die voorrem te trek, sou jy teen ’n helling stop. Hierdie funksie het ek al beleef met die R 1250-reeks fietse en dit is baie nuttig.

Die R 18 het klassieke lyne en oral is die afwerking van die hoogste gehalte. BMW is ook reg met ’n uitgebreide reeks bybehore om jou R 18 uniek te maak. Hierdie fiets behoort teen die laaste kwartaal van die jaar hier in Suid-Afrika beskikbaar te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.