Die motorbedryf is ʼn fantastiese ding. Ek is 37 jaar oud en vandat ek kan onthou, verwonder ek my aan karre. Groot, klein, sterk, mooi en lelik – elkeen het ʼn storie. Al is daar modelle uit toentertyd wat vir my bitter mooi is en meer karakter het as die meeste moderne rygoed, is daar een ding wat onweerlegbaar is as dit kom by moderne karre: krag!
Toe supermotors begin gewild raak in die sestig‑ en sewentigerjare, was die resep eerder liggewig met net genoeg krag. Deesdae se vervaardigers toor met vering en remme… en enjins. Ons was onlangs by die bekendstelling van BMW se verskriklike X5 en X6 M Competition.
Dié syfers het my betower: 460 kW en 750 Nm van ʼn turbo-aangejaagde 4.4 liter V8. Dit neem ʼn verstommende 3.8 sekondes van 0 – 100 km/h. Ek weet hy sal redelik vinnig 260 km/h haal, maar ek’s oortuig dat hy hier bó op die platorand oor die 300 km/h sal haal danksy dunner lug en laer windweerstand.
BMW het sy X5 en X6 gewys. Ek is persoonlik nie ʼn liefhebber van die koepee-bakstyl op ʼn sportnuts nie. Die X5 is vir my regtig netjies en sy proporsies in die kol. Vir dié wat van die koepee-styl hou, sal die X6 pragtig wees.
Die binneruim is soos enige ander BMW bitter netjies aanmekaar gesit. Ek hou baie van die bestuursposisie en die ergonomie van ʼn BMW‑kajuit. Ek en my rymaat was ʼn bietjie onkant betrap deur die nuwe M-stellings en waar om hulle mooi in te stel. Ons het dit naderhand baasgeraak, maar dit laat die vraag ontstaan: eerstens, hoekom is dit só ingewikkeld, én hoekom het ʼn M BMW nie net twee stellings nie. Rustig as vroulief in die kar is; mal as sy nie is nie?
- Die BMW X5M Competition. (Foto: Verskaf)
- Die binneruim van die BMW X5M Competition. (Foto: Verskaf)
Die kajuit is met elke denkbare luuksheid gepeper. Dit is ʼn aangename plek om te sit, en die sitplekke sit verskriklik lekker. Die Bowers & Wilken‑klankstesel is fantasties. Daar is ʼn magdom aktiewe en passiewe veiligheidstelsels om ʼn mens veilig te hou soos ses lugsakke, ABS, EBD, vastrap‑ en stabiliteitsbeheer en aan die aktiewe kant baanbeheer, remhulp, botsingwaarskuwing, radarbeheerde spoedkontrole en dies meer.
- Die binneruim van die BMW X6M Competition. (Foto: Verskaf)
- Die binneruim van die BMW X6M Competition. (Foto: Verskaf)
Dit bring my by die kern van die M’e. Die kragtigste letter in die wêreld sê BMW… daai asemrowende V8. Hy bied 460 kW teen 6 000 r.p.m., maar wat amper meer indrukwekkend is, is die kolossale 750 Nm tussen 1 800 en 5 600 r.p.m. Sjoe! Die enjin saam met BMW se puik 8-spoed ZF-ratkas en xDrive‑vierwielaandrywing maak van dié X’e asemrowende rygoed.
Op die pad voel die X5 effens sagter as die meer rigiede X6. Ek verkies die X5, maar die X6 is beslis meer indrukwekkend en direk op ʼn renbaan. Ek vra myself egter af hoe gereeld neem eienaars hul X M’e op renbane? Op die pad blink die X5 uit bó die X6.
Ek hoor die mense gil – hoekom? Dis eenvoudig. Omdat BMW kan én omdat hul eienaars ook kán. Suid-Afrikaners is baie lief vir ons hoëverrigtingweergawes. Ons is die derde grootste M-land ter wêreld – indrukwekkend. Ek weet hoekom… daai lettertjie agter op ʼn motor is onweerlegbaar.
Die reeks lyk só:
BMW X5M Competition | R2 632 258 |
BMW X6M Competition | R2 733 420 |
Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan.
Ons sal weer tyd met die X5 deurbring en sien hoe hy hom in die daaglikse roetine gedra, maar tot dán – hier is sy direkte mededingers:
Jeep Grand Cherokee Trackhawk | 522 kW/875 Nm | 3.5 sek | 290 km/h | 3 jaar/100 000 km‑waarborg 6 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan | R2 205 995 |
Porsche Cayenne Turbo | 404 kW/770 Nm | 3.9 sek | 286 km/h | 2 jaar/onbeperkte km-waarborg 3 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan | R2 353 000 |
Range Rover Sport SVR | 423 kW/700 Nm | 4.5 sek | 280 km/h | 5 jaar/100 000 km‑waarborg en omvattende instandhoudingsplan | R2 555 970 |
Ons wag nog vir Audi se RSQ8 en Mercedes-AMG se GLE 63, maar hulle is ook in dié kryt. Gaan kyk na almal; een gaan jou hart steel. Ek is wel bang vir die atoombom onder die Jeep se kajuit; ek dink nie sy padhouvermoë gaan kan kers vashou by die ander nie.
Die BMW X5M Competition:
- Die BMW X5M Competition. (Foto: Verskaf)
- Die BMW X5M Competition. (Foto: Verskaf)
- Die BMW X5M Competition. (Foto: Verskaf)
- Die BMW X5M Competition. (Foto: Verskaf)
- Die binneruim van die BMW X5M Competition. (Foto: Verskaf)
Die BMW X6 Competition:
- Die BMW X6M Competition. (Foto: Verskaf)
- Die BMW X6M Competition. (Foto: Verskaf)
- Die BMW X6M Competition. (Foto: Verskaf)
- Die binneruim van die BMW X6M Competition. (Foto: Verskaf)
- Die BMW X6M Competition. (Foto: Verskaf)
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
3 Kommentare
Die BMW se prys is mal. Selfs die ander voertuie. Koop eerder n huis.