BMW se substansiële sportnuts

Die BMW X7. Foto: Verskaf

BMW is besig met ʼn hernuwing van sy allerluuksste voertuie. Nie dat ʼn 3-reeks nie luuks is nie, maar BMW, soos sy twee groot Duitse mededingers, is gewild vir groot, hiperluukse voertuie wat die Autobahn kan verorber.

Daar is ook ʼn wêreldwye neiging van mense wat eerder ʼn sportnutsvoertuig wil hê as ʼn groot sedan. Die X5 is lieflik, maar in BMW se oë is daar plek vir nóg. Ek stem met hulle saam. Reg oor die wêreld is daar baie mense wat die geld het vir iets beter as ʼn X5. Welkom aan BMW se splinternuwe X7.

Die ontwerp is vir my regtig mooi. Eintlik meer grênd as mooi. Magistraal … dís die woord. Die X7 is groot en BMW se kenmerkende “kidney grille” nóg groter. Volgens my werk dié ontwerp. Dit bereik wat ek sou wou doen met dié voertuig.

Die BMW X7. Foto: Verskaf

Die binneruim is regtig waar dinge mooi raak. Die X7 het sitplek vir sewe, óf ʼn mens kan kies om die opsionele ses sitplekke te kies. Dán word die middelste sitplek in die tweede ry verwyder, en dié wat oorbly kry ʼn armleuning en word meer soos ʼn rusbank. Die tweede ry sitplekke skuif elektries vorentoe om plek te maak vir die passasiers wat heel agter in die bus wil ry.

Daar is drie-sone klimaatbeheer en elke sitplek het ʼn knoppie om hom oop en toe te vou. Die kattebak met die derde ry sitplekke gebêre is enorm … en met hulle oopgevou groot genoeg vir ʼn koffer of twee.

Die BMW X7. Foto: Verskaf

Die X7 word aangedryf deur ʼn keuse van drie enjins. 30d, 50d of M50i wat later in die jaar by die twee dieselmasjiene sal aansluit. Ek het onlangs gesê – die twee diesels is puik. Die 30d heeltemal voldoende, maar die 50d met sy vier turboaanjaers is asemrowend. Die 30d bied 195 kW en 620 Nm. Hy draf tot 100 km/h in 7 sekondes en hou aan tot 227 km/h terwyl hy 7 ℓ/100 km op die gekombineerde siklus kan handhaaf. Die 50d bied 294 kW en 760 Nm. Hy haal van stilstand tot 100 km/h in 5,4 sekondes en is beperk tot 250 km/h terwyl hy slegs 7,3 ℓ/ 100 km benodig op die gekombineerde siklus.

Die BMW X7. Foto: Verskaf

Op die pad voel die X7 nie veel groter as ʼn X5 nie. Dit is maklik om te bestuur en die lugvering maak die rit lieflik sag en gemaklik. In comfort-rymodus is daar taamlik bakrol om die rit so buigsaam te kry. Sit die rymodus in sport en hy word skielik baie harder en kan dán soos ʼn maniak die draaie aandurf.

Die BMW X7 is vir my indrukwekkend. Indien ʼn reuse- hiperluukse sportnutsvoertuig jou hart roer, moet hom nie miskyk nie. Ons sal weer tyd met hom deurbring en dán beter berig oor hoe hy in die verkeer voel en hoe hy teen sy mededingers vergelyk. Gaan toetsbestuur een, maar wees bereid om stomgeslaan te word.

Die reeks lyk só:

X7 xDrive 30d195 kW/ 620 Nm7 ℓ/ 100 kmR1 554 500
X7 xDrive 30d M Sport195 kW/ 620 Nm7 ℓ/ 100 kmR1 623 500
X7 xDrive 30d Design Pure Excellence195 kW/ 620 Nm7 ℓ/ 100 kmR1 596 600
X7 xDrive M50d294 kW/ 760 Nm7,3 ℓ/ 100 kmR1 853 200

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/ onbeperkte km waarborg en 5 jaar/ 100 000 omvattende instandhoudingsplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

HPV ·

Het BMW nou gaan kers opsteek by die Chinese, die verlede of Disney se Cars met die vooraansig?
Nee hierdie een moet maar verbygaan.

Dropkick ·

Dit is nie n mooi kar nie, maar die 50d enjin behoort awesome te wees in enige motor.

Jacques ·

Sjoe! Wat ‘n lelike ding! Die mooi BMW’s van ouds is daar nie meer nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.