BMW se vlagskipfiets

Die BMW K 1600 GTL (Foto: Brian Cheyne)

Die term “vlagskip” is in die ou dae toegeskryf aan die skip van die bevelvoerder van ʼn groep skepe. Dit was gewoonlik die grootste, vinnigste en bes bewapende van die groep. Deesdae word die term oral in besigheid gebruik om die maatskappy se duurste of beste produk aan te dui. Dit was die enigste woord waaraan ek kon dink toe ek die BMW K 1600 GTL gekry het vir ʼn toets. Ek het nie nog byvoeglike naamwoorde geken om hierdie fiets te beskryf nie, so as BMW se vlagskip pas hy perfek in sy rol.

Die GTL vertoon groot maar verbasend genoeg; as jy opklim, is alles maar net waar jy dit sou verwag. Die saal is laag, en jou arms hoef nie so lank te wees dat jou kneukels op die grond sleep om die handvatsels by te kom nie. Wat jy wel opmerk, is die gewig. Die fiets weeg 350 kg en is ʼn meter breed, so maer is hy beslis nie.

Die BMW K 1600 GTL (Foto: Brian Cheyne)

Alles aan die fiets is egter laag gemonteer om die swaartepunt so laag moontlik te kry. Visueel verskil die 2017-model nie veel van laas jaar s’n nie. Die kantpanele is meer hoekig as die vorige model, en die GTL-embleem sit nou meer prominent. Daar is ook klein paneelkissies aangebring in die stuk wat die wind oor jou bene gelei. Die kantspieëls het ook ʼn opkikkering gekry en is nou groter met ʼn insetsel wat jou blindekol dek.

Die standaardtoerustinglys sluit in: sluitwering, verhitte handvatsels en saal, spoedbeheer, drie sluitbare en verwyderbare tasse en Xenon-hoofligte wat die leunhoek van die fiets in ag neem en jou pad dienooreenkomstig verlig. Die tasse hou ʼn gesamentlike volume van 117 L, so jou agteroppie kan maar gerus haar smuktassie ook saamvat.

Die kanttasse maak na buite oop en het ʼn effe onpraktiese ontwerp wat aërodinamika bo bruikbaarheid gestel het. Nogtans vat al twee tasse ʼn volgrootte valhelm met gemak. Die mees bruikbare byvoeging is egter die trurat. Dit is baie handig op so ʼn groot fiets en het my baie vertroue gegee om enige plek te stop, wetend dat ek die fiets veilig sal kan terugstoot.

Die BMW K 1600 GTL (Foto: Brian Cheyne)

Die instrumentepaneel het twee analoogwysers vir spoed en toere, en in die middel ʼn vloeikristal-eenheid wat ander inligting bevat. Al meer motorfietse kom deesdae uit met ʼn volledige digitale skerm en ek dink nie dit gaan lank neem voor BMW daardie roete gaan volg op die GTL nie. Tans is daar ʼn aparte plek vir die opsionele GPS, en ek dink in die toekoms sal een digitale eenheid al daardie rolle kan vervul.

Die vering is heeltemal outomaties en pas aan by die lading. Daar is drie ryprogramme om van te kies, naamlik Road, Dynamic en Rain. Ek was die naweek uit Red Star-renbaan toe en dit was heelpad soontoe maar reënerig. Ek het die skerm op sy hoogste gestel, en so 100 km/h gehandhaaf, en ek was verbaas hoe doeltreffend die BMW was om my droog te hou. Met die ryprogram op Rain kon ek duidelik die verskil in kraglewering voel.

Die BMW K 1600 GTL (Foto: Brian Cheyne)

Op die pad het ek net lof vir die groot BMW gehad. Met die opsionele snelskakeling was die ratverwisseling moeiteloos, en my agteroppie was baie beïndruk met die gemak van die agterste leunstoel. Ek dink die opsommende woord is: moeiteloos. Ek kon werklik nie groot fout vind met die GTL in sy rol as toerfiets nie. Die klein paneelkissies wat by jou voete gemonteer is, is onprakties laag, en dit is omtrent die slotsom van my kritiek. Ek wil net die horisonne gaan opsoek met hierdie fiets, en ek weet hy sal my in uiterste gerief by elkeen besorg.

Vir meer inligting, besoek die produkblad.

In ’n neutedop:

Enjin1649 cc, inlyn-6-silinder
Gewig (Nat)350 kg (Nat)
Maksimum kraglewering118 kw/160 pk teen 7750
Saalhoogte75 cm
Tenkkapasiteit26.5 L
PrysR306 990

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

anton ·

Hierdie fiets is werklik in n ander klas!!!
Maar is beslis nie n fiets wat jy elke dag mee wil rondry in die stad nie. Gee hom die oop pad en hy ”vreet” die km’s op sonder dat jy dit eintelik agterkom.

Chris ·

Dit lyk werklik na ‘n “droomfiets” as daar so iets bestaan. Ek het in my lewe ook BMW motorfietse besit. Daardie jare is dit as ‘n “oumansfiets” beskou. Ek het baie ure op die fiets spandeer. Net plesier en pret gehad. Was nie baie vinnig nie maar gerieflik. Ek is bly BMW het “bygekom” en het nou baue meer modelle beskikbaar. Jy hou van ‘BM of nie. Persoonlike smaak. Nie net medici, boekhouers en vaaljanne besit hulle deesdae nie.

Anoniem ·

As passasier kan ek waarborg dat ek uiters gemaklik saamry.

Deon Venter ·

Het 2013 GTL met 5000km, maar niemand wil my fiets he nie.

anton ·

Deon, jy kan hom maar aan my skenk. Ek sal hom enige tyd vat dankie. :-)
Hoekom wil jy elkgeval van so n lekker fiets ontslae raak?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.