Bobaas sleeptuie!

In die Staniforth-huis tel ons tans ons seëninge. Vroulief het vir ons ʼn nuwer karavaan gekoop nadat ons ou 1992‑Sprite SuperSport begin tingerig raak het en ʼn mens werklik sag met hom moes werk om skade te voorkom.

In sy plek sit ʼn pragtige 2013‑Sprite Swing. Ons is heel in ons noppies en het hom nou die dag in Bloemfontein gaan haal.

Om die woonwa te gaan haal het ons met ʼn Toyota Fortuner 2.8 GD-6 VX 4×4‑outo gesleep. Ons moes die ou wa saam sleep want die koper het hom uit Despatch gekoop en sou ons in Bloem kry… baie nader vir hulle. ʼn Leë karavaan trek darem heel lig, en soontoe het die wind mooi saamgewerk.

Na 941 km en 12,8 ℓ/100 km stop die ’Tuner terug by die huis met die nuwe Swing aan sy stert vas. Die nuwe karavaan sleep heelwat meer stabiel as die oue. ʼn Groot pluimpie vir die Fortuner is die derde ry sitplekke. Ons het drie kinders en sodra hulle al drie langs mekaar moet sit in die tweede ry, word daar gekla oor wie op wie se stoel is, wie se bene raak aan wie s’n en só aan. Dus kan ons die oudste tot heel agter skuif. Dit is dan sy werk om die koelboks te bestuur en seker te maak niemand ontwater nie.

Die Fortuner spog met 150 kW en 500 Nm… voorwaar sterk, en die nuwer kalibrasie op die wringkragomsitter werk puik as jy sleep. Die ratkas skop mooi vas in sesde rat hier by 110 km/h en die omwentelinge daal onder 1 800 r/min. En só eet die Fortuner 941 km in een dag op, met ʼn karavaan en 120 liter brandstof… teen R27,50 – eina!

Dis dol by die werk, en die eerste kans wat ons kry om al die tente en dinge te gaan opslaan, was die naweek wat verby is – ja, in die koue en wind.

Die kinders se peetouers bespreek vir ons plek by Klein Paradys net buite Brits. Inderhaas soek ek ʼn sleeptuig. Nissan het vir my ʼn Navara Pro4X. Dit sal puik werk want ek het laas met die vorige model Navara Buffelspoort toe gesleep, en was nie beïndruk met die sagte vering nie.

Nissan lewer ʼn amper splinternuwe Navara by die huis af. So ʼn mooi gryse. Die voertuig se onderstel blink nog, só nuut is hy. Die woonwa is gelaai. Daar moet net ʼn sak hout en drie fietse agterop die bak kom. Joeg, dis lekker om met ʼn bakkie te sleep want jy wil sekere goed nie binne die karavaan laai nie.

Brits is darem heelwat nader as Bloemfontein, so ons hoef nie té veel te bekommer oor ʼn derde ry sitplekke vir die tiener nie. Hulle is darem opgewonde om te gaan kamp, en bly dis naby, so niemand kla oor die ander se bene nie.

Wat heel eerste beïndruk, is hoe min die stert sak as jy die wa haak. Die nuwe Navara het steeds kronkelvere agter, maar Nissan het ʼn haas uit die hoed gepluk om te verhoed dat die Navara se boude so hang as hy vrag dra. Welgedaan Nissan!

Die nuwe karavaan se wiele het nie gepas nie. Die spaar‑ en regterwiel was Velocity-bande waarmee die karavaan uit die fabriek uitgerol het. Dis 2013. Bande mag nie ouer as vyf jaar wees nie… andersins kan ʼn mens in allerhande moeilikheid beland met die versekering indien iets skeefloop. Die linkerwiel is ʼn 2021‑Goodyear Duramax. Ek het ʼn kontak daar en bel gou om te hoor of hul nog die Duramax vervaardig. Hul doen inderdaad. Sy sê vir my dat die Duramax die markleier is as dit kom by taxi-bande. Nou goed. Sy reël dat ek twee bande teen ʼn goeie prys by TyreMart in Montana gaan pas… nie 2 km van die huis af nie. TyreMart vul die nuwe bande met stikstof en pomp hulle 2,5 bar soos ek hulle vra. Die bande sal glo effens koeler loop met stikstof in – en dit help op die langpad sleep. Puik.

Die nuwe Navara, en die Swing my sy nuwe tekkies, voel vreemd. Uitermatig stil en glad. In Jan Bantjiesweg is daar ʼn klomp hobbels. Ek sal dit hier sê. Daar is geen bakkie (behalwe ʼn Ford Raptor) wat só sag oor ʼn hobbel kan ry met sy agterwiele nie. Die tweede ding wat vinnig beïndruk, is die kalibrasie van die enjin en ratkas. Die 7-spoed‑outo wissel seepglad ratte, en lekker laag in die toerestrek. Op die R566 is ons maar versigtig vir die slaggate. Teen 90 km/h luier die Navara teen ʼn bitter lae 1 300 r/min… en lieflik stil.

Met Sondag se terugkeer huis toe is daar minder verkeer. Dié was ʼn kort sleeptog – net 137 km soontoe en terug – maar die Navara sleep soos ʼn droom. Stil, stabiel en sterk. By die huis wys die rekenaartjie 11,8 ℓ/100 km – heel goed vir sleep, veral as die wind waai.

Dit was ʼn storie om die nuwe pale en tente uit te pluis, maar dis gedoen – en alles is heel. Einde Oktober sleep ons weer Buffelspoort toe, dié keer met ʼn elektriese Audi e-tron!

Die twee sleeptuie lyk só:

ModelKragBrandstof-verbruikSleep-kapasiteitWaarborgPrys
Toyota Fortuner 2.8 GD-6 4×4 VX outo150 kW/ 500 Nm7,9 ℓ/100 km (WLTP)3,3 ton3 jaar/100 000 km‑waarborg

9‑dienste‑diensplan

R870 900
Nissan Navara 2.5DDTi Pro4X 4×4 outo dubbelkajuit140 kW/ 450 Nm8,1 ℓ/100 km (WLTP)3,5 ton6 jaar/150 000 km‑waarborg

6 jaar/90 000 km‑diensplan

R812 900

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wielspore ·

Ons as groot ouers gaan nou weer kamp saam met die kleinkinders. Ek het die TCross verkoop en ‘n 2022 7 sitplek VW Caddy Kombi aangeskaf met die 2.0 diesel enjin. Toevallig het ons gister middag ons 1999 Gypsey Raven gaan haal wat ons by ‘n veiling gekoop het. My proef lopie was 48 km oor Kaapsehoop wat in opsig self nogal ‘n uitdagende roete is oor die berg. Kan omtrent nie wag vir daardie eerste kamp. waarskynlik gaan dit Badplaas wees. Lekker sleep en kamp.

Chris dupreez ·

Woonwa kamp is die lekkerste. Ons self het n Gypsey Regal wat ek sleep met n Audi Q7 3.0 tdi. Ons het in Mei getoer deur Noord Kaap, Weskus langs ,Hermanus en terug Pretoria toe. Ek het n gemmidelde diesel verbruik van 8,2 km/l gekry en is baie tevrede. Gaan November vir n maand Rocky Bay toe in Natal. Vorspoed en lekker kamp

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.