Brabus en KTM – ʼn onwaarskynlike samewerking

Die maatskappy Brabus GmbH is in 1977 gestig met die fokus om motors ʼn hupstoot in krag te gee, asook te verpersoonlik. Oorspronklik het die groep aan enige motor gewerk, maar oor die jare het hy hom begin toespits op Mercedes-Benz-, Smart- en Maybach-modelle. Dié klante is noodwendig mense met diep sakke, hoë standaarde en hoë verwagtinge. Die verrigting moet dus jou asem wegslaan en die meegaande afwerking en bougehalte moet natuurlik van die hoogste gehalte wees.

Brabus het onlangs uitgebrei om bote te bou en te verpersoonlik, en nou het hy verder uitgebrei om ʼn eksklusiewe motorfiets te bou. Hiervoor het hy KTM genader om te hoor of dié maatskappy wil saamwerk aan so ʼn projek. Die resultaat is die Brabus 1300 R.

Die KTM 1290 Super Duke Evo, waarop die Brabus 1300 R gegrond is, is alreeds ʼn indrukwekkende fiets. Brabus hoef nie eens met die enjin te gepeuter het nie, want die V-Twee-enjin lewer 180 pk met 140 Nm wringkrag. Dít is die verrigting wat mens verwag van enige produk met die Brabus-naam op. Nou moes hulle nog net die visuele elemente gereedkry om die fiets onmiskenbaar Brabus te maak. Om die 1300 R eksklusief te maak, het Brabus besluit op twee kleurskemas: Magma Red en Signature Black. Van elke kleurskema sal net 77 eksemplare gebou word. Die getal 77 verteenwoordig die jaar waarin Brabus gestig is.

Natuurlik het hulle die Super Duke se uiters goeie elektroniese hulpmiddels en vering net so oorgedra. Die WP APEX semi-aktiewe vering sorg vir ʼn dinamiese fiets wat hom ewe goed op die pad en die baan sal gedra. Visueel verskil die Brabus egter heelwat van die Super Duke. Die koplig is rond met ʼn unieke omhulsel. Daar is twee groot inlate aan weerskante van die tenk en die spieëls is aan die punte van die handvatsels gemonteer. Natuurlik is die meeste van hierdie panele uit koolstofvesel gemaak. Ek sou nie minder verwag het nie.

Die Brabus 1300 R sal sy eie wielontwerp gebruik. Die saal is verhit en word op die unieke Brabus-manier vervaardig en gestik. Verder is verskeie unieke Brabus-onderdele spesiaal vir die 1300 R gemaak.

Die Brabus 1300 R is meer as net ʼn ongelooflike ry-ervaring. Dit staan vir alles wat Brabus is. Luuksheid en eksklusiwiteit.

Weens die eksklusiwiteit en die Brabus-naam kan jy maar seker wees dit gaan nie ʼn goedkoop fiets wees nie. Bestellings het Maandag om 16:00 op KTM se webwerf geopen en die 154 beskikbare fietse is binne enkele minute teen R790 000 stuks opgeraap. Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SjN ·

Overprice, koop eerder 2 nuwe BMW 1250 fietse en nog kleingeld oor vir brandstof.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.