Bussie beter as ʼn sportnuts

Die moderne mode van die sportnutsvoertuig vir ʼn motor met verskeie doele, is ietwat gebrekkig. Kom ek verduidelik hoekom: ʼn SNV bied nie die beste oplossing volgens die aantal sitplekke nie, én indien die derde ry sitplekke gebruik word, is daar nie ʼn kattebak oor om van te praat nie.

Die probleem hiermee is dat Suid-Afrikaners grootliks uiters lief vir reis is. In ons eie land, tussen provinsies en gewoonlik met die hele gesin in die motor geprop, bagasie en al – soms met ʼn Ventertjie agter gehaak op pad vir ʼn naweek weg of ʼn seevakansie.

Indien jy nie ʼn vreeslike 4×4-dryfstelsel nodig het nie, is die beste voertuig vir dié soort reistogte eenvoudig bussies… en daarby gaan ek vasskop soos ʼn steeks donkie.

Die Kia Carnival bied meer spasie, meer sitplekke, min of meer dieselfde krag, maar teen ʼn heelwat beter brandstofverbruik, dieselfde prys en ʼn wesenlik verminderde risiko wat met die gewildste dubbelkajuitbakkies en sportnutsvoertuie gepaard gaan.

Die Kia Carnival is ʼn mooi bussie. Dit lyk sommer luuks. En die mooiste van als is dat dit nie ʼn enorme bus is nie, eerder ʼn slanker veeldoelige voertuig. Dink Mercedes-Benz se V-klas – dieselfde, ja.

Die binneruim is gepeper met pragtige luukshede en agt sitplekke in dié weergawe. Luukse individuele sitplekke wat kan swaai en kantel in elke rigting verseker dat almal mooi gemaklik is. Enig in sy klas het die Carnival die vermoë om sy vensters in die derde ry af te draai; naasbeste is die V-klas s’n wat ʼn bietjie kan uitpop, maar nie afdraai nie. Daar is laaipoorte vir ʼn vale wat elke kind se tablet of slimfoon se battery vol hou en dus tevrede vir die hele rit.

Onder die Kia se kap sit ʼn indrukwekkende 2.2‑viersilinderturbodieselenjin wat 148 kW en 440 Nm bied tussen 1 750 en 2 750 r/min. Die Smartstream-enjin is gepaard met ʼn pragtige 8-spoed‑wringkragomsitter‑ outomatiese ratkas. Dié ratkas wissel seepglad ratte en dryf die voorwiele.

Op die pad toer die Carnival soos ʼn droom. Die ruim kajuit is die eerste voordeel, maar die sterk dryfstelsel maak dit meer gemaklik. Die soepel rit is luuks, maar die brandstofverbruik – ʼn reusepluimpie vir Kia – is in die 7 ℓ/100 km-perk, wat werklik indrukwekkend is vir dié grootte voertuig en baie welkom is met die huidige brandstofprys as jy die langpad aandurf.

Funksies soos truratkamers, spoedkontrole, klimaatbeheer, blindekol‑ en baandwaalwaarskuwing en selfverduisterende truspieëltjies maak elke rit nie net veilig nie, maar ook gemaklik.

Ons het ʼn lieflike reis met die Carnival aangedurf deur Mpumalanga van Gauteng af. Verbasend genoeg is die veelsydigheid van die Carnival – hy sit en ry baie gemaklik en kan ook ʼn grondpad aandurf sonder om ʼn oog te knip.

Wanneer jy na ʼn suksesvolle reis veilig met die gesin in die oprit by die huis stilhou, tevrede voel en lekker uitgerus is, dan dink jy terug oor die reistog en wonder hoekom alles só lekker gemaklik was. Ek is gek oor ʼn bussie.

Die Carnival-reeks lyk só:

Kia Carnival 2.2 CRDi EX 7-sitplekR869 995
Kia Carnival 2.2 CRDi EX+ 8-sitplekR949 995
Kia Carnival 2.2 CRDi SXL 7-sitplekR1 094 995

Die reeks word gedek deur Kia se markleidende 5 jaar/onbeperkte km‑waarborg sowel as ʼn 6 jaar/90 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Ford Tourneo Custom 2.0SiT SWB Limited136 kW/415 Nm6,7 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

Diensplan opsioneel

R843 900
Toyota Quantum 2.8 LWB 6-seat VX Premium115 kW/420 Nm8,7 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

9‑dienste-diensplan

R1 174 800
Hyundai Staria 2.2D Luxury130 kW/430 Nm8,7 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km-voertuigwaarborg

7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg

7 jaar/105 000 km-diensplan

R1 208 900
Mercedes-Benz V250d140 kW/440 Nm7,4 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg

7 jaar/140 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 412 062
Volkswagen Caravelle 2.0BiTDI 146 kW Highline 4Motion146 kW/450 Nm8,2 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/60 000 km-omvattende instandhoudingsplan

R1 436 100

Teen R949 995 is die Kia Carnival ʼn winskoop en sy enigste ware mededinger in terme van grootte is Mercedes-Benz se V-klas wat R500 000 meer kos en geensins luukser is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

De Villiers ·

My huis het nie eers R1 200 000 gekos nie.

Dit beteken dat al verkoop ek my huis ek nie eers so ‘n voortuig sal kan bekostig nie.

Wie betaal R1 400 000 vir enige voortuig?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.