Chery beïndruk met eerste nuwe motor in SA  

Onthou julle die Chery QQ3, J2 en Tiggo? Dit was die drie modelle wat beskikbaar was toe die Chinese vervaardiger Chery in Suid-Afrika beskikbaar was.

Die drie modelle was glad nie fantasties nie, maar die nuwe Chery Tiggo 4 Pro beïndruk.

Dié B-segment-sportnutsvoertuig is Chery se eerste model vir sy terugkeer na Suid-Afrika. Die Chery Tiggo 4 Pro sal meeding met modelle soos Volkswagen se T-Cross, Hyundai se Venue, Kia se Sonet, Renault se Kiger, Nissan se Magnite en dies meer.

Met die eerste oogopslag is die ontwerp werklik netjies. Die binneruim ruik glad nie soos chemikalieë soos wat die geval met die J2 was nie. Die ontwerp is voorwaar modern, netjies en ek durf dit sê: luuks!

Die Tiggo 4 Pro word aangedryf deur ʼn 1,5 l- turboaangejaagde viersilinderpetrolenjin en maak gebruik van palwisseltransmissie (CVT).

Die amptelike bekendstelling is eers volgende maand, maar ons het ʼn voorsmakie van die Tiggo gehad by Gerotek en die eerste indrukke is werklik puik.

Een slegte punt is: As mens hard op die bergroete ry, dan is daar ʼn gedreun van die voorste bande om draaie. Die sementoppervlak is egter regtig sleg, so ek sal my nog nie té veel daaroor bekommer nie.

Een sterkpunt is die stembeheer. Met stemopdragte is die radio beheer en lugreëling gestel. Ek vra toe sommer ook vir die dame om die vensters toe te maak én siedaar. Dit is werklik indrukwekkend en beter as die meeste van die stembeheerstelsels wat ek al teëgekom het.

Die Tiggo se pryse en modelreeks is nog nie bekend nie en ons sal dit eers by die amptelike bekendstelling te wete kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vexed ·

Nou ja manne, daar het julle dit, as julle ‘n Chery soek wat luister as jy praat is dit die een vir jou!

Piet parys ·

Nee wat enige Chinees vervaardige goedere is swak kwaliteit al se julle wat en het geen herverkoop waarde nie . .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.