Chery nie hier om doekies om te draai

Tot nou toe was daar twee nuwe Chery-voertuie beskikbaar – die Tiggo 4 Pro en die Tiggo 8 Pro. Albei beïndruk, maar die 8 is werklik luuks en begin mens se kop swaai rakende Chinese voertuie.

Ons was dié week by die bekendstelling van die Tiggo 7 Pro – ʼn C-segment-sportnutsvoertuig wat vyf sitplekke bied. Sy mededingers is voertuie soos Peugeot se 3008, Volkswagen se Tiguan en Haval se Jolion.

Die ontwerp van die Tiggo 7 Pro is werklik netjies. Die uitleg en die ontwerp van die binneruim beïndruk nét soveel, en waar mens werklik die vordering van die Chinese begin waardeer, is by die bougehalte.

Die binneruim is gepeper met elke denkbare luuksheid. Elektries verstelbare sitplekke, klimaatbeheer, aanpasbare spoedkontrole, raakskerm-inligtingstelsels wat Apple CarPlay en Android Auto bied met ʼn draadlose laaimatjie vir mens se slimfoon mooi onder die middelkonsole weggebêre.

Onder die kap sit Chery se 1.5-viersilinderturbopetrolenjin. Hy bied 108 kW en 210 Nm. Die Tiggo 7 Pro maak gebruik van Chery se palwisseltransmissie (CVT) met nege vooraf geprogrammeerde “ratte”.

Op die oop pad toer die enjin stil, en daar is min turbotraagheid. Dié Chery-enjin se versnellerkalibrasie kan wel nog verbeter aangesien hy eers stadig reageer, en as mens bietjie meer trap, dan spring al die perde op aandag. Daai sensitiwiteit kan verbeter word en soos die meeste Chinese voertuie is die Chery Tiggo 7 Pro ook heel swaar op brandstof. ʼn 220 km-reistog het brandstofverbruik van 9 ℓ/100 km opgelewer. Dit is bitter swaar vir ʼn 1.5-turbo op die oop pad.

Die Tiggo 7 Pro se ritgehalte is heel goed – sag genoeg om gemaklik te wees, maar styf genoeg om ondeunde bakrol te bekamp. Daar is ook ʼn indrukwekkende suite veiligheidstelsels. Die gewone passiewe stelsels soos sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, ses lugsakke, vastrap- en stabiliteitsbeheer is alles daar. Daar is wel ook aktiewe stelsels soos baanhulp, blindekolwaarskuwing, wegtrekhulp en botsingwaarskuwing met noodremhulp.

Dit is maklik om dié Chery op te som. Die Tiggo 7 Pro bied puik waarde en is ʼn mooi voertuig. Die prys is ook puik, maar al waarteen ek sal waarsku, is dat ons nog nie weet hoe sterk ʼn Chery Tiggo 7 Pro sal vaar as dit by waardevermindering kom nie of hoe betroubaar hulle op die lang duur sal wees nie. Hulle bied egter ʼn tienjaar/1 miljoen km-waarborg op die enjin vir die eerste eienaar. Dit sê darem iets.

Die reeks lyk só:

Chery Tiggo 7 Pro 1.5T DistinctionR409 900
Chery Tiggo 7 Pro 1.5T ExecutiveR444 900

Die reeks word ook gedek deur ʼn vyfjaar/150 000 km-voertuigwaarborg, asook ʼn vyfjaar/60 000 km-diensplan.

Ons sal weer tyd met die Tiggo 8 Pro deurbring en hom dán met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.