Chery se nuwe pronkperd onthul

Die Chery Tiggo 9 PHEV word bekendgestel in Beijing. (Foto: Verskaf)

Die Chinese vervaardiger Chery se Tiggo-reeks beïndruk reeds talle Suid-Afrikaners, wat tans ongeveer 1 500 Chery-modelle elke maand koop. Dit verseker elke maand vir Chery ʼn plek onder die top tien motorverkopers, bó handelsmerke soos Renault, Kia, Honda, Mazda en Mitsubishi.

Behalwe dat Chery poog om meer omgewingsvriendelik te wees, geld ʼn nuwe strategie by die Beijing Internasionale Motorskou: Hoe kweek jy ʼn Chery-koper van jongs af tot by aftrede?

Die Chery Tiggo-reeks begin met die Tiggo 4 – ʼn soort intreemodel en ʼn B-segment-sportnutsbuks vir die jongmens of nuwe gesin. Die Tiggo 7 (my gunsteling) sit in die C-segment en bied lekker ruimte, asook puik waarde. Dis vir die ou wat nou die Tiggo 4 ontgroei het. Dan is daar die uiters indrukwekkende Tiggo 8 Pro Max. Sewe sitplekke en hope luukshede, asook ʼn bomklapper-2.0-viersilinderturbopetrolenjin onder die kap – dié is vir die koper wat minder begrotingsbewus hoef te wees en al geleer het van die fyner, lekkerder dinge in die lewe.

Tot dusver het die Tiggo 8 Pro Max-koper nêrens gehad om heen te gaan as hy nóg groter, beter, luukser óf groener wou gaan nie.

Die Chery Tiggo 9 PHEV word bekendgestel in Beijing. (Foto: Verskaf)

Dis nou waar Chery se spiksplinternuwe Chery Tiggo 9 PHEV inkom. ʼn Pragtige D-segment-sportnutsvoertuig met elegante lyne en die allernuutste tegnologie in die kajuit. ʼn Enorme 15.6″- 2.5 HD-skerm vertoon jou inligtingstelsel en items soos CarPlay of Android Auto.

Onder die kap pronk ʼn nuwer weergawe van Chery se 1.5-turbopetrolviersilinderenjin, saam met ʼn elektriese motor en 8-spoed-transmissie. Die Tiggo 9 bied 175 kW en 385 Nm – glad nie te versmaai nie.

Die heel beste element is egter wat die elektriese motor aan die brandstofverbruik doen. Chery beweer ʼn 5.2 l/100 km-brandstofverbruiksyfer op die WLTP-toetssiklus. Só ʼn lae verbruik in dié segment is werklik indrukwekkend.

Die Tiggo 9 PHEV sal reeds in 2024 op eie bodem te koop wees. Ek hoop ons kry kans om agter die stuur in te skuif voordat ons China verlaat.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.