Chery se stormloop onweerlegbaar  

Nuwe motorhandelsmerke is opwindend, ja – ek stem. Aan die ander kant van die munt gee ek wel vir die Chinese en die Indiërs ʼn baie rowwe tyd wanneer hulle substandaard-gemors aan begrotingsbewuste kopers probeer afsmeer aangesien dié kopers op die duur net slegter daaraan af is.

Die meeste kopers lê die skuld vir voertuigpryse voor die vervaardigers se deur, maar die werklikheid is dat sowat 42% van die koste van ʼn nuwe motor te wyte aan belasting van die regering is.

Nietemin – Chery en Haval is waarskynlik tans die gewildste Chinese handelsmerke in Suid-Afrika en daar is sterk mededinging tussen die twee wat uiteindelik goed is vir die eindverbruiker.

Die Tiggo 8 Pro was Chery se vlagskip – ek het destyds opgemerk dat sy sitplekke van die beste is wat ek nog teëgekom het. Chery het nou ʼn luukser 8 Pro, die Max, bekendgestel. Daar is nou ʼn derde ry sitplekke vir ʼn totaal van sewe sitplekke. Die 2.0 viersilinderturbopetrolenjin bied ʼn sterk 187 kW en 390 N – al daardie krag, al is dit indrukwekkend, kom ongelukkig nie gratis nie en die 8 Pro Max is lekker dors.

Die enjin maak van ʼn 7-spoed dubbelkoppelaarratkas gebruik. In beginsel is dit ʼn goeie ding maar slegte versneller- en ratkaskalibrasie maak die Chery moeilik om te parkeer en om terug te stoot uit die motorhuis. Aanvanklik gebeur daar niks nie, en skielik spring die ding weg met meer geweld as ʼn kat wat die duif wil vang wat die heeltyd die hondekos steel.

In terme van binneruimspeelgoed is die Chery propvol gelaai. Ek vind van die funksies ʼn bietjie moeiliker om uit te pluis, maar sodra ʼn mens dit onder die knie het, is dit heel maklik. Chery se stembeheerstelsel is wragtig een van die beste in die bedryf. Meeste aksente kan nie daai tannie flous nie.

Op die pad ry die Chery heel goed. Veral op die oop pad as ʼn mens nie te veel met die versneller en ratkas hoef te doen nie. Die ritgehalte is heel in die kol as die teer mooi is – maar ons paaie in Gauteng is  tans in ʼn beroerde toestand en het ek die vering bietjie styf ervaar.

Ek sal die Chery só opsom: Dit is ʼn uiters luukse, mediumgrootte sewesitplek-sportnutsvoertuig. Hy is byna R200 000 goedkoper as ʼn Tiguan Allspace wat ook sewe sitplekke bied, en bied baie meer speelgoed. Persoonlik sou ek eerder ʼn beter gekalibreerde mededinger koop met minder speelgoed en beter herverkoopwaarde – dalk die nuwe Mahindra Scorpio, maar ʼn mens kan nie Chery se stormloop onderskat nie. Chery is hier om te bly.

Die reeks lyk só

Chery Tiggo 8 Pro 1.6TGDI 290T Distinction145 kW/ 290 Nm7 ℓ/100 kmR496 900
Chery Tiggo 8 Pro 1.6TGDI 290T Executive145 kW/ 290 Nm7 ℓ/100 kmR574 900
Chery Tiggo 8 Pro Max 2.0TGDI 390T Executive187 kW/ 390 Nm7,3 ℓ/100 kmR629 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ 150 000 km voertuigwaarborg en 10 jaar/ 1 000 000 enjinwaarborg (slegs vir die eerste eienaar) sowel as ʼn 7 jaar/ 90 000 km diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Mahindra Scorpio-N 2.2D Z8L 4XPLOR129 kW/400 Nm7,2 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km waarborg

5 jaar/100 000 km diensplan

R590 000
Toyota Fortuner 2.4 GD-6 outo110 kW/400 Nm7,2 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km waarborg

9 dienste diensplan

R665 800
Nissan X-trail 2.5 4×4 Tekna126 kW/233 Nm8,3 ℓ/100 km6 jaar/150 000 km waarborg

3 jaar/90 000 km diensplan

R674 900
Mitsubishi Pajero Sport 2.5 DI-D133 kW/430 Nm8,1 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km waarborg

5 jaar/90 000 km diensplan

R744 990
Peugeot 5008 1.6T GT121 kW/240 Nm7 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km waarborg en diensplanR782 900
Volkswagen Tiguan Allspace 2.0TSI 162 kW 4Motion R-Line162 kW/350 Nm8,6 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km waarborg

5 jaar/90 000 km diensplan

R838 300

Die Mahindra, Fortuner en Pajero Sport is almal leerraam SNV’s – en die res nie. Die Mahindra bied puik waarde, en ook sewe sitplekke. Kies ʼn paar en gaan toetsbestuur almal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieterbusa ·

Baie interresant dankie. Verduidelik asb wat is ‘n “leerraam” voertuig

Smirre ·

“ladder chassis” op Google sal mooi verduidelik, hoop dit help . Groete :-)

Brendon Staniforth ·

Dagsê Pieterbusa

Baie dankie vir jou kommentaar. ‘n Leerraam onderstel is ‘n “ladder frame chassis”. Meeste 1 ton bakkies en SNV’s wat daarop baseer word soos Hilux/ Fortuner, Ranger/ Everest, Trtion/ Pajero Sport word só gebou. Die enjin, ratkas en dryfstelsel word aan die leerraam vasgemaak, dan boud die bakwerk net aan die raam vas. ‘n Monocoque is waar die bakwerk self die onderstel van die kar is – en alles net daaraan vasbout soos met meeste moderne luikrûe en sedanmotors.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.