Chery se Tiggo 8 Pro bied uitstekende waarde

Wanneer daar oor die motorvervaardiger Chery gesels word, is betroubaarheid en luuksheid nie noodwendig altyd die eerste woorde wat opkom nie – waarskynlik as gevolg van die QQ3, J2 en ou Tiggo wat hier in Suid-Afrika beskikbaar was. Chery se nuwe Tiggo 8 Pro het dit egter verander.

Die sewesiptlek Tiggo 8 Pro beïndruk met die eerste oogopslag. Die sierrooster, wat sterre in ʼn donker nag uitbeeld, en die hoofligte, wat soos ʼn tier se oë moet lyk, vang dadelik jou oog en die SUV-ontwerp beteken die Tiggo 8 Pro steek nie af teen Europa en Korea se bestes nie. Hy is só ontwerp dat die buitekant nie die grootte van die binneruim weggee nie.

Gepraat van die binneruim – dit is waar Tiggo Pro 8 met die grootste verrassing vorendag kom. Die leerbekleedsel op die elektries verstelbare sitplekke lyk uiters duursaam en dit is sag en baie gemaklik. Die middelste ry sitplekke kan ook heen en weer skuif en die agterste sitplekke kan heeltemal platgevou word.

Daar is drie skerms – die instrumentpaneel bokant die stuurwiel gee ʼn blik op die nodige voertuiginligting terwyl die groot info-vermaakskerm dit maklik maak om die klank en jou foon met Apple CarPlay óf Android Auto te beheer en al die beelde van die menigte kameras op die voertuig te sien. Die derde skerm bevat al die klimaatbeheerfunksies soos klimaatbediening na al drie rye sitplekke. Daar is ook ʼn laaimat vir jou selfoon, USB-punte, stembeheer en ʼn enorme panoramiese sondak. Die kattebak is lekker groot en dit maak van die Tiggo 8 Pro ʼn fantastiese gesinsmotor.

Die Tiggo 8 Pro word aangedryf deur Chery se 1,6-turboaangejaagde viersilinderpetrolenjin wat 145 kW en 290 Nm bied. Die enjin maak gebruik van ʼn 7-spoed‑dubbelkoppelaar‑ outomatiese ratkas. Die Tiggo kom egter effens swaar op brandstof voor en ʼn mens kom nie naby Chery se beweerde verbruiksyfer nie. Die Tiggo 8 Pro ry regtig lekker. Die rit is soepel en gemaklik en daar is genoeg krag.

Aan die veiligheidskant bied die Tiggo 8 Pro alles en meer as sy mededingers. Daar is ses lugsakke, sluitweerremme, baandwaalwaarskuwing en aanpasbare spoedkontrole. Die truratkamera en 360 ˚-parkeerbeeld maak dit moeiteloos om in ʼn beknopte paarkeerruimte te kom.

Die truspieëltjie is regtig vreemd. Dit voel asof jy deur ʼn visooglens kyk en het ten doel dat jy die hele binneruim, en kinders op die agterste sitplekke kan sien, maar maak dit moeilik om vas te stel hoe ver agter jou ander voertuie regtig is.

Ongelukkig skiet die Chery nie soos ʼn pyl uit ʼn boog nie en dis beter om saggies weg te trek. Dit is weens twee faktore. Een is bietjie turbotraagheid, en die ander is die dubbelkoppelaarratkas se kalibrasie. Die sinergie tussen die enjin en ratkas kan beslis verbeter word, maar wanneer hy op spoed is, hanteer hy maklik en is daar geen traagheid nie.

Dit is ook die prys van die Tiggo 8 Pro wat hom laat uitstaan. Teen net minder as R500 000 vir die intreemodel gaan jy ver moet soek vir ʼn ruim gesinsvoertuig met soveel luuksheid en tegnotruuks.

Chery is so seker van sy produk dat die reeks gedek word deur ʼn allemintige tien jaar/1 000 000 km-enjinwaarborg vir die eerste eienaar, vyf jaar/150 000 km-voertuigwaarborg en vyf jaar/60 000 km-diensplan.

Die reeks lyk só:

Chery Tiggo 8 Pro DistinctiveR496 900
Chery Tiggo 8 Pro ExecutiveR546 900

Die mededingers lyk só:

Volkswagen Tiguan Allspace 1.4TSI 110kW Life110 kW/ 250 Nm7,1 ℓ/ 100 km3 jaar/ 120 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R671 700
Peugeot 5008 1.6T GT121 kW/ 240 Nm7 ℓ/ 100 km5 jaar/ 100 000 km waarborg en diensplanR729 900

Die twee mededingers is wel baie duurder, maar is beslis meer afgeronde pakkette. Albei bied sewe sitplekke, met turboaangejaagde enjins en voorwielaandrywing. Toetsbestuur almal, en kies dan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.