Chery weer op pad na SA

Die Chery Tiggo 4 Pro

Toe ek ʼn jong lat was, het mense nog gepraat van “jap scrap”. Dit was ingevoerde Japanse voertuie wat daardie jare nog nie die reputasie vir gehalte en betroubaarheid gehad het wat dit nou het nie. Ek sou stry dat Toyota, ‘n Japanse motorvervaardiger, tans een van die sterkste handelsmerke in Suid-Afrika is. Japanse voertuie is ook sinoniem met betroubaarheid.

Só het ek en ʼn paar ander motorjoernaliste gewonder wanneer die Chinese dié mylpaal gaan bereik. Ek self was al bitter kwaai met Haval, en het al geskryf dat Suid-Afrika nie China se skrootwerf is nie. Dit was wel net ʼn kwessie van tyd voordat die Chinese wel hul staal sou wys.

Die Chery Tiggo 8 Pro.

Ek het onlangs gespog oor hoe indrukwekkend die GWM P-Series-bakkie is. Haval se nuwe Jolion en H6 is glo ook beide puik. Ons bestuur hulle binnekort en sal beslis verslag doen.

Maroela Media is onlangs na die bekendstelling van die Chery genooi. Dié handelsmerk is nie vir ons vreemd nie. Onthou julle die Tiggo en QQ3? Ek self was iemand wat destyds gesê het ek koop enigiets anders. Wel, Chery is nou terug as ʼn volfiliaal van Chery China.

Die Chery Tiggo 7 Pro

Hulle het vir ons ʼn paar van die produkte gewys. Ons kon inklim en vat en vroetel. Die rygoed is voorwaar mooi. Die gehalte lyk met die eerste oogopslag ook werklik goed. Ek sê nie ʼn mens moet dadelik een gaan koop nie, ek wil hulle eers toetsbestuur, maar dit lyk werklik belowend.

Daar is in die volgende 18 maande drie modelle na Suid-Afrika op pad. Al drie voertuie is sportnutsvoertuie. Dit is die Tiggo 4 Pro, Tiggo 7 Pro en Tiggo 8 Pro. Daar is twee enjins wat in die reekse beskikbaar sal wees, albei Chery se eie turbopetrolenjins. Die 1.6 bied ʼn indrukwekkende 145 kW en 290 Nm en die 2.0 ʼn allemintige 192 kW en 400 Nm.

Die eerste voertuie sal in die vierde kwartaal in Suid-Afrika beskikbaar wees by een van die handelsmerk se 30 handelaars wat hopelik teen daardie tyd oop sal wees. Ons sien uit om met die voertuie te ry. Indien jy self jou vinger op die pols van dié handelsmerk wil hou, besoek hul webwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.