Citroën se C5 Aircross eiesoortig en gerieflik

Citroën se C5 Aircross boks in ʼn baie mededingende segment en prysklas, maar daar is tog ʼn paar dinge wat in sy guns tel.

Die C5 Aircross se prys wissel tussen R633 000 en R648 000. In die C-sportnutssegment is sy mededingers onder andere die Toyota RAV4, Volkswagen Tiguan, Hyundai Tucson, Mazda CX-5 en Kia se Sportage.

So wat maak die C5 Aircross anders? Hy staan uit. Vandag se sportnutse lyk baie eenders, maar in sy opgeknapte gewaad kry die C5 dit wel nog reg om koppe te draai. Die vyfjaar/100 000 km-diensplan en ‑waarborg is beslis ʼn groot pluspunt en daar is verdere gemoedsrus met Citroën wat onder die Stellantis-groep val. Die C5 se ritgehalte, grondvryhoogte en groot kattebak kan jou dalk moontlik net oortuig om ʼn kans op dié buiteperd te waag.

Nuwe ontwerp en binneruim

Die C5 Aircross is regtig mooi. Sy ronde lyne help hom uitstaan met van sy mededingers se ontwerpe wat meer aan die hoekiger kant is. Die blinkswart paneel voor met silwer aksentstrepe, dagryligte en Citroën se nuwe logo trek dadelik die aandag en ʼn herontwerpte buffer rond die prentjie netjies af.

Aan die binneruim is daar ook heelwat verander en die oop en ergonomiese kajuit is werklik gerieflik. Die nuwe 10”‑mediaskerm is boontoe geskuif en verseker dat die kontroles binne beter bereik is. Daar is ook ʼn digitale skerm voor die bestuurder. Daar is nie enige fisieke knoppies om die funksies soos lugversorging te beheer nie, maar groot ikone aan die onderkant van die raakskerm beteken jy kan vinnig en maklik na die verskillende funksies oorslaan. Daar is wel ʼn volumeknoppie.

Die gerief van die breë sitplekke wen vir die C5 nog punte. Daar is 15 mm se bykomende sponsmateriaal tot die sitplekke gevoeg en dit is met nuwe materiale oorgetrek wat tot gevolg het dat jou sitvlak regtig baie gemaklik is en ʼn mens gerieflik die lang pad sal kan aandurf. Die sagte materiale word na heelwat oppervlakke oorgedra en dra by tot die gevoel van luuksheid en gerief. In die tweede ry sitplekke is daar drie individuele sitplekke, almal dieselfde breedte. Elke sitplek kan individueel vorentoe of agtertoe beweeg word en die rugleunings kan ook individueel verstel word.

Die middelkonsole is ook goed uitgelê met die aansitterknoppie, die skakelaar vir ratskakelings, bestuursmodusse-skakelaar en elektroniese handrem wat alles bymekaar is om sake te vergemaklik.

Die C5 bied die tweede grootste kattebak in sy segment. Daar is meer as genoeg ruimte vir die gemiddelde gesin en dit is redelik maklik om al die kinders se bagasie in te kry.

Op die pad

Die C5 Aircross bied ʼn puik 230 mm-grondvryhoogte wat die beste in dié segment is en wat beteken hy skrik nie vir grondpaaie nie. Die fantastiese vering en so te sê geen bakrol nie beteken padhouvermoë is in die kol vir dié soort voertuig. Ons het ʼn grondpad op die proef gestel en die geskud was regtig min. Die stil kajuit het ook beïndruk.

Onder die kap is ʼn 1.6‑viersilinderturbopetrolenjin wat 120 kW en 240 Nm bied. Die enjin se programmering is aangenaam en die versnellerkalibrasie glad en eweredig. Die 6-spoed‑ outomatiese ratkas is lekker glad.

Slotsom

Die C5 Aircross het ondanks tawwe mededinging verskeie pluspunte wat hom van die kompetisie onderskei. As jy dus op soek is na ʼn tikkie Franse flair, gemak en luuksheid en nie dieselfde sportnuts as almal wil ry nie, is die C5 moontlik die een vir jou.

Die diensplan en waarborg maak hom net soveel aanlokliker, veral in dié prysklas.

Die reeks lyk só:

Citroën C5 Aircross 1.6T FeelR633 900
Citroën C5 Aircross 1.6T ShineR683 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km‑waarborg en ‑diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Haval H6 2.0GDIT Luxury150 kW/320 Nm5 jaar/100 000 km‑waarborg

5 jaar/60 000 km‑diensplan

R518 950
Mahindra XUV700 2.0T AX7149 kW/380 Nm5 jaar/150 000 km‑waarborg

5 jaar/100 000 km‑diensplan

R524 999
Chery Tiggo 8 Pro 1.6T GDI 290T Executive145 kW/290 Nm5 jaar/150 000 km‑voertuigwaarborg

10 jaar/1 000 000 km‑enjinwaarborg (vir eerste eienaar)

5 jaar/60 000 km‑ diensplan

R574 900
Renault Koleos 2.5 Dynamique126 kW/233 Nm5 jaar/150 000 km‑waarborg

5 jaar/90 000 km‑diensplan

R584 999
Kia Sportage 1.6T GDi GT-Line132 kW/265 Nm5 jaar/onbeperkte km‑waarborg

6 jaar/90 000 km‑diensplan

R664 995
Volkswagen Tiguan 1.4TSI 110 kW Life110 kW/250 Nm3 jaar/120 000 km‑waarborg

5 jaar/90 000 km‑diensplan

R658 200
Toyota RAV4 2.0 VX127 kW/203 Nm3 jaar/100 000 km‑waarborg

6‑dienste‑diensplan

R671 600
Honda CR-V 1.5T Executive140 kW/240 Nm5 jaar/200 000 km‑waarborg

5 jaar/90 000 km‑diensplan

R737 700
Peugeot 3008 1.6T GT121 kW/240 Nm5 jaar/100 000 km‑waarborg en ‑diensplanR739 900

Die waarde wat deur die Haval, Mahindra and Chery gebied word, kan nie geïgnoreer word nie, maar indien dit ritgehalte is waarna jy op soek is, is daar niks wat die C5 Aircross kan klop nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan ·

Baie mooi, oulik en alles – maar verwag ‘n depresiasie-skok die dag as jy ‘n Citroen of Peugeot wil inruil.

Mazda CX5, Tiguan of die Hyundai/Kia kry my seëninge tov die kortlys-kanidate.
(Ns. Ek werk in die gebruikte motorhandel)

Koos 100 ·

Johan jy is 100% in die kol. Ek hou baie van Franse karre, maar jy verloor eenvoudig net baie meer op die. Hulle het wel ‘n voordeel en dit is dat jy kan baklei vir afslag of ekstras op ‘n nuwe motor, en dat hulle nogal winskopies op die tweedhandse mark is. Die Duitsers en Japanese se waarde hou baie beter.

Oom ·

Het ook lank Citroënmotors in my jongdae in Suid-Afrika gery. Die grootste probleem was die gebrekkige beskikbaarheid van motorhawe waar die motors gediens kon word. Hou ry ek weer in my oudae ‘n Citroën. Die keer ‘n kleinboetie (C3) van die een hierbo genoem. Beste motor beskikbaar. Verskil is hier waar ons nou woon ry minstens elke 10de persoon ‘n Citroën. Hier is meer as 10 motorhandelaar waar die motor gediens kan word in ‘n radium van 50km. Die naaste, 12 km van waar ons woon. Viva la Citroën.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.