Corolla nou in SA gebou

Corolla Quest. (Foto: Verskaf)

Daar is wêreldwyd ʼn afname in die C-segment sedanmotors. Almal wil nou in een of ander sportnutsvoertuig rondrits. Dis ʼn jammerte, want elke keer as ek in ʼn goeie sedanmotor ry, kom ek net weer agter dat dit werklik prakties is, gewoonlik met ʼn reusekattebak en sitplek vir vyf.

Met die globale skuif na sportnutsvoertuie laat dit ʼn groot leemte in die sedanmark. Een wat Toyota Suid-Afrika spesifiek wil vul met sy Corolla-aanbieding. Slim. Maar hoe nou as die Corolla-produk wêreldwyd klaar is, en wag op ʼn nuwe model?

Toyota Suid-Afrika het toe sommer besluit om hul eie te bou. Hulle het die moederskip in Japan genader en van hul planne vertel. Japan sê toe, goed só – maar julle moet dit heeltemal op julle eie doen, ons kan nie in dié stadium tyd óf geld aan julle bestee nie. Toyota Suid-Afrika werk toe twee jaar aan die nuwe Quest.

Corolla Quest. (Foto: Verskaf)

Die Quest is geskoei op die 11de-generasie Corolla. Vir meeste van die onderdele word daar plaaslik met verskaffers gewerk om die dit hier te vervaardig. Dit help om koste laag te hou. Die ander kant van die swaard is dat die QDR (Quality, Durability en Reliability) nie mag afneem nie.

Ek het geruime tyd met die 11de-generasie Corolla deurgebring en ek dink Toyota Suid-Afrika het hulle puik van hul taak gekwyt om die Quest in die mark te bring. Hier en daar kan ʼn mens die verskille sien, maar die produk voel steeds soos ʼn Corolla.

Die splinternuwe, trots Suid-Afrikaanse Toyota Corolla Quest het ʼn ruim binneruim en die bestuursposisie is lekker gemaklik. Die Corolla se handratmodel pas my soos ʼn handskoen. Die rathefboom is presies waar ek van hom hou, en eie aan die Corolla bly die puik kalibrasie van die koppelaar en sy verhouding met die versneller behoue. Jy kan gerieflik wegtrek sonder ʼn geruk en pluk en lekker egalig ratte wissel.

Die nuwe Corolla Quest word aangedryf deur Toyota se atmosferiese 1,8 viersilinderpetrolenjin. Dié enjin bied 103 kW en 173 Nm. Die 1,8 bied sy wringkrag 1 200 r/min vroeër as die vorige 1,6 én hy is ligter op brandstof met 7 ℓ/ 100 km op die handrat en 6,3 op die outo. Die Quest het meer veiligheidstoerusting as sy voorganger met lugsakke, stabiliteitsbeheer, wegtrekhulp, ABS, EBD, Isofix, LED-dagligte en agterste misligte.

Corolla Quest. (Foto: Verskaf)

Al waar jy ʼn effense daling in gehalte kan sien, is in die blink strook op die paneelbord. Ek moet ook byvoeg dat die paneelbord nie perfek gepas het op die handratweergawe waarmee ons gery het nie. Die outo-model aan die ander kant, was perfek. Al wat dit vir my sê is dat dié Quests vroeg in die produksiesiklus van die lyn af gekom het en daar nog ʼn kreukel of twee is om uit te stryk.

Verder is die nuwe Quest pure Corolla. ʼn Getroue staatmaker vir die Suid-Afrikaner sedert 1974. Sedertdien het ons reeds agt generasies Corolla in Suid-Afrika leer ken en naderhand vertrou.

Die reeks lyk só:

Toyota Corolla Quest 1.8R249 900
Toyota Corolla Quest 1.8 CVTR270 400
Toyota Corolla Quest 1.8 PrestigeR186 500
Toyota Corolla Quest 1.8 Prestige CVTR296 800
Toyota Corolla Quest 1.8 ExclusiveR307 400
Toyota Corolla Quest 1.8 Exclusive CVTR317 700

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/ 100 000 km waarborg en 3 jaar/ 45 000 km diensplan. Ons sal binnekort weer tyd deurbring met die Quest en sien hoe hy hom in die daaglikse roetine gedra. Ons sal hom dán met sy mededingers kan vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stof ·

Esteties ‘n lus vir die oog. En, synde bevoorreg om self ‘n Corrola onder my afdak te hê, is ek seker dat dit ‘n voortreflike voertuig gaan wees.
Ek is wel senuagtig oor die langtermyn effek van die oormaat elektronika en baie foefie-knoppies in die nuwe model. Ek het bloot net ‘n EB bestuurslisensie, nie ‘n pendeltuig lisensie nie…

HBK ·

Die kort vernuwing siklusse waarin motorvervaardigers werk, het die mark geskep. Soos die Citi Golf van vroëer , en die Quest, ek is seker daar is ander. Dit is ‘n uitstekende idee aangesien dit die drukperse en ander gereedskap wat in wese reeds betaal is, kan hergebruik. Welgedaan Toyota SA!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.