Dawid en Goliat …

(Foto: Leonora Staniforth)

Ons het onlangs twee uiteenlopende voertuie gehad om te toets. Dié twee voertuie kon waarskynlik nie méér van mekaar verskil nie – al het hulle een ding gemeen. Hulle is albei 4×4-voertuie. Die twee voertuie is ʼn Suzuki Jimny 1.5 GLX handrat, en Volkswagen se nuutste Amarok Canyon V6 TDi 4Motion outo.

Ons het ʼn hele ruk terug ʼn outomatiese Jimny getoets, en heel onlangs ʼn Amarok Dark Label. Dit is geen geheim dat ek gek is na ʼn Amarok nie … veral die V6. Hoe met die twee gemaak? Toe vra ʼn pel: “Wanneer gaan jy die 4×4 toets?” Ek besluit daar en dan dat ons weer ʼn draai by Groenkloof sal maak.

Kom ons vergelyk die twee, al verskil hulle heeltemal van mekaar.

Ontwerp:

Suzuki Jimny 1.5 GLX handratVolkswagen Amarok Canyon V6 TDi 4Motion
4/54/5

Albei voertuie is netjies in hul eie segmente. Die Jimny is ʼn klein aandagtrekkertjie, én langer as ʼn jaar ná sy bekendstelling is daar nog ʼn indrukwekkende waglys vir hom. Aan die ander kant is Volkswagen se Amarok al redelik oud, maar hy lyk geensins uit plek tussen die nuutste bakkies nie.

Binneruim:

Suzuki Jimny 1.5 GLX handratVolkswagen Amarok Canyon V6 TDi 4Motion
4/55/5

Die nuwe Jimny is baie slim verpak. As jy aanvanklik inklim, voel hy knap, maar jy is sommer gou gemaklik. Dit is geensins ʼn gesinsbuks nie, maar wanneer dit nodig is, is daar sitplek vir vier. Die spesifikasievlak op die GLX-model beïndruk met klimaat- en spoedbeheer, CarPlay en Android Auto, helderlighulp – de lot. Baie oulik. Aan die ander kant is die Amarok se binneruim vir my die beste in sy klas. ʼn Amarok is baie breed, en bied plek vir vyf met goeie gemak. Ek hou van die uitleg en die materiale wat gebruik is. Sy spesifikasievlak is nes die Jimny uit die boonste rakke.

Enjin, ratkas, dryfstelsel & 4×4-vernuf:

Suzuki Jimny 1.5 GLX handratVolkswagen Amarok Canyon V6 TDi 4Motion
5/54/5

(Foto: Leonora Staniforth)

Dié kategorie is nie eintlik billik teenoor die Jimny nie. Die V6-diesel in die Amarok is fantasties. Die agtspoed-ZF-ratkas vir sleep en toer is ongeëwenaard in die bakkiesegment. Ek het wel by Groenkloof die Amarok se enigste tekortkoming ontdek … en dis die gebrek aan ʼn laestrekratkas vir kliphindernisse waar mens uiters stadig wil kruip. Die intelligente ewenaarslotte help tog.

Aan die Jimny-kant is die nuwe 1.5-petrolenjin gretig, maar beslis nie vinnig nie. Wees geduldig met hom, en hy sal maak net wat jy wil. Dis ʼn Suzuki-enjin – so hy’t omwentelinge nodig. Die handratkas se verhoudings is puik en die koppelaar goed gekalibreer. Jy kan uiters egalige ratwisselings met hom handhaaf. Hy sal jou verbaas met sy 4×4-vernuf; al is die handrat baie moeiliker om baas te raak as die outo op sekere hindernisse, het hy steeds elke hindernis geklim wat ek voor hom gesit het. Jy moet in die handrat net versigtig wees vir daai koppelaar op die kwaaiste hindernisse, al is jy in laestrek. Die elektroniese ewenaarslotte werk bakgat sodra mens hulle gewoond is. Los hom om bietjie te gly, dan skop die slot in – en siedaar, hy klim soos ʼn bok.

Ritgehalte, padhouvermoë en veiligheid:

Suzuki Jimny 1.5 GLX handratVolkswagen Amarok Canyon V6 TDi 4Motion
4/55/5

(Foto: Leonora Staniforth)

Die rit in die Jimny is besig, danksy die kort asafstand. Sy padhouvermoë is verbasend goed as jy hom eers leer ken, maar dis beslis nie ʼn renmotor nie. Daar is heelwat bakrol, en die soliede agterewenaar laat hom kenmerkend 4×4-erig voel … soos ʼn Wrangler. Die Jimny bied ʼn goeie veiligheidsvlak met twee lugsakke, ABS en EBD met stabiliteitsbeheer, asook wegtrekhulp … dít help puik as jy op ʼn hindernis wil wegtrek.

As jy dit aanvaar, loop alles klopdisselboom. Die Amarok loop wel hier met die louere weg. Die rit is puik. Hy is goed geveer en bied indrukwekkende padhouvermoë. Hy sit met vier lugsakke, en ʼn indrukwekkende off road-rymodus bied verskeie voordele. Een van hulle is die remafstand op ʼn grondpad wat korter is as enige ander bakkie in die segment te danke aan spesiale ABS-programmering.

Opsomming:

Suzuki Jimny 1.5 GLX handratVolkswagen Amarok Canyon V6 TDi 4Motion
17/2018/20

Die Amarok is beslis ʼn meer volmaakte voertuig wat ruimte en veelsydigheid betref – maar in terme van dié toets wat gefokus het op 4×4-vernuf kry hy pak by die Jimny. Die Jimny is terug met ʼn enkele krap op die agterwiel, en die Amarok ongelukkig met ʼn krap op ʼn wiel én ʼn vieslike krap op sy linkerdeure toe hy op ʼn klip skuif, reg teen ʼn boomwortel vas. Die Amarok moes een hindernis heeltemal uitsit, want hy sou eenvoudig nie die mas opkom daar nie. Hy sou hom waarskynlik klim met brute krag, maar daar sou agterna baie skade gewees het. Die Jimny is ʼn fantastiese klein 4×4, en ek soek een van my eie – net in outomaties, asseblief. En kan ek ʼn Amarok V6 kry om my woonwa mee te sleep? Wat 4×4 betref, het Dawid weereens vir Goliat oorwin.

Die twee vergelyk só:

Suzuki Jimny 1.5 GLX handratVolkswagen Amarok Canyon V6 TDi 4Motion
Enjin1.5-viersilinderpetrol3.0-V6-turbodiesel
Krag75 kW/130 Nm165 kW/550 Nm
Ratkas5-spoed-handrat met laestrek8-spoed-outo
0–100 km/h12 sek8 sek
Topspoed160 km/h193 km/h
Brandstofverbruik6.3 ℓ/100 km9 ℓ/100 km
Grondvryhoogte210 mm237 mm
Diensplan & waarborg5 jaar/200 000 km-waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

3 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

PrysR335 900R852 800

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Fritz ·

Hoekom maak Volkswagen n 4×4 Amarok as 99.999999% van hulle nooit eens n gewone grondpad sien nie?

Andre ·

Die Amarok hoef nie grondpad te sien om te verkoop en miljoene in VW se sak te sit nie!

koos10 ·

Hier is dit duidelik Horses for courses.
Ek stem nogal saam met Frits, en nie net VW nie maar bitter baie vervaardigers ook.
As jy die vol huis bakkie wil hê, moet jy die 4×4 koop.

Wanneer gaan die eerste vervaardiger probeer om ‘n voor wiel aangedrewe 1 tonD/C bakkie bou? Dit klink maar vergesog, maar tot in die 1960’s was agter wiel aangedrewe sedans die norm, en in die 80’s het die eerste 4×4 sedan as produksie die lig gesien. Tot die bittereinders begin nou na voor wiel aandrywing oor gaan (BMW). Ek wonder wat die voor en nadele van ‘n FWD dubbel kajuutbakkie wees? Ek kan nogal sien dat produksie kostes af gaan, asook die bakwerk en onderstel as een. Baie vervaardigers het reeds die SUV vorm om van te werk. OF gaan elektriese bakkies oorvat voordat kan gebeur?

andre ·

Die prysverskil is slegs R516 900.Brendon kan jy asb n VW Polo Vivo GT en n Honda Civic Type R op Killarney vergelyk,hulle prysverskil omtrent dieselfde.

Brendon Staniforth ·

Dagsê Andre,

Baie dankie vir jou kommentaar. Dit is juis wat fantasties is… die goedkoper kar is die wenner hier.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.