Deftige dubbelkajuit

Isuzu se 2.5-bakkies het nog nooit die hartsnare geroer nie. Ek praat nou nie van die ou 250 sonder ʼn turbo wat teen 140 km/h meer geraas het as ʼn ou bullnose-Mercedes-trok nie – ek praat van die 2.5-DTeq en nuwer.

Ná GM onttrek het en Isuzu op sy eie voete moes staan, moes hy plan maak om aansienlik meer KB’s, of D-Max soos hulle nou genoem word, te verkoop. ʼn Blink plan was om ʼn model te skep wat puik waarde bied, maar nie vervelig en lelik lyk soos ʼn ou werkesel nie. Só is die X-Rider tot stand gebring – en dit was ʼn enorme sukses vir Isuzu.

So het Isuzu ʼn wyle terug sy sewendegenerasie-D-Max bekendgestel – maar daar was geen X-Rider-model nie. L-, LS-, LSE- en V-Cross was die modelle wat beskikbaar was, met ʼn nuwe 1.9-enjin óf die ou getroue volvet-3.0.

Ons het al met die 1.9-LS, in handrat en outo, tyd deurgebring. Terwyl die enjin piekfyn die mas opkom, verkies ek die outo. Hy bied effens beter verrigting waar daar soms op die handrat bietjie met die koppelaar gestoei moet word om turbo-traagheid te voorkom.

Die nuwe X-Rider is werklik baie mooi. Die 18″-sierwiele is lekker sportief en die rooi aksente en X-Rider-embleempies rond die pakket mooi af. Die X-Rider-opknappings is nie nét aan die buitekant nie maar ook aan die binneruim.

Mooi leerbekleedsel met rooi stikwerk, asook op die stuurwiel en kous op die rathefboom gee vir die kajuit ʼn gevoel van beter gehalte as voorheen. Daar is nog twee piepklein foefies wat ek dink teen dié pryspunt verbeter kan word. Eerstens is dit die plastiek waarvan die middelste deel van die stuurwiel gemaak is. Dit kan effens verbeter – mens hou tog 100% van die tyd aan die stuurwiel vas. Die tweede klein kwaal is wanneer mens die vensters toemaak – nes hy vastrek as hy toemaak, beweeg die deurpaneel aan die binnekant effens. Dit hoort nie só nie.

Onder die kap bied die X-Rider drie dryfstelsels – almal met die 1.9-viersilinderturbodieselenjin toegerus. Hy bied 110 kW en 350 Nm. Die X-Rider loop klopdisselboom met sy 1.9-enjin terwyl hy ongeveer 13 km/ℓ bied! Daar is dan ʼn keuse van ʼn 4×2-handrat, 4×2-outo of 4×4-outo. Die 1.9 X-Rider is gegradeer om 2,1 ton te sleep – nie te versmaai nie! Selfs as mens die versneller in die mat begrawe, loop hy gou-gou teen 160 km/h.

Op die pad is die D-Max nog ʼn hardebaardbakkie. Hy ry nie sag nie, maar hy kan vrag dra. Die X-Rider kom reeds met ʼn bakseiltjie toegerus en ʼn trekstang. Vanuit ʼn veiligheidshoek bied die X-Rider ʼn indrukwekkende sewe lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, vastrap- en stabiliteitsbeheer.

Ek sal die X-Rider só opsom: Dis werklik ʼn mooi bakkie. Sy prys is mededingend, hoewel nie ʼn winskoop nie – maar hy sal rateltaai betroubaarheid bied én ly nie onder dieselfde diefstalrisiko as van sy mededingers nie. Indien jy in die mark is vir ʼn dubbelkajuitbakkie – gaan kyk beslis, dis ʼn deftige dubbelkajuit!

Die reeks lyk só:

Isuzu D-Max 1.9 X-Rider handratR640 500
Isuzu D-Max 1.9 X-Rider outoR659 200
Isuzu D-Max 1.9 X-Rider 4×4 outoR740 700

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/120 000 km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan.

Ons sal weer tyd met die X-Rider deurbring en hom dán teen sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Manie ·

Die ou generasie KB280DT se swakpunt was ball joints. Na 2 “valslae”het ek as voorsorg maatreël elke jaar die boonste en onderste ball joints vervang en my respek vir Isuzu verloor.

andre ·

Die 250 het sy tyd gevat as dit by spoed kom,maar daar is nog heelwat van hulle met 800 000 en 900 000 op die klok waarvan die enjin nog nie oopgemaak is nie

koos10 ·

Ek dink nog altyd dat die Isuzu te hoog geprys is om met Ford en Toyota mee te ding. In hierdie prysklas is dit nie regtig ‘n groot issue om R50k meer te betaal vir ‘n Ford of Toyota nie. Kopers wat minder wil of kan betaal as Ford en Toyota, kyk eerste na die Chinese mark, en dan spaar hulle R200k op ‘n bakkie, met alle ekstras, en kom ons wees maar eerlik, die Chinese bou nie meer slegte voertuie nie. Mazda het die BT 50 van ons mark onttrek, en ek dink juis dit was vir die rede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.