Die baas se eie werkesel

(Foto: Verskaf)

Daar is verskeie ligte handelsvoertuie beskikbaar in Suid-Afrika, maar die Nissan NP200, Hilux en Ranger is oorwegend op ons paaie te sien. Die onveilige en ongemaklike ou Hardbody, of NP300, wat ʼn wyle gelede stilletjies verdwyn het, het tot gevolg gehad dat Nissan ʼn ietjie markaandeel op die tafel gelaat het.

Die nuwe Navara word plaaslik in Rosslyn gebou. ʼn Groot leemte by die vorige model was die tekort aan ʼn enkelkajuitwerkesel. Nissan het nou die oplossing. Daar is verskeie enkelkajuitweergawes beskikbaar, maar ons het die duurste een onder hande gehad – ʼn enkelkajuit 4 x 4 handrat.

Die ontwerp van die Navara is pure werkperd. Twee sitplekke en ʼn reuselaaibak. Ons bakkie was wit, met staal wiele – maar die 4 x 4 is wat die bakkie bietjie tussen die ander laat uitstaan. Sekere maatskappye het die behoefte aan ʼn 4 x 4-dryfstelsel, óf die hoër sleepvermoë van 3 500 kg.

Onder die kap sit Nissan ʼn 2.5 viersilinderturbodieselenjin. Die enjin bied 120 kW en 403 Nm en maak gebruik van ʼn 6-spoed handrat. Die res van die kajuit is lekker gemaklik met lugreëling, elektriese vensters en Bluetooth. Ek dink egter dat die tekort aan klankdemping in die skeiding tussen die rugleuning en die laaibak verbeter kan word. Die dryfstelsel en padgeraas dring erg deur tot in die kajuit.

Die vering is hard en stamperig – maar dit is presies hoe dit hoort vir ʼn voertuig wat gebou is om elke dag vrag te dra. Die kort kajuit het ʼn allemintige sewe lugsakke binne – en die voertuig bied ʼn indrukwekkende suite veiligheidstelsels soos sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, vastrap en stabiliteitsbeheer.

Ek sal die Navara só opsom. Dit is ʼn welkome toevoeging tot ʼn klein segment. Meer mededingers is ʼn goeie ding vir die eindverbruiker. Die Ford is effens goedkoper, maar sluit nie meer ʼn diensplan in nie.

Die Navara se enkelkajuit reeks lyk só:

Nissan Navara 2.5 XE118 kW/ 233 Nm R337 900
Nissan Navara 2.5DDTi XE120 kW/ 403 Nm7,2 ℓ/ 100 kmR379 500
Nissan Navara 2.5DDTi SE120 kW/ 403 Nm7,2 ℓ/ 100 kmR457 500
Nissan Navara 2.5DDTi LE140 kW/ 450 Nm7,4 ℓ/ 100 kmR494 400
Nissan Navara 2.5DDTi SE 4×4120 kW/ 403 Nm7,6 ℓ/ 100 kmR530 500
Nissan Navara 2.5DDTi LE 4×4140 kW/ 450 Nm7,6 ℓ/ 100 kmR570 900

Die reeks word gedek deur ʼn 6 jaar/ 150 000 km waarborg en 6 jaar/ 90 000 km diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Mahindra Pik UP 2.2CRDe 4×4 S6103 kW/ 320 Nm7,9 ℓ/ 100 km4 jaar/ 120 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R337 999
GWM P-Series 2.0TD DLX 4×4120 kW/ 400 Nm 5 jaar/ 100 000 km waarborg

En diensplan

R435 900
Ford Ranger 2.2TDCi 4×4 XL118 kW/ 385 Nm7,2 ℓ/ 100 km4 jaar/ 120 000 km waarborg

Diensplan opsioneel

R489 800
Toyota Hilux 2.4GD-6 4×4 SR110 kW/ 400 Nm 3 jaar/ 100 000 km waarborg

9 dienste diensplan

R524 300

((Foto: Cornel van Heerden)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Jy sal hier mooi moet kyk na die Ford en Toyota om ‘n besluit te maak. Is die Ford en Toyota stiller in die kajuit, en hoe verlyk die bak?

andre ·

Dis interessant dat Isuzu nie as n mededinger beskou word nie .Verkoopsgewys is Isuzu telkemale net na Toyota en dit met n baie klein handelaarsnetwerk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.