Elke nou en dan kom daar ʼn motor oor ʼn joernalis se pad – wat sy of haar hele wêreld onderstebo draai. Ek het ʼn hele wyle terug ʼn week met een van die mees asemrowende voertuie ooit deurgebring. Nee, dit was nie ʼn supermotor nie – al het hy meer krag as van hulle.
Dit was ʼn matswart vierwielaangedrewe V8-turbomonster in die vorm van die Mercedes-AMG G63 4Matic. Ons praat hier van ʼn reusagtige 2,5 ton-voertuig wat van 0–100 km/h kan versnel in 4,5 sekondes. Hy word uit die blokke geskiet deur ʼn asemrowende 4.0-dubbelturbo-V8 wat ʼn barbaarse 430 kW en 850 Nm bied. Kyk, ek sal byvoeg … die G63 is die swaarste voertuig op brandstof wat ek al óóit getoets het. Ek het in ʼn stadium 43 ℓ/100 km gesien – maar ek het soos ʼn totale nar gery … mens kan dit verwag.
Ek sien op papier sê hulle die G63 is beperk tot 220 km/h. Waarskynlik omdat hy soos ʼn baksteen gevorm is, en nog ʼn soliede agteras het. Ek kan vir jou sê: Hy gee vir mens op 235 km/h ʼn winterbandewaarskuwing – wat mens afsit, want ons het nie winterbande in Suid-Afrika nie – en dan op ʼn katastrofiese 254 km/h is die pad op. Dan roep jy daai kolossale remskywe om die hele spul tot stilstand te bring.
Ek is gek na die ontwerp. Dit is ʼn moderne weergawe van ʼn stokou ontwerp. Dink aan hoe lank die Land Rover Defender aangehang het – selfde storie. As jy die deur oopmaak, kom jy dadelik agter dié wa is van ʼn industriële gehalte. Alles is swaar en styf.
Die deur spring oop as jy die knippie druk, en jy moet hom hard toeklap, anders maak hy nie toe nie. Dis waarskynlik die dik deurrubbers om te verhoed dat hy nat word binne as jy deur diep water ry.
Die binneruim is ietwat van ʼn verrassing. Dit is pure Mercedes-AMG. Superluuks, maar ietwat belemmer deur die vorm van die bakwerk wat die ontwerper se vryheid ingeperk het, so die ergonomie is nie puik nie, maar dit bly fantasties.
Dit bring my by die G63 se beste en waarskynlik sy mees nuttelose punt. Dit is ʼn ware 4×4, vol vet met laestrek en DRIE ewenaarslotte, agter, middel en voor. Dis alles fantasties, ja, maar die G63 loop op enorme dog pragtige 22”-wiele met hoëverrigtingbande – nie ʼn 4×4 se eerste keuse nie. Maar op die ou einde maak dit nie saak nie.
Die G63 is bitter duur. Dit is maar vir ʼn bitter klein aantal mense beskore – en hulle het elke ryding waaraan mens kan dink, so hulle sal waarskynlik nooit met die G63 gaan 4×4 nie. Ek lieg – hulle gaan speel gereeld in die woestyn in Doebai.
ʼn Toyota Corolla moet sin maak. Dit moet prakties, ekonomies, ergonomies en en en wees. ʼn Mercedes-AMG G63 hoef nie. Dit is ʼn groot, vet middelvinger vir almal en alles. Min kan dit bekostig, maar dis fantasties. Die geraas wat by daai vier uitlaatpype langs die kant uitkom, kan die dood laat herrys. Die kar is heeltemal sinneloos, en ek is heeltemal versot en verlore verlief op hom.
Die reeks lyk só:
Mercedes-Benz G400d Stronger Than Time | 243 kW/700 Nm | 9.6 ℓ/100 km | R2 673 840 |
Mercedes-AMG G63 | 430 kW/850 Nm | 13.1 ℓ/100 km | R3 111 480 |
Mercedes-AMG G63 Stronger Than Time | 430 kW/850 Nm | 13.1 ℓ/100 km | R3 606 180 |
Die reeks word deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan gedek.
Die G63 het regtigwaar geen direkte mededingers nie – maar hier is soortgelyke bobaas-4×4’s in hul segmente.
Toyota Land Cruiser 200 4.5D-4D V8 VX-R | 195 kW/650 Nm | 10.2 ℓ/100 km | 3 jaar/100 000 km-waarborg 9-dienste- diensplan | R1 540 300 |
Nissan Patrol 5.6 V8 LE Premium 4WD | 298 kW/560 Nm | 14.4 ℓ/100 km | 6 jaar/150 000 km-waarborg 3 jaar/90 000 km-diensplan | R1 500 700 |
Toyota Land Cruiser 76 4.5D-4D LX V8 | 151 kW/430 Nm | 11.6 ℓ/100 km | 3 jaar/100 000 km-waarborg diensplan opsioneel | R826 300 |
Brendon, soos jy is ek ook ‘n petrolkop en het ek jou beskrywing van die monster Merc baie geniet. Ek het die geld en… en… ja, ek kan met gemak saamleef met 43l/100km … maar ai, waar parkeer ek die ding?? :-) Groete!
Boerkind, ek het vir jou parkeerplek by my huis. Los net asb vir my die sleutel vir ingeval ek die uit my motorhuis moet skuif of brandstof moet gaan ingooi.
Ek sal wat wil gee vir die G63 AMG 6×6.
Nee regtig, as ek n plaas gehad het en baaaaaanja geld, het ek daai outjie nader getrek.
Ag ja, kyk, laat ek dit so birbeer vedytlik sien?
Ekke was oppie skweel gesit, laaaaaank-laaaaank gelede sien?
Toe hettie ons geleer omte jintemal sooooovê te getellit hettie sien?
Ons het gasing: “Ek droom vanne plaas, sonne he inkelte baas, warre man wêk hanne innie sakke…”
Ma da wassie ietsie vann sikke dier lôrriekies nie sien?
Ai, mens kan net droom..
Wou een gekoop het, maar toe ek die badge met blurred oe lees staan daar: “BOKKEROL PROVED”
Die voorste nommerplaat houer is seker ook nog steeds ‘n probleem soos sy die van sy voorgangers.