Dié BAIC klim die berg

Deur Bernie Hellberg Jr.

Sedert BAIC (uitgespreek soos die Engelse “bike”) in 2015 in SA wortel geskiet het, het dié Chinese motorvervaardiger reeds vier nuwe modelle bekend gestel. Die nuutste is die B40 Plus, ʼn bonkige 4×4 wat, op die oog af, selfs die Jeep Wrangler sal laat les opsê.

Die vraag egter is, kan dié bielie van ʼn BAIC sy man staan teen ʼn gevestigde 4×4 soos die Wrangler? Ook, kan BAIC as relatief nuwe fabrikaat (in SA) genoeg vertroue by motorkopers inboesem dat hulle die B40 Plus met oop beursies sal oorweeg?

BAIC is geensins ʼn klein maatskappy nie, en dit sou ʼn strategiese fout wees om hul as onervare of agterlik te beskou. BAIC se eerste voertuig het reeds in 1958 die lig gesien, en as vyfde (en soms vierde) grootste vervaardiger wat volume betref in China, bou hulle miljoene voertuie per jaar. Nie net onder die BAIC-handelsnaam nie, maar ook onder die handelsname Foton en BAW (handelsvoertuie). Boonop vervaardig BAIC sekere modelle vir Hyundai en Mercedes-Benz in China, en het hulle ook voorheen Jeeps onder lisensie daar gebou. Oënskynlik ken BAIC hul storie as dit kom by karre aanmekaar sit.

Dit gesê, ek het vóór die bekendstelling van die B40 Plus by die ADA-toetsterrein naby Hartbeespoort min van BAIC se doen en late geweet. Ek was dus vasberade om oopkop te wees oor dié onbekende ryding, maar moet erken dat hy my vinnig op meer as een vlak aangenaam verras het.

Eerstens, die B40 Plus is ʼn aantreklike voertuig, maar dit is duidelik dat BAIC sy inspirasie by die Jeep Wrangler gekry het. Hier en daar verskil panele, en die Chinees se ligte is vierkantig eerder as rond soos die Amerikaner sʼn, maar in sy geheel lyk dié 4×4 of hy die boendoes maklik sal baasraak. Daar is sewe kleure beskikbaar, waarvan my gunsteling ʼn olyfgroen matafwerking is wat “Military Green” heet. Nogal.

Dié naamkeuse is blykbaar nie toevallig nie. BAIC verskaf reeds jare lank aan die Chinese weermag ’n militêre voertuig waarop die B40 Plus se onderstel gebaseer is. Een ding is seker, as hy taai genoeg is vir een van die wêreld se mees gevorderde weermagte, is hy sekerlik taai genoeg vir plaaslike paaie.

Bougehalte binne die kajuit is goed. Alles pas soos dit moet, en die B40 Plus voel net so stewig as wat sy fris voorkoms aandui. Daar is ʼn lekker groot raakskerm vir die klankstelsel (ongelukkig sonder Apple CarPlay of Android Auto), asook ʼn hoëgehalte digitale skerm vir die instrumente.

Ergonomies kort daar egter nog werk. Die aansitterknoppie sit byvoorbeeld onverklaarbaar net onder die raakskerm, wat dit nes ʼn draaiknop vir die volume laat lyk. Dieselfde knop aktiveer ook die 4×4‑stelsel, wat maklik tot verwarring vir die bestuurder kan lei.

Daar is vyf modelle in die B40 Plus‑reeks, met twee enjin‑ en ratkaskombinasies. Die petrol- en dieselenjins is albei 2-liter‑turbo-aangejaag. Die petrol weergawe (160 kW en 320 Nm) word deur ’n 6-spoed‑ZF‑ outomatiese ratkas aangedryf, terwyl die turbodiesel (110 kW en 350 Nm) met ’n 6-spoed‑handrat toegerus word. Ek sou graag die diesel ook met ʼn outo-opsie wou sien, andersins sal BAIC SA met die tjor se ratverhoudings moet speel om die enjin se merkbare traagheid in laer toere te hanteer.

Die weergawes sluit twee basismodelle en twee middelslagmodelle (by name City Hunter) in, al vier met die opsie van óf petrol óf diesel. Die topmodel heet die Champion, en is slegs met die petrolenjin en meegaande outo-ratkas beskikbaar. Laasgenoemde kry leersitplekke, outomatiese sitplekverstelling vir die bestuurder, en nog ’n paar items meer as die City Hunter by. Al word alle weergawes met ABS-remme en remkragverspreiding toegerus, is ewe belangrike veiligheidstelsels soos vastrap- en stabiliteitsbeheer slegs vir die City Hunter- en Champion-modelle beskore.

Die B40 Plus is ʼn uitstekende afskopplek vir BAIC se vierwielmodelreeks in SA. Al is hy effens aan die duur kant vir ʼn onbekende motor, is daar beslis kopers wat aanklank by die ontwerp en prys sal vind. En tot tyd en wyl Mahindra se nuwe Thar 4×4 uiteindelik hier bekend gestel word, het die B40 Plus nie veel werklike kompetisie in sy klas nie.

Die reeks lyk só:

B40 Plus 2.0TDi110 kW/350 NmR549 500
B40 Plus 2.0TDi City Hunter110 kW/350 NmR579 500
B40 Plus 2.0T160 kW/320 NmR579 500
B40 Plus 2.0T City Hunter160 kW/320 NmR609 500
B40 Plus 2.0T Champion160 kW/320 NmR629 500

Die BAIC B40 Plus word gedek deur ’n vyf jaar/120 000 km‑waarborg. Diensplanne is opsioneel by BAIC beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anoniem ·

Totdat hy op ‘n 4×4 vakansie roete breek en jou sonder ‘n handelaar laat.

Piet parys ·

Nee wat Chinese goed val uitmekaar en geen dienslewering nie . Herverkoop waarde . Pateties Niemand wil hulle trokke 2 de hands koop nie . Nie eers hulle eie handelaars nie . As jy hom gekoop het moet jy hom flenters ry . Dit vat nie lank nie.

SjN ·

Jy kan vir daai prys n baie mooi betroubare 2 de handse Toyota 4 x 4 koop en wat oor herverkoop waarde beskik.

andre ·

Die onbeskaamde kopieerdes ,Wrangler met n Vitara enjinkap .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.