Die beste 911 in die reeks?

Dit is nie altyd die vinnigste, luuksste of duurste weergawe in ʼn voertuigreeks wat die beste is nie. Indien dit wel so was, het vervaardigers seker net een model in elke reeks gehad – en sy prys was sy prys.

Die Porsche 911 het ʼn fantastiese geskiedenis oor die afgelope sewe dekades. Oor dié tyd het Porsche stil-stil aan ʼn uitleg geskuur en geskaaf wat die res van die wêreld gesê het nie perfek is nie. ʼn Porsche 911 se enjin sit heel agter, soos ʼn Volla s’n.

My droomkar is ʼn Porsche 911. Dit is vir my bitter mooi, én die veelsydigheid wat dit bied as ʼn sportmotor is ongeëwenaar in die supermotorkategorie te danke aan die twee klein sitplekkies agter.

Die nuutste 911 is ʼn spesifieke model… die GTS. Dit staan vir Gran Turismo Sport. In die 911-reeks sit hy bo die Carrera en Carrera S, maar onder die GT-modelle soos die GT3 en GT2. Die GTS kry ʼn lekker hupstoot in krag… maar my gunstelingfunksie op die GTS is die knoppie wat die uitlaatpype se kleppe oopstel sodat hulle mooi kan brul!

Die GTS kry ʼn pasgemaakte versieringspakket. ʼn Paar GTS-embleempies, swart aksente, 10 mm laer grondvryhoogte en swart sierwiele om die pakket mooi af te rond. Aan die binneruim is dit pure 911. Ek het dit al telkemaal gesê… alle Porsche’s het ʼn unieke gevoel. As mens ʼn Porsche-liefhebber blinddoek en in enige Porsche sit, sal hulle weet dit is ʼn Porsche. Die nuwe inligtingstelsel wat nou Android Auto sowel as Apple CarPlay bied werk puik. Dis intuïtief en werk goed saam die instrumente wat spoed en dies meer wys.

Dit bring my by die warm kant van die 911. Die GTS word aangedryf deur ʼn 3.0 bokser-sessilinderenjin met twee turbo’s. Kraglewering is 353 kW en 700 Nm. 0 – 100 km/h neem 4,1 sekondes en hy sal 311 km/h voluit hol. Die GTS is beskikbaar met twee of vierwielaandrywing en met ʼn 8-spoed PDK dubbelkoppelaarratkas. Kliënte kan ʼn 7-spoed handrat bestel indien hulle wou.

Dit is egter op die pad waar die GTS betower. Daar is nie een ander voertuig wat ʼn 911 se gevoel deel nie. Die GTS is ʼn 911, maar blitsvinnig. ʼn Nuwe eienskap wat ek op die bekendstelling van die gewone Carrera S ervaar het, én nou met die GTS – hy steek sy spoed té goed weg.

Wanneer ek vinnig ry, wil ek voel dat daar nou onwettige nommers op die spoedmeter is. Die 911 toer teen 200 km/h asof dit niks is, teen 2 400 r/min! Die GTS se bande is gepomp vir hoëspoed – en hier en daar is die onvriendelike gehalte van ons paaie bietjie wild vir die GTS se harder vering. Teen die gewone banddruk is die vering vriendeliker – maar dan is mens se spoed beperk tot 270 km/h.

Die 911 GTS het ʼn indrukwekkende veiligheidsspesifikasie om die blink kant bó te hou. Daar is ses lugsakke, sluitweerremme, vastrap- en- stabiliteitsbeheer en sterker remme van die heel vinnigste 911 – die Turbo S.

Dit is bitter maklik om die GTS op te som. Dit is waarskynlik die beste 911 in die reeks, en nog ʼn treetjie vooruit vir 911. Ek persoonlik sal ʼn mengsel van die GTS en die S wil hê. Ek soek die hoër krag en harder uitlaatpype van die GTS, maar die effens sagter vering van die S.

Die GTS reeks lyk só:

Porsche 911 Carrera GTS CoupéR2 290 000
Porsche 911 Carrera GTS Coupé PDKR2 290 000
Porsche 911 Carrera 4 GTS Coupé PDKR2 400 000
Porsche 911 Carrera GTS CabrioletR2 490 000
Porsche 911 Carrera GTS Cabriolet PDKR2 490 000
Porsche 911 Carrera 4 GTS Cabriolet PDKR2 600 000
Porsche 911 Targa 4 GTSR2 600 000

Die reeks word gedek deur ʼn twee jaar/onbeperkte km waarborg en drie jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.