Die beste Everest in die reeks?

Ford se nuwe Everest is werklik ʼn wenner. Nie meer ʼn lelike eendjie nie en beslis luukser as enige voorganger. Ons het nou al die voorreg gehad om deeglik tyd met die Sport én die Platinum deur te bring, én die woonwa te sleep.

Die Everest is ook onlangs as die wenner in die avontuur-sportnuts-kategorie aangewys tydens die Suid-Afrikaanse Gilde van Motorjoernaliste se motor van die jaar-kompetisie.

Die nuwe Ford Everest is regtig mooi. Groot, met ʼn imposante ontwerp en ʼn gesig wat op Ford se trok(bakkie)-reekse geskoei is. Ek hou werklik baie daarvan. Ford se C-klamp-hoofligte lyk indrukwekkend van voor óf in die truspieëltjie.

Die reeks het tot dusver uit twee modelle bestaan: Sport en Platinum. Die Sport het ʼn 2.0-viersilinderdiesel met twee turbo’s wat 154 kW en 500 Nm bied. Dit is egter die Sport se swart wiele en aksente wat vir my nie baie mooi is nie. Die Platinum maak gebruik van Ford se nuwe V6-turbodieselenjin wat 184 kW en 600 Nm bied. Die enjin en ratkaskalibrasie is werklik puik, maar die 21”-wiele waarop die Platinum ry kan stamperig raak.

Ford het nou twee nuwe modelle tot die reeks bygevoeg – XLT en Wildtrak.

Die XLT is in die kol uit ʼn waarde-oogpunt, bied ʼn puik rit én sy 18”-wiele is goed geskik vir veldryvernuf. Omdat hy die bekostigbaarste model in die reeks is, moet vir geen oomblik dink hy is skraps toegerus nie. Die kajuit van die XLT geniet steeds sewe sitplekke, leerbekleedsel, ʼn groot raakskerm vir die inligtingstelsel wat Ford Sync4 bied met Android Auto of Apple Carplay en dies meer. USB A- én C-poorte is beskikbaar om almal se slimfone gelaai te hou – ongeag die kabel wat jou foon verkies.

Dit is egter die Wildtrak wat my uit die veld geslaan het. Sy stilering is vir my in die kol met die mooiste wiele in die hele reeks. Ek is verbaas hoeveel van ʼn verbetering die 20”-wiele op die Wildtrak bied teenoor die 21” op die Platinum.

Die Everest Wildtrak maak ook gebruik van Ford se pragtige V6-diesel – en vir een of ander rede voel die Wildtrak vir my ratser as die luuksste Platinum. Dalk is hy effens ligter sonder al die foefies wat in die Platinum te vinde is? Die Wildtrak bied elke denkbare luuksheid. Indien jy meer avontuurlustig is en meer tyd op grondpaaie deurbring as die teerpad sou my voorstel die XLT wees, maar as jy nie die V6-enjin wil prysgee nie – kan ʼn mens op enige model die wiele ruil vir 18” -wiele met alleterrein-bande teen geen ekstra koste.

Die hele reeks sit met ʼn enorme veiligheidspesifikasie. Daar is ʼn magdom lugsakke sowel as aktiewe veiligheidstelsels soos blindekolwaarkuwing, baandwaalwaarskuwing en botsingwaarskuwing mét noodremhulp.

Die Everest spog met Suid-Afrika se hoogste sleepgradering onder passasiervoertuie van 3,5 ton. Ek het nou al ʼn paar duisend kilometer gesleep met ʼn Everest, en hy sleep soos ʼn droom. Ford se “trailer anti sway control” werk wragtig puik.

Ek sal die Everest só opsom: Já teen byna R1 miljoen is dit ʼn klomp geld, maar ʼn mens moet onthou dat ʼn C-sportnuts deesdae al by die R800 000 kos. As ʼn gesinsmotor met sewe sitplekke is dit amper onmoontlik om die Everest te klop teen dié prys. Die Fortuner is nie meer in die Everest se visier nie, maar eerder die Prado, sê Ford. Ek dink hulle hoef nie eers vir Toyota se Land Cruiser 300 té ver terug te staan nie. As ek regtig moet neul sal ek vra, waar is die intreemodel met Ford se 2.0-enkelturbo en die 6-spoed-outo teen R699 000? Noem hom maar XL, gee vir hom lapsitplekke en haal die elektroniese kattebakdeur en sitplekverstellings uit.

Die reeks lyk nou só:

Ford Everest 2.0BiT 4×2 outo154 kW/500 Nm7,5 ℓ/100 kmR832 400
Ford Everest 2.0BiT 4×4 outo154 kW/500 Nm7,5 ℓ/100 kmR896 300
Ford Everest Sport 2.0BiT 4×2 outo154 kW/500 Nm7,5 ℓ/100 kmR918 500
Ford Everest Sport 2.0BiT 4×4 outo154 kW/500 Nm7,5 ℓ/100 kmR984 800
Ford Everest Wildtrak 3.0 V6 4WD outo184 kW/600 Nm8,5 ℓ/100 kmR1 084 000
Ford Everest Platinum 3.0 V6 4WD outo184 kW/600 Nm8,5 ℓ/100 kmR1 146 500

Die reeks word gedek deur ʼn vier jaar/120 000 km-waarborg. Diensplanne is opsioneel beskikbaar.

Ons sal weer tyd met die XLT en Wildtrak deurbring en hulle dan met hul mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Grens ·

Ford droom mooi droompies om die ding met ‘n Prado te vergelyk, oor 5jaar het hy geen inruilwaarde met drie gearbox’e en 2 engine’s verder.

adriaan ·

Indien jy nie sulke groot bedrae op ‘n voertuig wil spandeer nie koop liewers ‘n 2dehandseToyota, Toyotas is op 300 duisend km nog nuut.

amot ·

Grens, die probleem met die Prado is dat die basiese ontwerp al 13 jaar oud is. Die huidige enjins is ook regtig nie goed genoeg vir die Prado se “luukse” beeld nie. Ek ry self ‘n Prado en die Everest in V6 formaat is myle beter. Dit is tyd om vaarwel te roep aan die 4-silinder diesels in die Prado Toyota!

adriaan ·

So verskil ons, ek het nog nooit ‘n Prado besit nie want hulle is lelik met hul Jeep tande in die sierrooster maar my beste voertuig ooit was ‘n Fortuner 3 lit diesel. Weens ‘n knieprobleem het ek hom geruil vir 2,2 lit RAV 4 diesel outo. My Fortuner het nooit die idee gegee dat hy te min krag het nie. Vir al die anti-diesel mense, wag tot die petrol Fortuner Hibried volgende jaar uitkom. Deur al die jare het ek my Toyotas uit die hand verkoop vir meer as boekwaarde binne dae na my besluit om te verkoop.

Louis ·

Ek het self n Fortuner 3 D4D gery vir 10 jaar. Fantastiese voertuig.
Het toe n Everest gekoop en kan die volgende se. Die Ford se rit gehalte strate beter. Die infotainmet centre strate beter. Kry selfde diesel verbruik as Fortuner. So Ja die Everest is groter/beter as huidige Fortuner en nie in selfde klas nie. Kan ook by voeg dat die Everest baie meer stabiel sleep as Everest.

Ek twyfel wel of die Ford so lank as die Fortuner gaan hou en sy waarde gaan hou. Waarskynlik nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.