Die blitsigste blitsbuks in Suid-Afrika

Die Mercedes-AMG A45S.

Daar is ʼn handjie vol luikrugvoertuie wat baklei om die titel van die vinnigste… die hiperluikrug. In dié klas sou ek Volkswagen se Golf R, Audi se RS3, BMW se M135i, Ford se Focus RS, Honda se Civic Type R, Hyundai se i30N, Renault se Megane RS Trophy en dan Mercedes-AMG se 35 en 45 A-klas plaas.

Die Megane, Civic en i30N gaan ek uit dié geveg uithaal omdat hul slegs voorwielaandrywing het. Ford se Focus RS is nie meer in SA beskikbaar nie; so dit los die Golf R, Audi S3, BMW M135i en AMG’s. Ek het onlangs oor die 35 geskryf – maar hier gaan ons oor die grootboet praat – die A45S en CLA 45S.

Die ontwerp is tot ʼn mate steeds A-klas, maar met al die vlerkies en vinne vasgemaak wat hulle kon… om twee redes. Eerstens laat dit die A45S werklik stout lyk en tweedens help dit vir lugdinamika. ʼn Mens moet onthou dat die A45S amper 300 km/h kan haal… IN ’N LUIKRUG!

Die Mercedes-AMG A45S.

Mercedes-AMG is in hierdie stadium die baas van die binneruimspeletjie. Hul binneruim lyk fantasties, hipermodern met al die truuks wat dié koper soek – van LED-beligting tot reuseraakskerms wat elke denkbare brokkie inligting vir mens mooi uitbeeld, presies soos wat jy daarvan hou.

Dit bring my na die stukkie waar ek gesels oor die enjin en dryfstelsel. Sjoe! Die 45S-weergawe van Mercedes-AMG se aanbieding is fantasties. Dit is ʼn 2.0-viersilinderturbopetrol wat 310 kW en 500 Nm bied. ʼn Stewige 300 kilowatt in ʼn klein gesinsbuksie!? Van 0 – 100 km/h neem ʼn ratse 3,9 sekondes en die 45S sal aanhou snol tot ʼn elektronies-beperkte 270 km/h.

Die Mercedes-AMG CLA45S.

Gelukkig is veiligheid ewe belangrik vir Mercedes-AMG as die werkverrigting. Die A45S en die CLA45S het sewe lugsakke met nog twee opsioneel beskikbaar, ABS, EBD, vastrap- en stabiliteitsbeheer, botsing- en blindekolwaarskuwing, baanbeheer – die hele katoet. Die remskywe is ewe indrukwekkend teen 350 mm voor en 330 mm agter – heeltemal sterk genoeg om die A-klas tot stilstand toe te bring vanaf 270 km/h in die kortste afstand moontlik.

Op die pad is dit verbasend hoe gemaklik albei voertuie is. As ʼn mens se voet nie in die mat begrawe is nie, dan bêre die 45 sy naels en raak so mak soos ʼn lammetjie. Ja, die rit is hard – dis te verstane, maar die padhouvermoë is fantasties. Dié twee AMG’s ry met Michelin Pilot 4S-bande; waarskynlik my gunstelinghoëverrigtingbande op die oomblik.

Dit is bitter maklik om dié twee op te som: Dit is twee blitsbuksies wat hul man kan staan teen die bestes op die mark. Die prys is kwaai, maar dit bly ʼn AMG.

Die reeks lyk só:

Mercedes-AMG

A45S 4Matic+

310 kW/500 Nm8,4 ℓ/100 kmR1 101 000
Mercedes-AMG CLA45S 4Matic+310 kW/500 Nm8,3 ℓ/100 kmR1 211 000

Die kompetisie lyk só:

Audi S3 Sportback Quattro228 kW/400 Nm6,5 ℓ/100 km4,6 sek

250 km/h

1 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R772 189
Volkswagen Golf R228 kW/400 Nm7,2 ℓ/100 km4,6 sek

250 km/h

3 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R727 400
BMW M2 Competition outo302 kW/550 Nm9,1 ℓ/100 km4,2 sek

250 km/h

2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 145 456

Tussen dié mededingers is die Golf R en Audi S3 nie eintlik mededingers nie en val in die klas onder die 45. Ons sien vroeg in 2021 die nuwe Audi RS3 – hy sal wel saam die 45 kan hardloop. Die BMW M2 Competition is die enigste direkte mededinger, maar het nie vierwielaandrywing nie – maar is my keuse vanweë sy 6-silinderenjin en agterwielaandrywing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.