Dié D-Max het ʼn perfekte selfbeeld

Daar is ʼn neiging om altyd die duurste, beste motors te wil besit.

Met sekere voertuie is die middel-van-die-reeks- of soms die intreemodel na my mening dikwels die beste een. Ek kan aan ʼn paar sulke voorbeelde dink. Een wat dadelik by my opkom, is Toyota se 2.4-Hilux en Fortuner teenoor die 2.8. Ek’t ál die verskonings al gehoor. Nee, ek moet bokke laai, dís hoekom ek die 2.8 moet koop. Tjol. Die 2.4 kan ʼn ton dra, én 2 750 kg sleep …

Nóg ʼn voorbeeld is die Isuzu D-Max 250 Hi-Ride-outo met uitgebreide kajuit. Vir R411 300 kry jy ʼn puik bakkie. Ja, hy’t staalwiele, maar dit ry nét so gemaklik soos sierwiele én is minder van ʼn diefstalrisiko.

Die enjin bied 100 kW en 320 Nm. Ek het al baie tyd met dié enjin deurgebring … met ʼn handrat én ʼn outo – en die bakkie is dooddollies. ʼn Mens het werklik niks meer nodig nie. Hy kan ook ʼn ton dra en twee ton sleep. Die vyfspoed-outo-ratkas sal soos ʼn droom swaar vragte trek en dra sonder om ʼn koppelaar te beskadig.

Aan die binneruim is die bakkie heel gemaklik. Daar is geen fieterjasies nie … net lugreëling, elektriese vensters en ʼn draadloos. Daar is twee lugsakke, ABS en EBD, asook stabiliteitsbeheer om dinge veilig te hou.

Ons het ongeveer 500 km getrotseer, plaas toe en terug. Die D-Max het nie een keer gekla nie. Hy toer lekker op die snelweg en gee so 9 ℓ/100 km teen 120 km/h. Vir die manne wat ʼn werkesel sonder enige foefies soek, kan ek aan geen beter bakkies dink as dié drie intreevlak-mededingers nie.

Die 2.5-outo-reeks lyk só:

Isuzu D-Max 250 HO, uitgebreide kajuit, Hi-Ride outoR411 300
Isuzu D-Max 250 HO, dubbelkajuit, Hi-Ride outoR444 100
Isuzu D-Max 250 HO, dubbelkajuit, LE outoR468 200
Isuzu D-Max 250 HO, dubbelkajuit, X-Rider outoR484 200

Die kompetisie lyk só:

ModelKragBrandstof-verbruikSleep-kapasiteitWaarborgPrys
Isuzu D-Max 250, uitgebreide kajuit, Hi-Ride outo100 kW/320 Nm8.1 ℓ/100 km2 000 kg5 jaar/ 120 000 km- waarborg

5 jaar/ 90 000 km- diensplan

R411 300
Ford Ranger 2.2TDCi, superkajuit, Hi-Rider XL outo118 kW/385 Nm7.6 ℓ/100 km3 500 kg4 jaar/ 120 000 km- waarborg

6 jaar/ 90 000 km- diensplan

R432 100
Toyota Hilux 2.4GD-6, ekstra kajuit, SRX outo110 kW/400 Nm7.1 ℓ/100 km2 750 kg3 jaar/ 100 000 km- waarborg

9-dienste- diensplan

R450 600

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Chris ·

‘n Hond drink uit ‘n bakkie. As jy in Afrika bo die Limpopo bly koop jy Toyota. In die meer “beskaafde” dele soos Namibie, Botswana Swaziland en Kwazulu Natal koop jy ander fabrikante se trokkies. Toyota het homself al bewys dat jy hom oral kry en wanneer hy breek gou gou met ‘n draadtang en bloudraad aan die gang kry. Trouens ek weet nie so mooi van die nuwe modelle nie. Die oues het jy agter elke bos uitgeskop en van hulle loop nog. Ek verdink Toyota ook dat hulle oorloe befonds want as jy ‘n masjiengeweer wat op ‘n monteer is sien, dan is dit ‘n Toyota.

Scalla ·

Chris, in die kalahari roep hulle n isuzu n rook en kook en n landrover n kapokkie trokkie, Toyota bly baas.

Oom Hennie Pennie ·

Stem saam en ‘n boer praat van sy trok, nie ‘n bakkie nie.,

Die Goodwoodianer ·

Snaaks genoeg het ek vannag gedroom van ñ boer en sy seun wat ñ nuwe werksesel vir die plaas wou koop. Hulle het gekyk na die nuwe Hilux-reeks en hul pryse. Toe koop hulle twee netjiese wit 1989 Hilux enkelkajuit LWB’s! Dit is al wat ek van die droom kon onthou.

Eltan ·

Die verskil tussen n bakkie en n Toyota….?
N bakkie is iets wat hond uit water drink…

amot ·

Ek stem ook saam met die “manne”. ‘n Toyota is ‘n trokkie. Sodra mens die nuwe Toyota trokkie se outomatieseratkas, lugfilter-, kajuitfilter en agtervere wat pap word reggemaak het is hy bobaas.

Dankie maar ek hou van ‘n regte plaasbakkie.

Danie ·

Gelukkig woon ons suid van die limpopo en hoef ons nie ‘n gaap…toyota…gaap te koop nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.