Die goedkoopste dalk ook die beste

Citroën C3. (Foto: Verskaf)

Daar was onlangs ʼn oulike buksie by die kantoor om getoets te word. Dit is geen geheim dat ek ʼn Citroën-liefhebber is nie. Ek het al drie gehad. Almal C3’s. Myne is wel die 1.4-Hdi-diesel. Daar was ʼn leë plekkie in my hart ná Citroën besluit het om vir ʼn ruk geen modelle in te voer nie.

Te danke aan Xavier Gobille en sy werk by Peugeot Citroën Suid-Afrika is daar nou weer drie modelle in die Citroën-reeks. Die C3, C3 Aircross en C5 Aircross. Ons het onlangs die C3 1.2T Shine getoets.

Waar pas hy in die mark?

Die Citroën C3 is ʼn B-segment-luikrugmotor. Dink Polo en Fiesta. Ek sê nog altyd – ʼn voertuig kan net meeding in ʼn mark waar hy óf een ding uitermatig goed doen, óf spesifiek uniek is. Die Citroën C3 is presies daai kar.

In ʼn see B-segment-luikrûe staan hy kop en skouers bó die res uit wat ontwerp betref. Dit lyk kraakvars en uniek. Ek is gek na die rooi dak en spieëltjies én die Airbump-hobbeltjies aan die deurpanele om te keer vir stampe in ʼn parkeerterrein.

Citroën C3. (Foto: Verskaf)

Die puik ontwerp is nie beperk tot die buitekant nie. Binne is die C3 ware Citroën. Die sitplekke is uiters gemaklik, en die ontwerp modieus. Die C3 voel lekker ruim, en die kajuit is ergonomies uitgelê. Daar is ʼn magdom veiligheidstelsels soos ses lugsakke om jou veilig te hou, asook CarPlay en Android Auto.

Die enjin beïndruk ook. ʼn 1.2-turbodriesilinder-petrolenjin bied 81 kW en 205 Nm. Die krag word na die voorwiele gestoot deur ʼn 6-spoed-dubbelkoppelaarratkas. O ja, 0–100 km/h duur ʼn ratse 9.4 sekondes en die C3 sal aanhou hol tot ʼn indrukwekkende 194 km/h. Vir ʼn klein tjor is dit fantasties.

Ritgehalte – soos met enige Citroën – is uit die boonste rakke. Die padhouvermoë is alles wat mens ooit van só ʼn tjor sou wou hê. Al klagte wat ek het oor die nuwe reeks Citroëns – dit sluit die C3, C3 Aircross en C5 Aircross in – is die feit dat hulle remme maklik kromtrek as hulle warm word.

Citroën C3. (Foto: Verskaf)

Die Citroën C3 voer ʼn paar truuks in sy mou. In vergelyking met die Volkswagen Polo en Ford Fiesta is hy die goedkoopste. Hy is die vinnigste 0–100 km/h en het die beste diensplan met ʼn reusemarge. Hy is ook glad nie gewild nie – so, sy versekering behoort goedkoop te wees en sy diefstal- en kapingrisiko heelwat laer as sy mededingers. ʼn Wen-wen wat mý betref.

Die reeks lyk só:

Citroën C3 1.2 Feel60 kW/118 Nm5.7 ℓ/100 kmR249 900
Citroën C3 1.2 Shine81 kW/205 Nm6 ℓ/100 kmR299 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km-waarborg en 5 jaar/100 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Volkswagen Polo 1.0TSI Highline outo85 kW/200 Nm4.8 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

3 jaar/45 000 km-diensplan

R331 100
Ford Fiesta 1.0T Titanium outo74 kW/170 Nm5.2 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R344 500
Suzuki Swift Sport 1.4T outo103 kW/230 Nm6.1 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km-waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R337 900

Tussen dié mededingers maak die C3 die meeste sin as jy net ʼn oulike tjor soek en die Swift Sport as jy ʼn louwarm buksie met ʼn bietjie woema soek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

koos10 ·

Is dit nie dalk regverdig om die C3 met die Suzuki Swift 1.2 GLX AMT teen R218 000 te vergelyk nie, i.p.v. die top hoë werk verigting model?

Brendon Staniforth ·

Dagsê Koos10

Baie dankie vir jou kommentaar. Ek het slegs turboaangejaagde voertuie met mekaar vergelyk. Die Suzuki 1.2 GLX het ‘n atmosferiese enjin en sy kragsyfers kan nie by dié van die Citroën kom nie.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

andre ·

Die prysvergelyking is heel goed vir my,Maroela het appels met appels vergelyk.Die Swift Sport kan by baie handelaars vir R10 000 goedkoper gekoop word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.