Die goudstandaard

Wanneer dit by die perfekte, warm luikrug kom, is daar ʼn goudstandaard. Dit is die Volkswagen Golf GTI. Tussen die Golf en Peugeot se 205 GTi in Europa het dié twee die segment geskep. Skielik het ʼn mens nie ʼn peperduur sportmotor nodig gehad om ʼn bietjie spoed te kon geniet nie. Die konsep van die warm luikrug was eenvoudig. Sitplek vir vier of vyf, twee of vier deure en ʼn luikrug wat as ʼn mens die sitplekke platvou ʼn klein laaikas kon insluk.

Volkswagen se Golf is nou in sy agtste generasie. Die eerste generasie in 1974 was ʼn reusesukses. Volkswagen het aanvanklik beplan om 5 000 eenhede te vervaardig. By die Frankfort-motorskou het mense tou gestaan vir dié unieke nuweling.

Die tweede generasie was die Jumbo soos ons hom ken in Suid-Afrika. Die derde generasie was vir GTI ietwat van ʼn teleurstelling. Hy was bietjie vet en lomp, en nié baie vinnig nie. Dit was met die vierde generasie ietwat reggestel. Die vierde generasie is die model wat die Golf GTI gemaklik tussen luukse motors sy kop kon laat hoog hou.

Die vyfde generasie is toe die GTI-bom behoorlik in Suid-Afrika gebars het. Die nuwe 147 kW blitsbuks was ʼn reusesukses. My gunsteling was die 7… tot nou.

Ek het onlangs die splinternuwe agtste generasie Golf GTI onder hande gehad. Een woord – fantasties.

Die ontwerp is vir my ontsettend mooi. Veral in die pragtige metaalrooi. As ʼn mens die binneruim betree is dit dadelik duidelik dat Volkswagen weer eens die gehalte nóg ʼn tree vooruit gevat het. Ek is gek oor die eenvoud van die binneruim. Die rathefboompie is mooi uit die Porsche 911 – ook ʼn familielid van VW, gelig – ek hou daarvan.

Dié GTI is die mees digitale weergawe nóg. Daar is elke denkbare stelsel, luuksheid en veiligheidstelsel waaraan ʼn mens kan dink. Draadlose CarPlay en Android Auto, met ʼn laaimatjie in die konsole. Ek moet bieg, alles word deur die raakskerms beheer – en ek is nie mal daaroor nie. Ek persoonlik verkies knoppies wat ʼn mens lekker kan voel en druk. Ek vind die verskillende raakskerms moeilik om te bemeester.

Onder die kap skuil ʼn hele klomp Duitse perde. Ek het jare gelede mense gehoor praat van Duitse perde as sterker as die mededingers, en gedink – bog man – kW is kW. Die Golf GTI sal verskil. 180 kW klink nie asemrowend nie, maar wat dié Volkswagen doen met daai 180 kW is indrukwekkend. 0 – 100 km/h neem ʼn haastige 6,4 sekondes en hy sal aanhou draf tot so by 255 km/h op die platorand.

Op die pad is nóg ʼn area waar die GTI uitblink. Met die aanpasbare vering is die rit soepel, maar as ʼn mens sportrymodus kies word die vering ferm om bakrol te verminder en om beter vinnige draaie te kan bemeester.

Vanuit ʼn veiligheidshoek hoef die GTI vir niemand terug te staan nie. Daar is ses lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, vastrap en stabiliteitsbeheer, aanpasbare spoedkontrole, blindekolwaarskuwing, kruisverkeerwaarskuwing en noodremhulp met botsingwaarskuwing.

Dit is baie maklik om die GTI op te som. Dit is die goudstandaard as dit by blitsbuksies kom. Die agtste generasie neem elke aspek van die GTI ʼn tree vorentoe. Ek sukkel om te dink hoe ʼn GTI nie perfek in meeste Suid-Afrikaanse huishoudings sal inpas nie.

Die Golf 8 reeks bestaan slegs uit die GTI. Toekomstige modelle sal die TSI modelle en die R insluit.

Die Golf 8 GTI lyk só:

Volkswagen Golf GTI180 kW/ 370 Nm0 – 100 km/h

6.4 sek

Topspoed

250 km/h

3 jaar/ 120 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R669 300

Ons sal weer tyd met die GTI deurbring en hom dan met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wielspore ·

Daar bestaan wel Subaru Forester XT, was die Subaru Forester XD een wat jy self gebou het?

Eltan ·

Baie netjies, maar vir dieselfde prys kan kan ek n 2019 AMG A45 kry…klaar meeste van sy waarde verloor..so spaar op depresiasie…plus..jol tot by 100km/h in net mooi die helfde van die spoed en binneruim ongetwyfeld baie beter afgewerk..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.