Dié GWM-produkte gou in SA

Deur Liana Reiners 

As ʼn mens so na die winkelrakke kyk, wil dit voorkom asof daar meer Chinees-vervaardigde as plaaslike produkte te koop aangebied word – en dit geld vir alles, van elektronika tot skoene!

Wat rygoed betref, is ons nog nie heeltemal dáár nie, maar Suid-Afrikaanse motoriste is nie meer so vol fiemies oor “volksvreemde” handelsmerke as wat ʼn paar dekades gelede die geval was nie.

GWM is ʼn sprekende voorbeeld en is reeds vir nagenoeg 17 jaar op die plaaslike voertuigmark doenig, aanvanklik met ʼn reeks bekostigbare bakkies. Deesdae word Haval, Tank, Ora en natuurlik die P-Series-bakkiereeks ook onder die GWM-vaandel hier bemark en verkoop.

Na ons onlangse besoek aan die Beijing-motorskou en ook GMW se hoofkwartier in Baoding, China, kan ek egter onomwonde getuig dat Suid-Afrikaners kan uitsien na nog vele meer opwindende produkte uit hierdie oord.

Groter P-Series

Die P500

Suid-Afrikaners is bakkie-mal en terwyl die Ford Ranger en Toyota Hilux in ʼn vurige geveg om markdominansie betrokke is, het GWM se P-Series stil-stil al hoe gewilder geraak. Hou vas jou matras want die P500-dubbelkajuit is op pad!

Die nuweling is nie net groter en luukser as die huidige P200 nie, maar ook groter as die Hilux en Ranger. Boonop spog hy met ʼn enorme chroomsierrooster, opvallende en baie aantreklike kopligte en sytrappe wat slim onder die bakwerk terugtrek nadat jy jou in- en uitklim gedoen het.

ʼn Kenmerk wat my veral opgeval het, is sy slim 60-40- gesplete agterklap wat, baie soos ʼn dubbeldeuryskas, in twee dele oopmaak. Hy kan ook soos ʼn tradisionele agterklap afgevou word om toegang tot die laaibak te verleen. Ek was aanvanklik baie beïndruk met dié nuutjie, maar hoe meer ek daaroor nagedink het, hoe meer het ek gewonder of dit nie bloot net ʼn foefie is nie. Hoe dit ook al sy, dis iets wat ons nog nie vantevore op ʼn bakkie gesien het nie.

Dit het my ʼn rukkie geneem om uit te pluis watter enjinopsies plaaslik beskikbaar gaan wees, maar dit wil my voorkom dat plaaslike kopers sal kan kies tussen ʼn 2.4 liter-turbodiesel en ʼn 2.0 liter-petrol-hibried. Eersgenoemde lewer 135 kW en 480 Nm, met die hibried wat glo met verrigtingsyfers van 300 kW en 750 Nm sal spog. Ek moet egter byvoeg dat die GWM-ouens nie op hierdie stadium te veel inligting ten opsigte van die enjins wou gee nie, so hierdie syfers kan dalk anders daar uitsien wanneer die P500 oor ʼn maand of wat hier bekendgestel word.

Tank 500

Die volgende nuwe model uit die GWM-stal wat kort voor lank sy opwagting in Suid-Afrika gaan maak, is die Tank 500. Suid-Afrikaners is reeds vertroud met sy kleiner boetie, die Tank 300, wat in Februarie vanjaar hier bekendgestel is.

Hierdie sewesitplek-sportnutsvoertuig is toegerus met ʼn turbo-aangejaagde 2.0 liter-viersilinder‑ hibriede enjin wat 255 kW en 648 Nm lewer. Dit is gekoppel aan GWM se negespoed‑ outomatiese ratkas en ʼn heeltydse vierwiel-aandrywingstelsel. ʼn Veelterrein-kontrolestelsel met 11 rymodusse, kiesbare laestrek en ewenaarslotte sal veldry-entoesiaste se harte vinniger laat klop.

Wanneer jy in ag neem dat die Tank 500 groter as Toyota se gewilde Prado is, is sy 0-100 km/h versnellingstyd van agt sekondes heel indrukwekkend. Boonop het hy ʼn baie luukse binneruim met leerbekleedsel deurgaans, verhitte voorste sitplekke met ʼn masseerfunksie en chroomafwerking en al die moderne foefies wat jy in ʼn luukse voertuig te wagte sou wees.

Haval maal drie

Die Haval H7

Haval het vroeër vanjaar aangekondig dat ʼn verfrisde weergawe van die H6 in die tweede helfte van die jaar hier beskikbaar sal wees. Afgesien van ʼn paar kosmetiese veranderinge, wat ʼn meer robuuste agterkant en herontwerpte ligte voor en agter insluit, is daar niks nuuts aan hierdie model om oor opgewonde te raak nie.

Wat wel my tone van plesier laat omkrul het, was die nuus dat ons voor die einde van die jaar die Haval H7 in Suid-Afrika sal sien. Dis die H6 se ouboet en spog derhalwe met ʼn meer aggressiewe en bonkige voorkoms en is effe groter.

Daar is twee enjinopsies beskikbaar. Die eerste is ʼn 2.0 liter-turbo-aangejaagde petrolenjin wat 170 kW en 380 Nm lewer en aan ʼn negegang‑ outomatiese ratkas gekoppel is wat krag na die agterwiele stuur. Daar is ook ʼn vierwiel-aangedrewe weergawe beskikbaar. Die tweede enjin is ʼn 1.5 liter‑ hibriede eenheid wat 179 kW en 530 Nm ontwikkel.

Die Haval Jolion Pro is ook op die 2024-spyskaart. Dit sal die topmodel in die Jolion-reeks wees en sal ook met ʼn hibriede kragbron onder die enjinkap spog. Kraglewering is ʼn skaflike 140 kW en 530 Nm.

Hoop beskaam nie

Die Haval H9

Tydens ons besoek aan die motorskou in Beijing en GWM se fabriek in Baoding was daar ʼn handjievol ander modelle wat ons aandag getrek het. Hoewel daar nie in hierdie stadium enige planne is om hulle na Suid-Afrika te bring nie, hou ek styf duime vas want hulle is wenners in my boek.

Die Haval H9 herinner sterk aan die Land Rover Defender en is toegerus met ʼn lang lys van standaardkenmerke. Dit is soortgelyk aan die Tank 500 en daarom word dit nie vir die plaaslike mark oorweeg nie.

So gepraat van die Tank, die 400 kan moontlik sy opwagting hier maak mits daar genoeg belangstelling uit Australië is om die vervaardiging van ʼn weergawe met regterhandstuur die moeite werd te maak. Dit val tussen die Tank 300 en die Tank 500 en val dus in dieselfde kategorie as Toyota se immergroen Fortuner.

Van al die rygoed wat GWM ons in China gewys het, was die Tank 700 die een wat my hart die vinnigste laat klop het. Helaas, dit wil voorkom of dit ons beslis nie beskore is nie. Dis ʼn groot jammerte want dit het die potensiaal om Mercedes-Benz se ikoniese G-Wagon behoorlik op sy neus te laat kyk. Dis ʼn luukse wa op wiele wat spog met hope persoonlikheid en indrukwekkende veldry-vermoëns.

Die Tank 700

Laastens het ons vlugtig die geleentheid gehad om agter die stuur van die Ora 07 in te skuif en wat ʼn indrukwekkende ryding is dit nie! Stilering is soortgelyk aan Porsche se Panamera, maar dis ʼn inprop‑ elektriese ryding met oorgenoeg oemf om te verseker dat die bestuurservaring uit die boonste rakke is.

Die Ora 07

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.