Die haan tussen die henne

Om een of ander rede verwys ek altyd na motors as manlik. Dit is seker tegnies verkeerd, maar motors het gewoonlik vir my ʼn manlike karakter. Een só ʼn motor wat my gevoel daaroor beaam is Lexus se nuwe IS. As ek aan ʼn woord moet dink om die F-Sport weergawe se ontwerp te beskryf, is al die woorde wat ʼn mens sou gebruik om ʼn mooi vrou mee te beskryf verkeerd. Die IS300h F-Sport is mooi, maar met bultende spiere en aggressie – nie sagte lyne en lipstiffie nie.

Die ontwerptaal word deurgetrek na die binneruim. Die bougehalte is briljant, en die materiale voorwaar puik, maar dit is weer eens nie eenvoudig met sagte lyne nie – eerder sportief en manlik. Ek hou daarvan. Nog ʼn eienskap van ʼn Lexus-binneruim wat vir my nog altyd lekker was, is die manier hoe die bestuurdersitplek jou in ʼn kokonnetjie toedraai as jy in hom ry. Dit voel lekker sportief.

Dis hier waar Lexus sy eie weg baan. BMW sou nou vir die IS300h ʼn monster van ʼn enjin gee, enorme wiele en klipharde vering. Nie Lexus nie. Takumi-vakmanne moet dekades van hul lewe wy om te leer presies hoe om ʼn ding reg te doen. Dié is reg. ʼn Mens kan die gehalte voel.

Die Lexus IS300h word deur ʼn 2,5 viersilinderpetrolenjin met hibridiese hulp aangedryf. Die stelsel bied 164 kW en 221 +e Nm. As die hibridiese stelselhulp voel dit egter baie sterker as 221 Nm. 0 – 100 km/h neem 8,7 sekondes, en hy sal 200 km/h voluit hardloop. Daai syfers klink dalk teleurstellend, maar die gemiddelde brandstofverbruiksyfer van 5,2 ℓ/ 100km is werklik haalbaar. Ek het meer as 750 km om die gekombineerde siklus 5,7 ℓ/ 100 km gehandhaaf in ʼn groter Lexus ES250h. Die hibridiese stelsel werk puik.

Dit maak gebruik van remkrag om die batterye te herlaai. Daardie krag wat opgewek of herwin word, sal weer ingespan word om die voertuig tot op sy toerspoed te laat versnel. Wanneer daar min lading op die binnebrandenjin is, skakel hy heeltemal af. ʼn Mens kan teen lae spoed die IS as ʼn volle elektriese voertuig gebruik vir omtrent 30 km. Wanneer die battery pap is, skakel die enjin aan en jy vorder met jou reistog sonder enige probleme.

Op die pad staan ʼn paar dinge uit. Dit gehalte van die leer, materiale, vakmanskap en klankstelsel in die Lexus is ongeëwenaard. Die ritgehalte op slegter paaie ook. Geen van die Duitsers kan naby die Lexus se ritgehalte kom nie. Padhouvermoë is in die kol vir die krag wat die dryfstelsel bied. Aan die veiligheidskant loop die Lexus ook sterk voor. Daar is ʼn astronomiese tien lugsakke en daar is al die gewone stelsels soos sluitweerremme, maar dan ook al die aktiewe stelsels soos baanhulp en waarskuwing, aanpasbare spoedkontrole met botsingwaarskuwing en noodremhulp.

Dit is maklik om die Lexus IS op te som. Indien jy ʼn jong lat is wat wil jaag asof jou broek aan die brand is, hou verby. As jy nou al ʼn bietjie smaak gekry het, ʼn lieflike ryding soek met styl en asemrowende gehalte – toetsbestuur beslis ʼn IS. Koppel jou foon, draai toe die ruite en luister jou gunstelingliedjie kliphard. Jy al ooit musiek gevoel op jou lyf? Ek het.

Die reeks lyk só:

Lexus IS300h EX164 kW/ 221 +e Nm5,2 ℓ/ 100 kmR858 100
Lexus IS300h SE164 kW/ 221 +e Nm5,2 ℓ/ 100 kmR917 800
Lexus IS300h F-Sport164 kW/ 221 +e Nm5,2 ℓ/ 100 kmR935 200

Die reeks word gedek deur ʼn 7 jaar/ 105 000 km waarborg en omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk so:

Audi A4 40TFSI S line140 kW/ 320 Nm6,3 ℓ/ 100 km1 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R750 500
Alfa Romeo Giulia 2.0T Veloce147 kW/ 330 Nm5,9 ℓ/ 100 km5 jaar/ 100 000 km waarborg

& omvattende instandhoudingsplan

R869 900
Jaguar XE P250 R-Dynamic HSE184 kW/ 365 Nm6,3 ℓ/ 100 km5 jaar/ 100 000 km waarborg & omvattende instandhoudingsplanR889 524
Mercedes-Benz C300 AMG Line190 kW/ 370 Nm6,9 ℓ/ 100 km2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R892 200
BMW 330d M Sport195 kW/ 580 Nm5,5 ℓ/ 100 km2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R925 500

Lexus het die enigste hibried tussen die mededingers. Die Alfa is net so uniek soos die Lexus maar kan beslis nie sy gehalte ewenaar nie. Die BMW 330d se dieselenjin is ʼn belewenis en sal net so lig op brandstof wees soos die Lexus, maar met baie meer krag wanneer jy dit wil hê. Hier gaan jy deur jou eie smaak gelei moet word – en almal is puik motors.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.