Hier in Suid-Afrika het ons met Kombi’s grootgeword, maar ons het egter altyd op die kassie gesien hoe die Amerikaners met ʼn minivan rondrits. Toe word die Chrysler Voyager in Suid-Afrika bekendgestel en dit was ʼn gewilde konsep – ʼn bus wat nie soos ʼn bus ry nie.
Nou kyk, as die Voyager jou beïndruk het maar jou smaak is meer Mercedes V-klas, dan dink ek is die Kia Carnival in die kol. Dit is ʼn sewesitplek-gesinsvoertuig wat elke luuksheid bied.
Wanneer ek die kinders vervoer is daar twee dinge waaroor ek gek is – individuele sitplekke en skuifdeure. Dan kan ons almal lekker ver uitmekaar skuif, en die kinders kan nie ander voertuie met die deure kap nie. Die Carnival het nog ʼn reusekattebak ook by, én die middelste ry sitplekke kan omdraai sodat almal wat agter ry na mekaar kan kyk.
Twee probleme waarmee bussies gewoonlik sit is óf te min krag óf ʼn onlesbare dors as dit kom by brandstofverbruik. Die Carnival se nuwe 2.2 viersilinderturbodiesel het nie een van die kwale nie. Ons het puik brandstofverbruik behaal met soveel as 7 ℓ/100 km op die toetsroete, én die Carnival het ʼn paar lang bene met baie effektiewe naelloopskoene. Hy haal maklik 190 km/h. Die enjin bied 148 kW en 440 Nm… werklik indrukwekkend.
Dit is egter op die pad waar die som van die Carnival se onderdele egter meer word as net ʼn voertuig. Dit is ʼn mooi, gemaklike ervaring met uitmuntende veiligheidstelsels om jou gesin mee te vervoer en ons pragtige land vol te toer terwyl mens herinneringe bymekaar maak. Die voorste sitplekke is verhit én verkoel, die klimaatbeheer werk soos ʼn droom én die spoedkontrole is aanpasbaar mét baanhulp.
Die vering is lekker gemaklik, en die padhouvermoë beter as wat ʼn mens ooit van ʼn bussie sal benodig. Daar is sewe lugsakke en ʼn reusesuite van aktiewe veiligheidstelsels soos blindekolwaarskuwing en noodremhulp.
Ons het omtrent 700 km met die Carnival in die Kaap getoer, eers van Port Elizabet tot in Plettenbergbaai, toe van Mosselbaai tot in Kaapstad. Dit was snikkend warm in die Kaap, en die Carnival was ʼn aangename 20 grade in die kajuit. Dit is ʼn fantastiese voertuig om mee te toer. Hy kan 1,5 ton sleep, so ons gaan poog om hom in April te gebruik om die woonwa Suidkus toe te sleep.
Die reeks lyk só:
Kia Carnival 2.2CRDi EX outo 7-sitplek | R799 995 |
Kia Carnival 2.2CRDi EX+ outo 8-sitplek | R879 995 |
Kia Carnival 2.2CRDi SX Limted outo 7-sitplek | R999 995 |
Kia Carnival 2.2CRDi SXL outo 7-sitplek | R1 024 995 |
Die reeks word gedek deur ʼn ongeëwenaarde 5 jaar/onbeperkte km-waarborg en 6 jaar/90 000 km-omvattende instandhoudingsplan.
ʼn Mens moet opmerk dat die omvattende instandhoudingsplan en onbeperkte km-waarborg kop en skouers bó meeste mededingers uitstaan. Ons sal weer tyd met die Carnival deurbring en hom dán met sy mededingers vergelyk.
Kia het te duur begin word.
Daar is baie beter voertuie om van te kies in die Miljoen klas reeks.