Volkswagen is ʼn uiters gewilde handelsmerk onder Suid-Afrikaners en daar word maandeliks derduisende Polo’s en Polo Vivo’s verkoop.
Toe kom sy klein B-segment-sportnutsvoertuig, die T-Cross. Aanvanklik was ek beïndruk deur die rit en gevoel van die platform waarop die T-Cross gebou word, maar ek was nie uitgeboul deur van die materiale in die binneruim nie, spesifiek die deurkaarte. Ek is ook nie mal oor die 1.0-driesilinderturbopetrolenjin wat gepaard gaan met sy DSG-dubbelkoppelaar- outomatiese ratkas nie. Dit is nie die enjin óf die ratkas wat pla nie maar eerder die programmering van die ratkas. Hy is geprogrammeer om die omwentelinge so laag moontlik te hou en dit laat die T-Cross traag en stadig voel.
Ek het wel onlangs ʼn beurt met die T-Cross 1.0TSI 70 kW Comfortline, handratmodel, gekry. Dit is die intreemodel in die reeks en na my sin die beste van die lot.
Die T-Cross se ontwerp bly oulik. So halfpad tussen konserwatief en modern. Dit lyk meer soos ʼn sportnutsvoertuig as ʼn luikrug en dit is waaroor mense nou mal is. Die binneruim pla minder by dié model omdat hy heelwat meer bekostigbaar is.
Die sitplekke is uiters gemaklik, en die bestuursposisie aangenaam. Volkswagen se voertuie het die gawe om baie ruim te voel al is die voertuig se proporsies nie enorm nie. Die inligtingstelsel werk goed en is met Android Auto en Apple CarPlay toegerus. Nóg iets waarvan ek hou, is die lugreëling. Dit werk met die hand en is nie ʼn klimaatbeheerstelsel nie.
Onder die kap skuil dieselfde 1.0-driesilinderturbopetrolenjin wat in die res van die reeks is. Hy bied 70 kW en 175 Nm. Wat die groot verskil maak, is die handrat. Mens kan baie lekkerder gebruik maak van die enjin se beste eienskappe – lae brandstofverbruik indien die omwentelinge laag is en sterk krag as mens so om en by 2 500 r/min bly.
Die ritgehalte en padhouvermoë is nog ʼn sterkpunt van die T-Cross. Die rit is soepel genoeg om gemaklik te wees, maar ferm genoeg om goeie padhouvermoë te bied – ʼn puik balans. Aan die veiligheidskant bied die T-Cross ses lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding en -stabiliteitsbeheer.
Dit is bitter maklik om dié spesifieke T-Cross op te som. Hy is dalk die intreemodel in die reeks, maar verreweg die lekkerste.
Die reeks lyk só:
Volkswagen T-Cross 1.0TSI 70kW Comfortline | 70 kW/175 Nm | 4,8 l/100 km | R365 100 |
Volkswagen T-Cross 1.0TSI 85kW Comfortline DSG | 85 kW/200 Nm | 5,3 l/100 km | R407 300 |
Volkswagen T-Cross 1.0TSI 85kW Highline DSG | 85 kW/200 Nm | 5,3 l/100 km | R443 800 |
Volkswagen T-Cross 1.5TSI 110kW R-Line | 110 kW/250 Nm | 5,5 l/100 km | R481 700 |
Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/120 000 km-waarborg en 3 jaar/45 000 km-diensplan.
Die kompetisie lyk só:
Kia Sonet 1.5 EX | 85 kW/144 Nm | 7 l/100 km | 5 jaar/onbeperkte km-waarborg 4 jaar/60 000 km-diensplan | R305 995 |
Hyundai Venue 1.0T Motion | 88 kW/172 Nm | 6,5 l/100 km | 5 jaar/150 000 km-voertuigwaarborg 7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg 3 jaar/45 000 km-diensplan | R320 900 |
Ford EcoSport 1.0T Trend | 92 kW/170 Nm | 5,4 l/100 km | 4 jaar/120 000 km-waarborg Diensplan opsioneel | R351 600 |
Mazda CX3 2.0 Active | 115 kW/206 Nm | 6,9 l/100 km | 3 jaar/onbeperkte km-waarborg en diensplan | R367 900 |
Peugeot 2008 1.2T Active | 74 kW/205 Nm | 6,4 l/100 km | 5 jaar/100 000 km-waarborg 3 jaar/60 000 km-diensplan | R381 900 |
Tussen dié mededingers het die Kia en Mazda atmosferiese enjins sonder turbo’s. Die Venue is ʼn puik voertuig teen die prys, maar die Volksie net so lekker. Gaan toetsbestuur almal, want elkeen is lekker en het iets unieks om te bied.
Jammer, maar ‘n 1000cc ryding is nie R400 000.00 werd nie.