Die motorfietsbedryf is oop vir sake

Die Suzuki GSX 250 R. (Foto: Verskaf.)

Midde-in die pandemie het ek onlangs ʼn interessante oproep gehad van Arnold Olivier, nasionale direkteur van AMID (Association of Motorcycle Importers and Distributors).

Dié organisasie het oor die jare samesprekings met die regering gevoer oor verskeie kwessies en verteenwoordig die motorfietsmark in sy geheel. Byvoorbeeld, die kwessie dat motorfietse gratis by alle Gautrein-stasies parkeer, was een van AMID se inisiatiewe.

Vanaf 1 Junie is die motorfietsbedryf weer aan die gang, al moet jy nou ʼn masker dra en jou hande by die deur ontsmet. Sommige motorfietshandelaars wat in Mei aanlyn verkope kon doen, het verbasend goed gevaar, gegewe die onsekerheid van die staat van inperking.

Die Covid-19-pandemie het ʼn verwoestende uitwerking op die Suid-Afrikaanse ekonomie in bykans elke sektor, en die uitwerking hiervan sal nog vir die komende jare gevoel word. Op webwerwe wat voertuie verkoop, is daar ʼn beduidende toename in die aantal verbruikers wat na goedkoper voertuie soek. Dit dui onder meer aan dat verbruikers na maniere soek om hul uitgawes te besnoei.

Dit is dus nou net die regte tyd vir verbruikers om te besef dat motorfietsry ʼn oplossing kan wees vir hul vervoervereistes, asook hul maandelikse uitgawes kan verminder.

Olivier het verduidelik dat praktiese, ekonomiese en betroubare motorfietse en bromponies beskikbaar is vanaf slegs R15 000. Vir ʼn bedrag van R20 000 kan iemand ʼn splinternuwe bromponie, helm, baadjie en handskoene koop en geld oorhê vir ʼn opleidingskursus. Ek besef ons Suid-Afrikaners is baie gesteld op status, maar as die finansies druk, is daar nie tyd om jou te bekommer oor wat die bure sal dink nie.

Tussen R40 000 en R90 000 raak die keuses heelwat meer, self in die sub-500 cc-klas. Met hierdie fietse kan jy gemaklik pendel en snelwegsnelhede sonder probleme handhaaf. Hierdie eenhede het gewoonlik ʼn waarborg van twee jaar sonder beperkte kilometers, en sluit bekende handelsmerke in soos BMW, Honda, Husqvarna, Kawasaki, KTM, Kymco, Suzuki, SYM en Yamaha.

Motorfietse by ‘n Yamaha-handelaar. (Foto: Verskaf.)

Olivier het ʼn praktiese voorbeeld genoem: iemand wat byvoorbeeld 15 km vanaf die werk woon en ʼn voertuig gebruik met ʼn brandstofverbruik van 10 ℓ/100 km, sal ʼn jaarlikse brandstofkoste van ongeveer R21 000 hê. ʼn Motorfiets of bromponie met ʼn klein kapasiteit wat ongeveer 3 ℓ/100 km gebruik, sal ʼn jaarlikse brandstofkoste van ongeveer R3 500 hê. Met die besparing in brandstof kan die motorfiets oor twee jaar afbetaal word, en die instandhouding en versekering gedek word.

Aangesien rentekoerse onlangs verlaag is, bied motorfietshandelaars aantreklike finansieringsopsies aan wat beskikbaar is deur verskillende finansieringsmaatskappye landwyd.

Dan is daar die tydbesparing. Daardie tipiese rit van 15 km duur waarskynlik tussen 45 minute en een uur in spitsverkeer in ʼn motor, maar maksimum 20 minute op ʼn motorfiets. Dit is ʼn minimum tydbesparing van een uur per dag en dus ongeveer 250 uur per jaar. Dink net, 10 hele dae! Mense wat inkomste per uur verdien, kan maklik die koste van ʼn motorfiets verhaal deur ʼn uur per dag ekstra te werk. Of jy kan meer tyd afstaan aan ontspanning of gesinsaktiwiteite.

Hoewel daar ʼn algemene opvatting is dat motorfietse gevaarlik is, is die werklikheid dat die ryer die risiko’s baie makliker kan bestuur as wat baie mense besef. Basiese opleiding is die eerste stap. Die tweede stap is korrekte veiligheidstoerusting. Die grootste bydrae tot veiligheid is egter die houding van die ryer teenoor ander padgebruikers en omstandighede. ʼn Aggressiewe ryer wat mense wil intimideer of beïndruk, is ʼn groot gevaar vir homself. ʼn Ryer wat motors in ag neem en DINK terwyl hy ry, sal toepaslike voorkomende maatreëls tref terwyl hy ʼn motorfiets bestuur.

Die verkryging van ʼn lisensie is ook nie die gruwelverhaal wat dit voorheen was nie. Dis deesdae maklik om aanlyn ʼn eksamendatum te bekom. Jy hoef ook nie met ʼn motorfiets parallel- of gangparkering te doen nie.

Pendelaars wat openbare vervoer gebruik, kan die aankoop van ʼn motorfiets ietwat meer uitdagend vind weens finansiële beperkings. Die voordele van mobiele onafhanklikheid is egter onmeetbaar.

Covid-19 gaan vir die afsienbare toekoms ʼn groot invloed hê op ons daaglikse optrede. Motorfietsry is een van die beste maniere om sosiale isolering te beoefen, en persoonlike vryheid te geniet. Onthou net, motorfietsry hoef nie ʼn kwartmiljoenrand-belegging te wees nie. Dit maak nie saak waarmee jy ry nie, die wind en die vryheid is dieselfde!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jinxy ·

Ek en my man ry elk ons eie kan nie die gevoel van vryheid beskryf nie! Beplan reeds ons eerste road trip sodra ons grense mag oorsteek hoopvol dat dit baie gou sal gebeur

Shady ·

Wit olifant. Staan in motorhuis en stof vergader. Te koud om in die winter te ry

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.