Die motormark in Indië en wat dit vir SA beteken  

Foto: Verskaf

Maroela Media was onlangs saam met Suzuki Suid-Afrika in Indië by Maruti Suzuki India Limited. Ons was daar vir twee redes – die een was ʼn produkbekendstelling van die Suzuki S-Presso wat binnekort in Suid-Afrika beskikbaar sal wees. Die ander was om ʼn beter idee te kry van wie Maruti is, en waar hulle in die groter Suzuki-prentjie pas en dan weer waar Suid-Afrika inpas.

Wat ek in Indië ontdek het, is niks minder as asemrowend nie. Indië het ʼn bevolking van 1,3 miljard en daar is wydverspreide armoede. Daar is egter ook nou ʼn ontluikende middelklas, en hulle wil motors hê.

In Suid-Afrika word daar sowat 550 000 motors per jaar verkoop. Dit sluit kommersiële voertuie in. Maruti Suzuki vervaardig vier keer soveel per jaar in hul drie aanlegte in Indië. Die grootste gedeelte daarvan is vir plaaslike gebruik in Indië. Ons grootste handelaarnetwerk in Suid-Afrika met ʼn goeie marge is Toyota met 264 handelaars reg oor die land. Maruti Suzuki het meer as 4 100 handelaars in Indië en ʼn markaandeel van 51,2%. Ek dink nie daar is ʼn vervaardiger elders ter wêreld wat dit kan klop nie.

Foto: Verskaf

Maruti Suzuki het in 1981 tot stand gekom. Dit was ʼn ooreenkoms tussen Suzuki Japan en die Indiese regering. Die regering het 51% van die maatskappy besit en hulle het met die Maruti 800 begin – ʼn voertuig wat hulle dekades lank gebou het en eers in 2013 opgehou vervaardig het.

Maruti, ʼn filiaal van Suzuki Japan, vervaardig nou meer voertuie as die hoofmaatskappy. Mannekrag in Indië is bekostigbaar, én die bootvaart van Indië na Suid-Afrika is baie korter as van Japan.

By die Manesar-aanleg in Delhi word daar drie voertuie gebou. Suzuki se Ignis, Baleno en nou die nuwe S-Presso. Daar is drie lyne wat parallel loop en die voertuie is deurmekaar op albei. Die parkeerterrein by die aanleg het plek vir 30 000 motors. Dit is twee weke se produksie.

Die punt wat ek probeer maak is dat Indië ʼn reuse-aptyt het vir motors. Meer as wat Suid-Afrika ooit kan dink. Maruti kan waarskynlik nie enigsins ʼn groter markaandeel kry in Indië nie, maar kan in internasionale markte groei. Suid-Afrika is nie só ver nie, en het ook ʼn behoefte aan bekostigbare gesinsbuksies.

Foto: Verskaf

Ná die bekendstelling van die S-Presso volgende maand sal Suid-Afrika Maruti Suzuki se grootste uitvoermark wees. Dit maak ons hul grootste kliënt. Dis goeie nuus want dán begin hulle werk om ons tevrede te hou en ons mark in gedagte te hou wanneer hulle motors ontwerp. Een van die gewenste uitwerkings wat ek hoop dit tot gevolg gaan hê, is dat verteenwoordigers van Indië wat hier sal wees vir bekendstelling, sal sien dat Suid-Afrikaners redelik vinnig ry en dat hulle dié inligting aan die ingenieurs sal oordra.

Foto: Verskaf

Terug na die punt. Ons betaal bitter baie vir ons voertuie in Suid-Afrika – tot soveel as 44% van ʼn ingevoerde voertuig se prys is belasting. Die Suzuki wat jou R180 000 uit die sak jaag kos dus eintlik net sowat R100 000. Die enigste land wat vir ons in hierdie stadium billike rygoed kan bied vir daai tipe geld is Indië. China probeer ook – maar baie van hul voertuie is nie billike gehalte nie. Dit is hoekom heelparty van ons voertuie daarvandaan kom. Die hele Suzuki-reeks behalwe Jimny, Swift Sport en Vitara kom van Indië. Motors soos Toyota se Etios, Ford se Figo en so meer kom ook almal van Indië.

Daar is ʼn ander voertuig wat ek in Indië gesien het – Suzuki se Vitara Brezza. Dink aan Volkswagen se T-Cross. Ek het my bes probeer om die manne daar onder druk te plaas om met die sak patats vorendag te kom, maar hulle het net kop geskud … maar die manier waarop hulle hul koppe geskud het sê vir my dat ons die Brezza in die toekoms hier in SA sal sien … en dit maak my nog meer opgewonde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Leon ·

Totaal onbekostigbaar. Net vir die rykes. Nie die middelklas persoon nie. Nie die prys werd nie.

Wielspore ·

Indië het ‘n baie kraetiewe motor vervaardigings mark en dit is opmerklik dat die veiligheids standaarde en veliligheids toerusting van motors in die laaste tyd baie verbeter het. Ons het ongelukkig slegte ervaring met ‘n Suzuki handelaar en Suzuki SA gehad wat vertroue gebreek het. Ek dink nog dat SA self ‘n goedkoop voertuig kan bou vir dorp en stedelike gebruik. Klein voertuig wat 4 mense maklik en ekonomies tussen kort afstande kan vervoer. Basiese sitplekke, klein enjin, klein kattebak, bakwerk ook basies, bumpers is deel van die bakwerk, deure het nie binne panele, skuif kantruite. Spoedmeter, olie lig, alternator lig, toeter, een spoed ruit veer. Prys hom vir minder as R80K en hy verkoop soos soetkoek. Kinders kan met hom skool toe ry, ouers ry met hom werk toe, koop basiese kruideniersware, ry gou gym toe, skool sport.
Noem hom Koloyi (Motor in Sotho)
Lekker ry.

Willie ·

Nou ja dit ondersteun my teorie dat daar meer van dieselfde gaan wees met slegs n ander “body”. So die kar wat jy ry is nie meer suiwer nie maar n vermenging van vele ander. So hou maar op spog .

andre ·

Ten spite van al die belasting is SA steeds bankkrot !Indie se motors is baie geskik vir ons swak padtoestande aangesien hulle landelike paaie ook swak is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.