Dié motors is die ligste op jou brandstofrekening

Foto ter illustrasie. (Foto: iStock)

Suid-Afrikaanse verbruikers is weens die oënskynlik nimmereindigende verhoging van brandstofpryse daagliks op soek na maniere om hul maandelikse uitgawes beter te bestuur en indien moontlik verminder.

Dié besparing is veral belangrik wanneer dit kom by voertuie aankoop en hoewel ʼn voertuig soos ʼn piepklein luikrug (hatchback) ideaal vir die sak is, is dit nie noodwendig geskik vir almal se leefstyl nie.

“Uiteindelik kom dit alles neer op balans tussen jou behoeftes en begroting. Brandstofpryse sal waarskynlik in die afsienbare toekoms hoog bly, so dit maak sin om brandstofuitgawes en -doeltreffendheid in ag te neem wanneer jy ʼn voertuig kies,” sê Rikus Blomerus, bemarkingsbestuurder van WeBuyCars.

“Die frekwensie van brandstofprysstygings is ʼn werklike uitdaging vir verbruikers en hoewel ons tans min beheer oor die situasie het, kan mense hul maandelikse begroting beter bestuur deur ʼn brandstofdoeltreffende voertuig te bestuur. Daar is egter baie om te oorweeg in elke voertuigkategorie,” sê Blomerus.

Hoe om te bepaal of ʼn voertuig brandstofdoeltreffend is

As jy nog soms hieroor wonder, die formule wat dikwels gebruik word, is om brandstofverbruik in ℓ/100km te bereken: (ℓ gebruik X 100) ÷ km afgelê = ℓ per 100 km.

’n Voertuig se brandstofdoeltreffendheid word dus as goed beskou as dit sowat vyf tot agt liter per 100 km gebruik. ʼn Voertuig wat agt tot 12 ℓ per 100 km gebruik, word beskou as gemiddeld en enigiets wat meer as 12 liter per 100 km gebruik se brandstofdoeltreffendheid word as swak beskou.

WeBuyCars het hul huiswerk gedoen en op grond hiervan die volgende voertuie vir hul uitstekende brandstofdoeltreffendheid uitgewys.

Motors

  • Toyota Aygo 1.0 (4,3 ℓ per 100 km)
  • Renault Kwid Dynamique outomaties (4,4 ℓ per 100 km)
  • Volkswagen Polo Vivo 1.0TSI GT (4,6 ℓ per 100 km)
  • Kia Picanto 1.0L (5,1 ℓ per 100 km)
  • BMW X3 20D (5,4 ℓ per 100 km)

Sportnutsvoertuig (SUV)

  • Ford EcoSport 1.5 TDCi Ambiente (4,6 ℓ per 100 km)
  • Renault Duster 1.5dCi Zen outomaties (4,8 ℓ per 100 km)
  • Volkswagen T-Cross 1.0TSi 70kW Comfortline (4,8 ℓ per 100 km)
  • Kia Seltos 1.5 CRDi EX (5,1 ℓ per 100 km)
  • Suzuki Ignis 1.2 GL (5,1 ℓ per 100 km)

Bakkies

  • Ford Ranger 2.2 DCI dubbelkajuit (6,5 ℓ per 100 km)
  • Nissan Navara (6,8 ℓ per 100 km)
  • Toyota Hilux 2.4GD-6 dubbelkajuit (7,1 ℓ per 100 km)
  • Mitsubishi Triton (6,7 ℓ per 100 km)
  • Isuzu D-Max 250 dubbelkajuit (7,7 ℓ per 100 km)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

VaalDonkie ·

Ek sit in die bootjie waar my kar BAIE swaar op petrol is, maar my petrol rekening elke maan is minder as wat ‘n klein karretjie per maand sou kos. So ek karring maar aan. Tans bestee ek R1000 per maand aan petrol om 350km te ry. Maar geen van die genoemde “lig op brandstof” karretjies kan vir daai bedrag gefinansier word nie. So ek is oukei.

Kokerboom ·

Die Mercedes Benz C220d (alhoewel duur) lewer ‘n verbruik van onder 5l/100km

Wondermaarnet ·

Ek het vir my ‘n kleiner voertuig aangeskaf en dit was die beste koop ooit. Van 11km op ‘n liter is ek af na 23-25km op ‘n liter.

Nella ·

Ek ry presies daardie Ford Ecosport en dit is alles behalwe lig. Al hou ek by 100km alliepad. Dit was gewoonlik 5.9. Nou na die diens het dit sommer geklim na 6.3.

Sparkie ·

Persoonlik dink ek nie hierdie is n goeie artikel nie en lig slegs ligte voertuie uit wat hulle wil verkoop. Die artikelnaam: Ligste voertuie.
Motors: Fiat 500: 4.0 L/100km, Suzuki Celerio 4.2 auto en 4.4 handrat, Suzuki Swift en Dzire 4.9L
SUV: Mahindra Kuv 100 diesel 4.3L/100 km Mahindra XUV 300 diesel 5.0 L per 100 km

Ek vermoed iemand het nie huiswerk gedoen nie

Koos 100 ·

WBC het die vervaardigers syfer gebruik. Dit is glad nie akuraat nie. Die syfers word bereik in ‘n labatorium in uiters bestuurde omstandighede. Ek het 2 voertuie soos hierbo vermeld en sal my voortande gee vir die verbruik.
My verbruik is in gekombineerde omstandighede, sowat 60% stad en 40% hoofweg gemeet oor die afgelope 7 maande en sowat 15 vol tenks, is as volg:
Renault Kwid auto AMT 14,6 km per liter = 6.85 liter per 100km
Ford Ranger 2.2 D/C 8.26 km per liter = 12.1 liter per 100km.

Hennie ·

Dit sou dalk meer waardevol gewees het om ook aan te dui wat dit jou sal kos om een van hierdie brandstof vriendelike motors aan te skaf.

Racheltjie Debeer ·

We Buy Cars, waar is die Suzuki Celerio en Dezire? As jul huiswerk reg gedoen is, sou die Celerio bo-aan die lys gewees het.

Miskruier ·

Klein goedkoop motortjies, maar oh wee as jy in n ongeluk is, is jou kans goed om ernstig beseer of dood daaruit te kom.

Danie ·

Ek glo dit nie. Van die voertuie wat hulle noem is swaarder en dan is daar voertuie wat nie genoem word wat ligter op brandstof is. Asb WeBuy Cars doen beter huiswerk en plaas dan jul verslag.

VannieBaai ·

Ek is mal oor my Renault Kwid al het hy net ‘n 1.0L enjin.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.